Distrik Ses: 108 gesinne trek uiteindelik terug

  • 0

Die wiele van restitusie draai stadig vir die toenmalige inwoners van Distrik Ses, veel stadiger as die wiele van die stootskrapers wat hulle huise afgebreek het. Gelukkig ís daar wiele wat draai – en dié keer draai hulle in die regte rigting.

’n Kort persverklaring op 17 Junie 2021 deur Thoko Didiza, die Suid-Afrikaanse minister in beheer van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, het opwinding veroorsaak onder diegene wat steeds wag om terug te keer na Distrik Ses, een van Suid-Afrika se bekendste nalatenskappe uit die apartheidsera.

Die geskiedenis van Distrik Ses

In 1867 is Kaapstad in ses munisipale distrikte afgebaken vir verkiesingsdoeleindes. Die Sesde Munisipale Distrik van Kaapstad het later in die volksmond “Distrik Ses” geword.

Shamiel Jeppie, ’n historikus verbonde aan die Universiteit Kaapstad, beskryf die gemeenskap wat in die jare 1900 daar gebly het, soos volg in hofstukke:

“District 6 at the turn of the century may have been poor, but it was undoubtedly a vibrant place. It was, arguably, one of the most cosmopolitan areas in the Cape, if not the whole of sub-Saharan Africa.” 

Op 11 Februarie 1966 het die apartheidsregering aangekondig dat Distrik Ses as ’n buurt verklaar word waar “Slegs blankes” mag bly.

Vanaf 1968 is meer as 60 000 mense verplaas na woonbuurte wat vir “gekleurde mense” geoormerk is.

Dit was traumaties. Peter Storey vertel hoe hy soms vir oulaas saam met mede-Christene gebid het voor die lorries hulle besitting sou kom oplaai.

Die geweld van Distrik Ses het wêreldwyd opslae gemaak, en talle kunstenaars het met die gebeure geworstel.

Richard Rive se roman Buckingham Palace vertel van die lewe in Distrik Ses en die vernietiging daarvan. Dit is steeds te koop. Lees gerus die resensie wat in 1987 in die New York Times verskyn het.

Die roman het verskeie toneelstukke geïnspireer. Hier vertel Basil Appollis waarom hy dekades later weer besoek gebring het aan die huisies waar die koningsgesin se foto’s gehang het.

Hier is nog ’n onderhoud met Basil Appollis.

David Kramer en Taliep Petersen het saam District Six the Musical geskep. (Hier is die liedjie "Klop-klop" uit die blyspel.)

Veel later, met die oog op die 50ste herdenking van daardie hartseer dag in 1966, het David Kramer se District Six Kanala geopen.

’n Leë kol bly dekades lank lê

Distrik Ses is gewoon platgestoot.

Al die huise is deur stootskrapers vernietig en teen 1982 was daar ’n leë kol aan die voet van Tafelberg. Slegs kerke en moskees is gespaar.

Johnny Miller, die Suid-Afrikaanse fotograaf wat naam gemaak het met sy fotografieprojek Unequal scenes, het ook Distrik Ses op sy webruimte.

Daardie grond was baie werd, gegewe die ligging so na aan Kaapstad, maar die aktiviste het vasgeskop. ’n Formele “Hands off District Six”-veldtog is begin om seker te maak dat ryk entrepreneurs nie sou munt slaan uit die hartseer van die verlede nie.

Daar is wel ’n baie klein behuisingskompleks gevestig vir weermag- en polisielede, maar privaatontwikkelaars is weggehou en die oop grond het as ’n hartseer herinnering gebly.

Ná Suid-Afrika in 1994 demokrasie gekry het, kon mense wat hulle grond verloor het, aansoek doen om restitusie. Distrik Ses was ’n komplekse gemeenskap toe dit vernietig is, en baie van die oorspronklik inwoners leef nie meer nie, maar hulle kinders en kleinkinders deel nog herinneringe en verskeie eise is ingestel.

Om almal terug te neem na hulle oorspronklike plekke van herkoms sou sukkel, dus kon eisers uiteindelik kies tussen kontantuitbetalings en ’n nuwe huis.

Verskeie eisers het gekies om weer ’n huis in Distrik Ses te aanvaar, al was dit nie op die presiese plek waar hulle of hul voorouers tevore gebly het nie.

Nogeens was daar egter probleme.

Teen 2018 is ’n regsgeding teen die Suid-Afrikaanse regering gebring weens die stadige pas van restitusie, en op 20 Maart 2019 het regter NJ Kollapen ten gunste van die eisers beslis.

By tye is die ontwikkeling weens finansiële probleme gestaak. Daar was teeneise teen die oorspronklike eisers. Onwettige plakkers het ook probeer munt slaan uit die situasie en het sekere gebiede beset.

Maar nou, 55 jaar ná mense gehoor het dat hulle hul huise sou verloor, het Didiza se aankondiging opwinding gebring.

Tussen 24 Junie en 16 Julie sal altesaam 108 gesinne genader word om hulle nuwe huise aan hulle te oorhandig. Elke huis het drie slaapkamers.

Didiza se persverklaring sê dat daar meer as 1 000 eise geregistreer is en dat twee verdere bouprojekte binnekort sal begin. Teen Augustus 2024 behoort al die ander eisers wat vir huise gevra het, hulle sleutels te ontvang.

Sommige eisers het gekies om finansiële vergoeding te neem in plaas van ’n huis.

Die oorspronklike Distrik Ses sal nooit meer bestaan nie, maar binnekort sal daar weer harte klop-klop, amper soos David Kramer dit in sy liedjie beskryf.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top