Vanaf 19 Julie 2018 is Israel amptelik ’n Joodse staat. Niemand kan dus meer voorgee dat Israel demokraties is nie. Met 62 teen 55 stemme (twee buite stemming) het Israel nou ’n “basiese” of ’n grondliggende wet wat teen die land se 20 persent nie-Joodse bevolking diskrimineer.
’n Basiese wet oorskryf bepalings in vorige wette, en soos ’n grondwet is dit baie moeiliker om te herroep as gewone wette. Arabies val weg as amptelike taal om plek te maak vir net Hebreeus, en Jerusalem – insluitend die besette Palestynse Oos-Jerusalem – is volgens die wet nou die hoofstad van Israel.
Israel en haar bondgenote het nog altyd voorgegee dat Israel ’n “bastion van demokrasie” in die Midde-Ooste is. In werklikheid diskrimineer Israel egter lankal teen Christene en Moslems. Talle Christene is afstammelinge van die eerste Christene en ook Semiete. Adalah, die regsentrum vir Arabiese minderheidsregte in Israel (https://www.adalah.org), spesifiseer byvoorbeeld meer as 65 wette wat hierdie burgers se huweliksregte, verblyfregte en ander aspekte van siviele burgerskap inperk.
Met die nuwe wet het Israel egter self die bestaande diskriminasiebeleid en -praktyke ekplisiet, amptelik en ondubbelsinnig verhef tot ’n konstitusionele waarde op so ’n manier dat dit baie moeilik gaan wees om dit te verander. Met ander woorde, die essensie of basis van die Israelse staat is een waarin alle burgers nié dieselfde regte het nie en ras, kultuur en geloof menseregte bepaal. Dis belangrik om die dinamika onderliggend aan Israel se heerskappy te verstaan. Dié soort superioriteit en eksklusivisme eie aan Israel was ook teenwoordig in die dinamika van Nazi-Duitsland en Suid-Afrikaanse apartheid, wat beide uitgeloop het op groteske misdade teenoor die mensdom.
Israel se diskriminasie teen en doelbewuste onderdrukking van Christen-, Moslem- en ander Arabiese burgers is nie net beperk tot Israelse burgers nie. Israel se doelwit is om al die grond en bates wat in Palestynse besit is, te oorheers. Die nuwe wet wat Israel as ’n Joodse nasiestaat verklaar, vorm deel van die Netanyahu-bewind se toenemende selfversekerde houding om internasionale wette op ’n blatante wyse te oortree en daarmee saam ook ’n stokkie te steek voor enige sogenaamde tweestaatoplossing. Nie dat laasgenoemde oplossing meer haalbaar is nie. Gereelde verslae van die Verenigde Nasies (https://www.ochaopt.org) toon byvoorbeeld duidelik hoe Israel toenemend met militêre mag beslag lê op Palestynse grond en water. Die onwettige Israeli-skandmuur, die onwettige Israeli-nedersettings (“settlements”), en Israel se onwettige sloping van huise in die besette Wesoewer en Oos-Jerusalem is enkele voorbeelde. Vir ’n vinnige oorsig in beeld is daar kort video’s op die Verenigde Nasies se webwerf (https://www.youtube.com/user/OCHAoPt).
Die sogenaamde nedersettings is in werklikheid uitgebreide landboubedrywighede, stede met universiteite en huise met swembaddens en parke. Verder is die Israelse Muur nie op die internasionaal-erkende grens nie, maar op Palestynse grond. Trouens, Israel verklein die Palestynse grondgebied afgemete, stuk vir stuk en dag vir dag. Israel se ondemokratiese nuwe wet spesifiseer egter die Israelse nedersettings as ’n nasionale bate wat verder bevorder en gekonsolideer moet word.
In werklikheid is Israel besig om voor te berei vir ’n eenstaatoplossing, maar een waarin die nie-Joodse burgers in Israel sowel as die Palestyne in die Wesoewer, Oos-Jerusalem en Gasa tweedeklasburgers sal wees. Israel wil beide die geografie én die demografie van Israel en Palestina sodanig verander dat Israel alle politiese, ekonomiese en sosiale mag het. Israel is ’n militêre supermoondheid met ’n kernreaktor en ontvang jaarliks miljarde dollars van die VSA met die reg om dit vir militêre doeleindes te gebruik. Sioniste se argumente dat Israel ’n weerlose slagoffer is, is absurd. Israel het lank reeds die militêre oorhand oor Palestyne.
Die nuwe wet verwelkom die vestiging van Jode van oraloor die wêreld – ook sekulêre Jode en diegene wie se voorgeslagte nooit in die gebied van die huidige staat Israel gewoon het nie. Daarteenoor mag Palestynse Christene, Moslems en andere wat vlugtelinge geword het toe Israel hulle grondgebied in 1948 en in 1967 onteien het, nié terugkeer na hulle eiendom nie. ’n Mens wonder of swart Jode vanuit Afrika wat Israel weens etniese redes gedeporteer het, onder die nuwe wet terugverwelkom sal word. Israel se rassisme en die misbruik van Bybelse tekste om Sionisme (sosio-ekonomiese politiese heerskappy deur middel van nasionalisme) te bevorder, raak al hoe duideliker. Al hoe meer mense besef dat die Bybelse konsep “Israel” nie verwar moet word met die ondemokratiese moderne staat Israel nie.
Israel se nuwe wet verwys na ’n “historiese tuisland” vir Jode asook die visie om die “band” met alle Jode ter wêreld te versterk en alle Jode te “beskerm”. Die wet skep die illusie dat alle Jode Israel as ’n “tuiste” en as “veilig” beskou. In werklikheid neem ’n toenemende aantal Jode wêreldwyd standpunt in téén Israel se Sionistiese beleid. Hulle maak dit duidelik dat Israelse ondersteuners se wettige kritiek teen die Israelse regime nié verwar moet word met anti-Semitisme nie (https://jewishvoiceforpeace.org/30jewishgroupsbds). Hier is byvoorbeeld enkele plakkate van Suid-Afrikaanse Jode wat protesteer teen Israel se grootskaalse oorlog teen Gasa:
Foto’s deur Marthie Momberg, 9 Augustus 2014, Kaapstad
Die nuwe wet voer egter die onreg van eksklusiewe burgerskap in Israel nog ’n stap verder. Die wet dwing inderwaarheid Arabiese of Palestynse Israeli-burgers om die belange van Joodse burgers te bevorder deurdat hulle ewe veel belasting moet betaal as Joodse Israeli’s – en dit sonder om dieselfde sosiale voordele te geniet. Met ander woorde, nie-Joodse burgers word nou gedwing om diskriminasie teenoor hulleself te onderhou!
Kan die status van Israel se nuwe wet as moreel aanvaarbaar en legitiem beskou word? Dit lyk nie vir my so nie. Wat beteken dit as die VSA vir Israel ten alle koste beskerm deur telkens die Verenigde Nasies se optredes te veto? Wat beteken dit vir ons wêreldbestel as hierdie situasie van dubbele standaarde reeds sewe dekades voortgaan en steeds vererger? Die Roomse Statuut van die Internasionale Geregshof definieer apartheid as “the systematic oppression and domination by one racial group over any racial group or groups and committed with the intention of maintaining that regime”. Wat staan Suid-Afrikaners – juis met ons geskiedenis van apartheid – te doen?
Marthie Momberg is ’n navorser aan die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Buro: NB