Eben Venter se roman, Decima, wat handel oor renosterstropery, is baie onlangs bekroon met die Hertzogprys vir letterkunde, die hoogste eer wat ’n boek in die Afrikaanse letterkunde te beurt kan val. Willemien Green het by ’n renosterbewaarder gaan inloer.
*
“Gee my net ’n paar minute,” sê Justin Terblanche en hardloop dan soos ’n wafferse Tarzan die veld in.
Hy is in khaki geklee en sy lang blonde poniestert wapper agter hom soos hy hardloop. Aan die kant van sy kop is die hare afgeskeer en sy baard laat hom ouer as sy 26 jaar lyk.
Ons sit en wag in die oop viertrekvoertuig en kommunikeer met fluisterstemme. Die opwinding is tasbaar.
“Is this guy for real?” wonder ’n Amerikaanse toeris hardop. Hý is deel van die groep wat vandag die Lombardini-wildsplaas, waar die Kouga Rhino Sanctuary geleë is, besoek.
Dan sien ons dit. Eers net vyf donker kolletjies teen die horison wat al duideliker word, een eintlik net ’n strepie en die ander vier sommer baie groter kolle.
Dis Justin en vier renosters! ’n Toneel wat mens gewis nie aldag sien nie en ons na asem laat snak.
Soos wat hulle stadig naderkom, praat ons al hoe sagter.
Eindelik is hulle by ons. Net ’n draadheining skei ons nou van die skraal jong man en die enorme diere wat nou rondmaal en proes-proes die laatmiddag lug in.
“’n Renoster kan ’n voertuig soos hierdie onderstebo stoot,” het Justin vroeër gewaarsku.
Nou staan hy in hulle midde en voer hy hulle lusern. Een koei se stert krul en sy blaas ’n waarskuwing deur haar neus vir Justin.
Dit lyk nie juis of dit iets is waarvoor hy skrik nie; hy spring net ligvoets uit die pad en ontwyk die renoster met ’n systappie wat die Springbokvleuel Cheslin Kolbe sal laat skaam kry.
“Dis maar algemeen onder hulle,” verduidelik hy. “Samantha is gewoonlik eerste by die kos en dan sluit Tiffany en Britney by haar aan. Ek lok dan vir Samantha eenkant toe met ’n hoop lusern, omdat die ander twee wat besties is, nogal bitsig met haar kan raak.”
Herbie, die jong bul wat skaars twee jaar gelede by hulle aangesluit het, kry eenkant sy kos.
Volgens Justin kan ’n renoster tot 50 kilogram per dag eet.
“Ek was eers net een van die anti-poacher patrollielede wat moes help om dié majestueuse diere op te pas,” sê hy.
Hy is al sedert 2019 op die wildsplaas werksaam waar hy die beskerming van renosters op sy hart dra.
“Op ’n stadium was daar 19 renosters op Lombardini, waarvan 14 as gevolg van stropery en twee, ’n bul en ’n kalf, aan ’n parasiet wat deur sebras oorgedra word, gevrek het.
“Ek neem toe ’n lewensveranderende besluit om alles in my vermoë te doen om dié diere te probeer beskerm en ook sommer meer van hulle gedragspatrone te leer. Om dit te kon doen moes ek voltyds na aan hulle wees.”
Met toestemming het Justin nie meer die 12 uur lange skof gewerk nie, maar in die veld naby aan die renosters gaan woon.
Dit was nie aldag maklik nie. Ten spyte van wisselende weersomstandighede, uitmergelende hitte, ysige winterdae en dikwels ook in gietende donderstorms het hy vasbeslote in die veld naby aan hulle gebly om sy navorsing te doen.
Sy poniestert is ook nie ’n mode-item nie.
“Snags kan die renosters my nie sien nie, maar hulle hoor en ruik goed. Hare het ’n sterk reuk en daarom groei ek my hare,” verduidelik hy. “Nou kan hulle my ruik as ek in hulle nabye omgewing is en hopelik nie onrustig word nie.
“Aan die begin was ek maar skrikkerig om hulle te voet te benader. Ons was nie seker wat sou gebeur nie.”
Bruno, ’n bul, was die eerste renoster waaraan hy geraak het en ook die eerste wat hom ’n kiestand gekos het!
“Dit was eintlik per ongeluk,” sê hy. “Ek wou kyk of daar bosluise op die ou se gesig was, maar ek beweeg toe te vinnig en met dié skrik hy en swaai sy kop kant toe en tref my vol in die gesig.
“Mens kan seker maar sê: ‘No pain no gain!’ Daarna het Tiffany my karnuffel deur met haar horing my tussen die boude te hak en hoog die lug in te gooi. Britney het weer op haar beurt met haar poot op my bors getrap. Gelukkig het ek ’n bullet proof vest aangehad en kon met kneusplekke en ’n seer lyf wegkom.
“Deesdae vryf ek eerder, as hulle dit sou toelaat, met een hand oor hulle horings en hou dit dan met die ander hand vas wat my dalk ’n wegkomkans sal bied!”
Net suidelike Witrenosters word op Lombardini aangehou. Op ’n stadium was dié subspesie byna deur stropers uitgewis, maar vandag, danksy mense soos Justin, is daar ongeveer 17 000 Witrenosters wêreldwyd.
“Daar is nog vier spesies, waaronder die Swartrenoster meesal in Suid-Afrika, en waarvan daar maar ongeveer 4 500 oor is. Die ander spesies is die Indiese renoster, die Javaanse renoster en Soematraanse renoster, maar dié spesies kom hoofsaaklik in Indië en Asië voor.
“Ongelukkig is daar net twee noordelike Witrenosters oor en albei is koeie. Hulle word nou tot die einde van hulle lewe in Kenia opgepas waarna die spesie uitgewis sal wees,” sê Justin.
Dit bly egter ’n aanhoudende en hewige stryd om die renosters uit die kloue van die stropers te probeer hou.
“Die stropers doen die vuilwerk, maar daar is ’n baasbrein wat dit aanvuur, dikwels ook mense van wie dit geensins verwag sou word nie, byvoorbeeld selfs veeartse,” verduidelik Justin.
“Daar is soveel mites oor die kastige waarde wat die gebruik van renosterhoring inhou. Sommige glo dit kan jou seksdrang verhoog en selfs impotensie en ander siektes genees. Dit maak geen verskil dat dit al wetenskaplik as onwaar bewys is nie.”
Die horings bestaan volgens Justin uit keratien, dieselfde materiaal as menslike naels en hare.
Kalfies word sonder ’n horing gebore en daarna groei dit ongeveer drie sentimeter per jaar.
“Horings van oor die twee meter is al gemeet,” vertel hy.
“Gewoonlik skaaf of skuur renosters teen bome om die horing te ‘vyl’ en as dit dan baie dun word, breek dit af.
“Die stropers is voor die voet gewelddadig. Die renoster word dikwels geskiet, per voet ingehaal, waarna hulle skene met pangas afgekap word sodat hulle nie kan beweeg nie. Dan word die horing afgesaag of uitgekap. Dít terwyl die dier meeste van die tyd nog lewe.
“Kalfies word ook soms doodgemaak, net om te verhoed dat die getalle vermeerder. Daardeur bly renosterhoring in aanvraag en die koste daarvan onbeskryflik hoog.
“Hoe verskriklik dit ook al mag klink, een manier om renosterstropery te beveg is om die uitvoer van renosterhoring te wettig. Dit sal die koste daarvan laat daal en hopelik dié diere se lewens só spaar.”
Op Lombardini is die sekuriteit natuurlik hoog op die prioriteitslys en Justin bespreek dit nie graag nie.
“Daar is ook verskeie patrollies aan die buitewyke, en kameras van Eersterivier tot anderkant Makhanda is deur renosterbewaringsgroepe opgerig. Sodoende word die patrollies teen stropers gewaarsku as daar moontlike verdagtes op pad is. As gevolg daarvan kon ons reeds twee keer stropers betyds stop en in hegtenis neem,” vertel Justin.
“Natuurlik is dit moeilik om ’n gewone persoonlike lewe te lei. Ek kan en wil nie van die plaas af weggaan nie; dinge soos uiteet en fliek doen ek glad nie.”
Gelukkig is daar ’n nooi sommer in sy nabye omgewing wat sy passie verstaan en wat nou saam met die renosters ’n plek in Justin se hart verower het.
“Die bewaring van die renosters het vir my ’n lewenstaak geword. Ek is so passievol daaroor dat ek bereid is om te sterf in ’n poging om hulle van uitwissing te bewaar.”
Terwyl die son water trek, stap Lombardini se vier renosters stadig terug die veld in en kan ’n mens nie anders as om aan ’n knop in die keel te sluk nie.
’n Insiggewende en roerende boek, Guardian of the crash (in Engels word ’n klomp renosters saam ’n “crash of rhino’s” genoem), oor Justin Terblanche se lewe saam met sy geliefde renosters is in 2024 deur Suzanne Janeke geskryf.
Stuur ’n e-pos aan Suzanne by suzanne.janeke185@gmail.com of Justin by rhinowhisperers@gmail.com vir meer inligting.