Geweld teen vroue op Vrouedag

  • 0

Ronelda Kamfer (Foto: Harriet Box)

87 000 klagtes van GBV (gender-based violence / geslagsgebaseerde geweld) is in die eerste week van die lockdown aangemeld. En dis net dié wat telefonies gemaak was, volgens minister Cele.

Terwyl ek sit om die artikel te skryf, SMS my vriendin my. Haar dogter se boyfriend het haar aangerand, sy is onder bloed. Ek is stunned en probeer vinnig dink en respond. ’n Deel van my wil huil en die ander deel wil my vriendin troos. Die GBV tab en al die statistieke is nog oop op my skerm.

Foto: Unsplash.com

“Bel die polisie. Nee, gaan soontoe, vat foto’s. Nee, los eers die foto’s, kry haar by die polisie. Kalmeer, maak ’n saak; as sy nie ’n saak maak nie, maak jy een.”

“Ek weet nie hoekom die kind dit toelaat nie, sy kom nie uit so ’n huis uit nie. Megan* is bymekaar met stront – ek is al so moeg van dit, dit is nie die eerste jong wat haar so slaan nie. Is asof sy hulle gaan soek.”

Ek bly stil, want ek is te ver van hulle af om te praat. Sy stuur my ’n foto. Ek staar eers net en sien hoe my hande bewe terwyl ek antwoord. “Hy gaan haar doodmaak, Michelle.”

“Die jong is ’n robbies.”

“Is julle by die polisiestasie al? Onthou as sy nie ’n saak maak nie, maak jy een of kry ’n interdik of ’n ding. Waar is die man nou?”

“Hy bly hier naby. Ek weet nie wat om met Ben te maak nie – moet ek die welsyn in bring?”

“Michelle, maak eers die saak.”

“Ben het gehuil toe hy sy ma sien.”

“Wag, laat ek hom gou bel.”

“Nie nou nie, hy is nie saam ons nie, hy speel by sy vriende. Dink jy dit is fine om hom te los alleen terwyl daai mal jong nog in die omtes is?”

“Ja, ek het nie nou daaraan gedink nie. Jirre Michelle, help die polisie al vir julle?”

“Ja, is ’n vroupolisie, hulle gaan nie met hom speel nie, is Vrouemaand.”

“Oukei, laat weet wat hulle sê.” 

Die polisie het in die 2018/19-boekjaar 179 683 kontakmisdade opgeteken, wat moord, verkragting en fisieke geweld insluit. In daai jaar is 2 771 vroue vermoor en daar was 3 445 pogings tot moord. Dat die getalle gaan styg, is ’n feit. Hoe ons onself beskerm is die vraag.

Die geweld teen vroue is die eeue oue pandemie. Eindelose sosiale-media-veldtogte stroom op ons timelines, so tussen die nuusberigte van nog ’n moord, nog ’n verkragting. Slagoffers is babas, oumas, ryk en arm, wêreldbekend en naamloos. Al daai vroue wat vermoor is, het geweet van wat aangaan. Party was op die voorpunt van die weerstand en die opstand en hulle is ook vermoor.

“Wat sê die polisie, Michelle?”

“Hulle vra so duisend vrae en het nou vir Megan ingevat daar agter in ’n office in. Ek kan nie ingaan nie want Covid-goed. Maar ek ken my kind – as hulle te baie praat dan kap sy toe.

“Ek verstaan nie hoekom sy altyd sulke jongens gaan opsoek nie. Ek is tog nie so nie. Haar pa het nog nooit sy hande gelig vir my nie. Maar sy gaan soek die klas jongens op dan moet ek sukkel. En dié is nie die eerste keer nie. Hulle het laas ook so tekere gegaan. Ek dink is die drugs wat hulle so maak. Daai jong is op buttons, jy moet sien hoe lyk hy. Die ding het nog nooit ’n dag in sy lewe gewerk nie.”

“Michelle, dit is nie nou die tyd vir die conversation nie, niemand kan meer sê watter tipe man so kan uitdraai nie. Megan is lucky, sy lewe nog, net laasweek is daar ’n jong meisie se lyk op die vlakkie daar naby julle opgetel. Ook die boyfriend.”

“Ja, daai mooi kind, ek het gehoor van daai een ja. Is baie sad en sy het ’n saak teen hom gaan maak ’n week voor hy haar vermoor het. Wag, bel my gou, ek hettie airtime nie, hier kom sy nou uit.”

Die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 is ‘n wet wat bestaan om slagoffers van gesinsgeweld te beskerm deur verpligte prosedures wat gevolg moet word deur wetstoepassers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die veiligheid van slagoffers is die prioriteit en die wet se doel is om slagoffers so ver as moontlik te beskerm.

“Hi Megs, is jy oukei, skatjie?”

“Ek is fine nou, ja. Ek moet môreoggend hof toe gaan vir ’n interim restraining order. Dan moet ek dokter toe gaan en die dokter moet ’n injuries vorm invul. Dan moet ek weer hof toe gaan sodat hulle die restraining order kan gee.”

“Gaan hulle hom opsluit?”

“Net as ek dokter toe gaan.”

“Wil jy nou vir my sê, even al sien hulle jou injuries en jy sê wat gebeur het en jy het witnesses moet jy eers ’n dokter sien voor hulle hom opsluit?”

“Ja, daai is die procedure.”

  • * Nie regte name nie

Bronne

Africa Check, https://africacheck.org/spot-check/south-african-police-record-2300-gender-based-violence-complaints-in-first-week-of-lockdown-not-87000.

Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998, https://www.justice.gov.za/legislation/acts/1998-116-afr.pdf.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top