Die Nelson Mandela Universiteit se alumnuskantoor het onlangs ’n gesprek gefasiliteer om Songezo Zibi se boek Manifesto, a new vision for South Africa toe te lig.
Paul Geswindt, direkteur van alumnusbetrekkinge
Die bespreking het in die South End Museum in Gqeberha plaasgevind.
Zibi, of dan Bra Son soos hy hier in Gqeberha bekendstaan, het die “professionele klas” uitgedaag om betrokke te raak by hulle gemeenskap. Sy vraag aan elkeen in die gehoor was: Wat gaan jy doen om jou omgewing te verbeter?
Die South End Museum was ’n gepaste plek vir ’n gesprek oor omgewingsopheffing, want vir diegene wat dit nie weet nie, South End was vir (die toenmalige) Port Elizabeth presies wat Distrik 6 was vir Kaapstad, ’n plek van gedwonge verskuiwing. Soos in Kaapstad lê daar ook nou ’n stuk aarde kaal as ’n stille protes teen die vernietiging van ’n eens multikulturele omgewing.
Zibi het nie politieke munt probeer slaan uit die geskiedenis of die situasie waarin die land sigself bevind nie, maar hy het wel harde woorde gehad en het die gehoor uitgedaag.
Maar wie is Songezo Zibi?
Songezo Zibi
Songezo Zibi het grootgeword in die Oos-Kaapse platteland, in Gqeberha gestudeer en het ’n ruk lank vir Volkswagen gewerk in hulle skakelafdeling. Daarna was hy betrokke by Xstrata, ’n mynmaatskappy, maar het uiteindelik naam gemaak as joernalis. Vir die Financial Mail was hy ’n mederedakteur, en vir Business Day word hy toe redakteur.
Oor sy tyd by Business Day vertel Zibi hoe gereeld mense hom vertel het van die regering se betrokkenheid in korrupsie, en dan altyd met twee versoeke:
- Moenie my naam noem nie, want daar is mense wat my sal doodmaak.
- Maar as ek doodgemaak sou word, vertel die storie.
In 2016 het hy bedank en het uiteindelik in 2021 die Rivonia Circle gevorm, ’n groep wat ’n verskil wil maak in Suid-Afrika deur gemeenskappe op te hef (https://rivoniacircle.org/why-the-rivonia-circle).
Demokrasie is hulle doelwit.
Die webruimte verwys na die Griekse woord demos (mense) en die Manden Manifes, wat reeds in 1236 in Mali aangeneem is en deesdae deur Unesco as een van die oudste grondwetlike konsepte in menseheugenis erken word.
Bra Son vir president?
Onder talle professionele mense in Gqeberha is daar ’n mate van opwinding en afwagting oor Zibi. Of om dit duideliker stel: Onder talle Xhosasprekende professionele mense is daar groot verwagtinge rondom Zibi. Die vraag ontstaan in binnekamergesprekke of hy uiteindelik ’n presidentskandidaat kan wees.
Die plaaslike intelligentsia erken in klein groepies, party selfs in die openbaar, dat die ANC nie sigself, of vir Suid-Afrika, gaan probeer red nie. Zibi sê ook prontuit die Radical Economic Transformation-drukgroep se enigste doelwit is om hul eie bankbalanse radikaal te transformeer.
Die Nelson Mandela Metro, waaronder Gqeberha val, is tans opgesaal met ’n koalisieregering wat totaal oneffektief is, want niemand neem besluite nie.
Ontnugtering is dus deel van die samelewing in die Baai.
Die oplossing is egter nie duidelik nie, want die DA en die EFF, tans die enigste noemenswaardige opposisiepartye, het hulself reeds van die kiesers vervreem weens onbeholpe leierskap en binnepolitiek. Die UDM en Cope, wat eens voetspore in die Oos-Kaap gehad, se dae is getel.
ActionSA, Herman Mashaba se groen masjien, kry wel traksie, maar daar is baie ernstige bedenkinge oor sy uitsprake rakende buitelanders. Boonop is dit ’n ope vraag of ActionSA nie maar bloot ontnugterende DA-kiesers na sigself gaan lok nie.
Meer onlangs was daar die omstrede Mogoeng Mogoeng wat skynbaar uit die hemel gehoor het hy moet president word; maar hy word nie ernstig opgeneem nie.
Alles in ag genome dus, geen wonder nie dat daar onder sommige plaaslike inwoners opwinding in die binnekamers is oor ’n boorling van die Oos-Kaap wat homself teen die vergrype van die huidige regering uitspreek – skynbaar sonder vrees – en met ’n wekroep aan elkeen om ’n verskil te wil maak.
...
Dis maklik om die aantyging van die “clever blacks” af te maak, gegewe dat dit kom van diegene wat hulself probeer verryk en dus nie kritiek wil hê nie. Tog is die vraag ook implisiet hoekom wit mense dan die reg het om alles te analiseer en aanhoudend kritiek uit te spreek sonder om self betrokke te raak by die oplossing.
...
Is dit egter wat Songezi Zibi self sê?
Zibi se eerste boek was Raising the bar, sy tweede boek is onomwonde getiteld: Manifesto.
In Manifesto is daar twee sinne wat nogal gereed in verskeie media aangehaal word: “I am prepared to lead, for I know there will be no anointed Messiah at any point in the future. This includes running for president.”
Zibi het egter ’n baie ander boodskap gebring toe hy in Gqeberha se South End Museum opgetree het.
Ten eerste het hy gesê hy gaan nie oor die boek praat nie, want hy wil hê mense moet dit koop.
Ten tweede was sy boodskap hard en duidelik: Die “professionele klas” moet hul sokkies optrek en deel word van die land se oplossing.
- Begin in jou eie straat.
- Leer jou bure ken.
- Maak reg daar waar jy bly.
- Raak betrokke.
Zibi het nie een keer verwys na sy eie politieke aspirasies nie, maar daar was ’n duidelike wekroep dat professionele mense hulself moet beskikbaar stel om aan politieke aktiwiteite deel te neem. Ons kan nie almal bloot kla nie, was sy boodskap. Gaan dien. Gaan sit self in die parlement. Al is dit ook net een termyn. Gaan maak ’n verskil.
Interessant genoeg is Zibi se boek baie uitgesproke oor ons kiesstelsel. Hy verklaar dat mense weer moet stem vir individue vir wie hulle verantwoordbaar kan hou. Tog het hy die aand in Gqeberha gesê dat hy, sedert die boek verskyn het, begin besef het dat om bloot weer terug te gaan na kiesafdelings, ook nie die regte besluit sal wees nie.
Zibi dink dus op sy voete, hy erken sy eie tekortkominge, en hamer daarop dat passiewe kritiek nie die land gaan red nie. Ons enigste hoop is om die professionele klas te mobiliseer.
Wie of wat is die professionele klas?
Zibi het gesê enige persone wat opleiding van enige aard het, moet hulself as bevoorreg beskou en moet dus begin moue oprol in hul eie gemeenskap. Die aand se gesprek is gereël deur die Nelson Mandela Universiteit. Dit was dus nie ‘n politieke forum nie en die meeste mense wat dit bygewoon het, sou dus waarskynlik ’n vorm van tersiêre opleiding hê.
Meer nog, vir Zibi is dit belangrik dat mense moet besef ’n stuk papier is nie die rede vir tersiêre opleiding nie. Vir hom gaan opleiding oor die skep van vaardighede wat ’n verskil aan die gemeenskap kan maak.
Hy sê dit oor homself: Sy opleiding het gemaak dat hy ’n werk kon kry by Volkswagen, toe by ’n mynhuis, daarna as ’n koerantman en nou in ’n totaal ander posisie.
Teenoor die bevoorregte klas, wat vaardighede het, stel Zibi die armes, wat deur ons regering versaak word. Ons moet eerlik wees, sê hy, dat mense met geen opleiding of vaardighede nie, nie vir hulself kan werk skep nie, al wil hulle hoe graag. Is ons verbaas dat hulle betoog?
“Gebruik dus jou opleiding,” sê Zibi aan die gehoor. “Watter verskil kan jy maak?”
In die spore van groot leiers
Ongama Mtimka
Zibi het geen aanspraak op partypolitieke leierskap gemaak nie, maar Ongama Mtimka, verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit se Departement Geskiedenis en Politieke Studies, het ’n verband getrek tussen Zibi se oproep aan opgeleide mense en enkele politieke leiers uit die verlede.
Hy het begin deur ’n Xhosaspreekwoord te gebruik wat beteken: As jy die oproep hoor, rus daar ’n verpligting op jou.
Mtimka het toe daarop gewys dat die sendingkolleges in die vroeë koloniale tydperk moeite gedoen het om leiers in en uit die gemeenskap op te lei. Dit het tot gevolg gehad dat van daardie leiers die koloniale tydperk begin bevraagteken het.
Teen die 1960’s was daar ‘n volgende groep, onder wie Nelson Mandela, wat hulle opleiding gebruik het om aktief teen die status quo op te staan.
Nog ’n volgende generasie het leiers soos Steve Biko tot gevolg gehad, heelwat meer radikaal en uitgesproke as die Mandela-generasie.
Mtinka het toe hierdie leiers wat hulle opleiding gebruik het om ’n verskil te maak, in verband gebring Zibi se oproep aan opgeleide mense om ’n ook verskil te maak. Die oproep is gedoen. Die verpligting is dus nou op die skouers van diegene wat dit gehoor het.
Wat van Marx se werkersklas en die “clever blacks”?
Christi van der Westhuizen
Christi van der Westhuizen, ’n skrywer, politieke ontleder en medeprofessor by die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie aan die Nelson Mandela Universiteit, het die gesprek gefasiliteer.
Sy het ook twee vrae aan Zibi gestel:
- In jou boek praat jy oor ’n “fundamental reset” wat nodig is vir Suid-Afrika, en vra jy die professionele klas om dit te dryf. Wat dan van die Marxistiese siening dat dit die werkersklas sou wees wat revolusie tot gevolg sal hê?
- En wat dink jy van die kritiek op die sogenaamde “clever blacks” wat teen die regering opstaan?
Zibi het oor die tweede vraag gesê dis maklik om die aantyging van die “clever blacks” af te maak, gegewe dat dit kom van diegene wat hulself probeer verryk en dus nie kritiek wil hê nie. Tog is die vraag ook implisiet hoekom wit mense dan die reg het om alles te analiseer en aanhoudend kritiek uit te spreek sonder om self betrokke te raak by die oplossing. Die aantyging dat kritici van die regering “clever blacks” is – en dus optree soos wit mense – moet dus vir almal ’n wekroep wees dat kritiek alleen nie gaan help nie.
Wat die werkersklas betref, sê Zibi dit sal gebeur in enige samelewing dat die werkers uiteindelik alles sal probeer afbreek wat hulle weerhou van deelname aan die ekonomie. Wat anders kan hulle doen?
Die vraag is egter: Wat help dit om alles af te breek as daar nie ’n alternatief is nie? Vandaar sy oproep dat diegene wat opgelei is en vaardighede het, ’n verskil moet maak, juis ook om die werkersklas ter wille te wees.
Daarom is opleiding noodsaaklik: As die nodige verskil gemaak kan word deur ’n professionele klas wat uiteindelik die werkersklas tot voordeel kan wees, is die geld wat spandeer is in die opleiding van die professionele klas, dus tot voordeel van almal.
Indien die professionele klas egter hul opleiding slegs tot voordeel van hulself gaan gebruik, sal diegene met geen opleiding nie in opstand kom, want hulle sal nie ’n ander opsie hê nie.
Meer oor Zibi se boeke
Raising the bar
Picador Africa
9781770103689
Manifesto, a new vision for South Africa
Pan Macmillan South Africa
9781770107984