Grondonteiening sonder vergoeding!

  • 0

Christo van der Rheede
Foto: Naomi Bruwer

Die openbare verhore oor die voorgestelde wysiging aan die eiendomsklousule van die Grondwet van Suid-Afrika het almal aan die praat. Die bestaande eiendomsklousule vereis dat indien die staat enigiemand se eiendom wil onteien, die staat die eienaar moet vergoed. Die parlement het egter vroeër vanjaar ’n meerderheidsbesluit geneem om openbare verhore van stapel te stuur om die algemene publiek se insette te verkry om te bepaal of hierdie eiendomsklousule na onteiening sonder vergoeding verander moet word.

Diegene wat eiendom besit en wat dit wetlik bekom het, is uiters bekommerd oor die impak wat so ’n verandering aan die Grondwet kan hê. Ook van groot kommer is die impak wat dit mag hê op eiendomsreg, die kommersiële ontsluiting en benutting van eiendom in individuele besit en die ekonomiese waarde van eiendom indien die staat eiendom links en regs sonder vergoeding sou onteien.

Suid-Afrika het ’n uiters gevorderde en aktiewe eiendomsmark wat Suid-Afrikaners in staat stel om eiendomme te koop en om dit ook te verkoop, te verhuur en aan die bank oor te dra as sekuriteit om ’n lening te bekom.

Baie voedselprodusente wat hul eie plase het, bied die grond aan as sekuriteit om lenings aan te gaan. Volgens berekeninge beloop die totale skuld van voedselprodusente by finansiële instellings sowat R170 miljard. Produsente gaan dus lenings aan om voedsel vir die Suid-Afrikaanse en internasionale mark te produseer. Dis ook dan hierdie mense wat sterk gekant is teen die voorgestelde wysiging van die eiendomsklousule.

Maar daar is ook ’n ander werklikheid in Suid-Afrika. Miljoene mense het geen eiendomsreg nie, want hulle bly op kommunale grond, of op grond wat deur sendingkerke besit word, of in informele nedersettings. Baie plaaswerkers bly op hul beurt in huurhuise op kommersiële plase.

Dan is daar baie Suid-Afrikaners wat vanweë die Swart Grond Wet van 1913 en die Groepsgebiedewet van 1950 van hul grond afgedwing is. Hulle moes in ’n ander gebied en ook dikwels in verafgeleë gebiede ’n heenkome gaan soek en ’n nuwe begin maak. Die omstandighede was dikwels baie moeilik, omdat dié gebiede ver weg geleë was van die besigheidsektor en ander noodsaaklike openbare dienste.

Verskuiwings tydens die apartheidsera was ’n uiters traumatiese ervaring vir derduisende bruin en swart mense. Dit het hulle nie net verskuif uit gebiede waar hulle oor geslagte heen gebly het nie, maar dit het hulle ook die reg ontneem om eiendom in gebiede wat as blanke gebiede verklaar is, te besit en om daar te woon of besigheid te bedryf. Die verskuiwing van mense na tuislande en na nuwe woongebiede weg van sakegebiede het baie bitterheid veroorsaak en verarming teweeg gebring.

Dis daarom veral bruin en swart mense wat hulle tydens die afgelope openbare verhore sterk ten gunste van ’n verandering aan die eiendomsklousule uitgespreek het.

Die vraag wat onmiddellik by ’n mens opkom, is of dit nodig is om die eiendomsklousule te wysig. En ook watter implikasies dit gaan inhou as dit verander sou word en die regering ander se eiendom, en veral plase, sonder vergoeding gaan onteien. Gegewe Suid-Afrika se geskiedenis van verontregting is daar geen twyfel dat grondhervorming moet plaasvind nie, maar die regering se pogings om grondhervorming op groot skaal te implementeer was nie suksesvol nie.

Sommige politieke partye en hul volgelinge blameer die bestaande eiendomsklousule (artikel 25), maar is dit werklik die sondebok? En indien dit nie is nie, wie of wat is die werklike sondebok dan?

Om die vraag te beantwoord moet ons eers besin wat artikel 25 presies behels. Dit vereis dat niemand eiendom ontneem mag word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie. Dit vereis ook dat eiendom ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif onteien mag word slegs vir ’n openbare doel of in die openbare belang en dat dit onderworpe aan vergoeding is waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is.

Die bedrag van die vergoeding en die tyd en wyse van betaling moet regverdig en billik wees, en moet ’n billike ewewig toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van die huidige gebruik van die eiendom, die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom, die markwaarde van die eiendom en die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat en die doel van die onteiening.

Dit gaan verder deur dit duidelik te stel dat openbare belang ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming insluit en dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref om, binne sy beskikbare middele, toestande te skep wat burgers in staat stel om op ’n billike grondslag toegang tot grond te verkry.

Verder moet ’n persoon of gemeenskap wie se besitreg van grond regsonseker is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, geregtig is in die mate wat deur ’n parlementswet bepaal word, op óf besitreg wat regseker is óf gelykwaardige vergoeding. ’n Persoon of gemeenskap wat na 19 Junie 1913 die besit van eiendom ontneem is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, is geregtig in die mate wat deur ’n parlementswet bepaal word, op óf teruggee van daardie eiendom óf billike vergoeding.

Dis ook belangrik om daarop te let dat artikel 25 dit duidelik maak dat geen bepaling van hierdie artikel die staat verhinder om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie.

Wat is dan die probleem?

’n Verslag van oudpresident Motlanthe dui daarop dat die Grondwet, en spesifiek die eiendomsklousule, nie ’n struikelblok in die weg van grondhervorming is nie. Die betaling van vergoeding is beslis nie die grootste probleem met grondhervorming nie, maar eerder korrupsie deur amptenare, die bevordering van sekere elitegroeperinge, ’n gebrek aan politieke wil en ’n gebrek aan opleiding en kapasiteit om uitvoering te gee aan grondhervormingsdoelwitte.

Dis ’n ernstige aanklag en laat heelwat rooi ligte aangaan dat ’n verandering aan die eiendomsklousule geen wesenlike impak op die grondhervorming gaan hê nie, aangesien die probleem nié die eiendomsklousule is nie, maar eerder ’n onbeholpe staat.

Ander rooi ligte is dat die grondkwessie as ’n politieke speelbal gebruik word om stemme te werf vir die nasionale verkiesing wat in 2019 moet plaasvind. Desperate politici maak ook toenemend allerlei wilde politieke uitsprake oor grond en sommige moedig mense aan om grond onwettig te beset. Dis alles in ’n poging om stemme te werf.

Van groter kommer is die rassepolarisasie wat aan die toeneem is omdat die grondkwessie deur sommige politici tot ’n stryd tussen wit en swart gereduseer word. Dit is egter baie meer ingewikkeld!

Terwyl die afgelope grondverhore hierdie persepsie versterk het, dui ’n dieper ontleding eerder daarop dat die bitterheid en woede wat mense tydens die verhore openbaar het, in ’n meerdere mate die hulpeloosheid en frustrasies verwoord van verwagtinge wat nié na 1994 gerealiseer het nié.

En hierin lê die geleentheid! Dit is om die boodskap uit te kry dat grondonteiening sonder vergoeding nié gaan help om mense uit hul staat van armoede, wanhoop en desperaatheid te lig nie. Die uitbreiding van eiendomsreg en ’n groeiende ekonomie daarenteen wel! Artikel 25.5 maak daarvoor voorsiening en die staat moet tot verantwoording geroep word oor waarom dit nie uitvoering aan hierdie grondwetlike opdrag gee nie.

So kan ’n beter toekoms verseker word. Veral vir diegene in informele nedersettinge, ook vir plaaswerkers wat vir generasies huise op plase huur en vir boere op kommunale en staatsgrond. Met die regte ondersteuning kan laasgenoemde ook hul bydrae tot voedselsekerheid uitbou en volhou.

’n Geloofwaardige boodskap gaan egter hand aan hand met ’n werkbare plan. In dié verband kan die Afrikaanse gemeenskap ’n verenigde en instrumentele rol speel in plaas daarvan om emosies op te jaag en verdere rasseverdeeldheid aan te moedig. Deur kundigheid en vernuwing op groot skaal te ontsluit kan die grondkwessie bygelê word.

Want die grondkwessie is nié net ’n geveg tussen wit en swart nie. In Soweto, Mitchells Plain, Mamelodi, Hermanus, Stellenbosch en vele ander gebiede staan mense op teenoor diegene wat grond links en regs beset. Dis veral in stedelike gebiede waar mense ’n baie groter bewustheid ontwikkel oor die ekonomiese waarde van eienaarskap en hul verantwoordelikheid om dit te beskerm om welvaart vir hulle en hul kinders te ontsluit.

Swart en bruin deel daarom dieselfde kommer! Nié oor ons op pad is om in ’n Zimbabwe te ontaard nie, maar oor die gebrek aan wet en orde, die gebrek aan ekonomiese geleenthede en die potensiaal vir konflik tussen gemeenskappe indien grond links en regs beset word en dít hul ekonomiese belange skaad. Gedeelde belange het nog altyd mense oor grense heen verenig.

’n Mens kan net hoop dat die grondberaad wat eersdaags deur Landbouweekblad en Agri SA gehou sal word, asook die planne wat die Landbousektor Eenheidsforum (ASUF) in die vooruitsig stel, swart, bruin en wit oor grense heen sal verenig om blywende oplossings vir die grondkwessie te vind. Om dit aan die regering en politici oor te laat sal ons grootste fout wees. Saamstaan en saam uitvoerbare planne maak is nou meer kritiek as ooit tevore.

Christo van der Rheede
Adjunk uitvoerende hoof
Agri SA

 

Buro: IG
  • 0
Top