
Jan Terlouw (Foto: Nationaal Comité 4 en 5 mei, WikiMedia)
Op 16 Mei 2025 is Jan Terlouw op 93 jaar oorlede. Hy was ’n besonder geliefde Nederlander omdat hy hom altyd beywer het vir die soort politiek wat saambind, eerder as om mense uit mekaar te dryf.
Terlouw begin sy loopbaan as kernfisikus, maar besluit in 1970 om hom in die politiek te begewe. Hy was fractievoorzitter van die politieke party D66, minister van ekonomiese sake, kommissaris van die Koningin in Groningen en ook ’n senator in die Eerste Kamer. En tog sal Terlouw veral onthou word vir die wonderlike boeke wat hy geskryf het. Stories wat jonk en oud se harte geraak het.
Ook Suid-Afrikaanse lesers ken sy naam, want baie het op skool kennis gemaak met sy bekende jeugboek, Koning van Katoren, wat in 1971 die lig gesien het.
Voor Stach die nuwe koning van Katoren kan word, moet hy eers sewe moeilike opdragte uitvoer. Die opdragte was bitter moeilik, eintlik onmoontlik. Die opdragte word deur die ministers van Katoren uitgedink, want hulle “sukkel” al 17 jaar lank om ’n nuwe koning te kry.
Elke opdrag is moeiliker as die vorige, en Stach moet onder andere krysende voëls verjaag, ’n sewekoppige draak verslaan en op die vervloekte stoel van die Stellingwoud gaan sit.
Terlouw se fyn humor oor die werking van die Nederlandse politiek kom baie duidelik in die storie na vore, maar Stach laat hom nooit onderkry nie. “Want hij is zeventien jaar – precies de leeftijd waarop je alle reuzen, draken en heksen aankunt.”
Ek het ’n aantal mense genader om hulle idees oor Terlouw te deel.
Etricia Looij van der Merwe onthou dat sy aanvanklik gedink het dat dit baie moeilik sou wees om die boek te lees. “Maar dit het verbasend vinnig gelees. Ek het die avonture geniet van die outjie wat al die raaisels moes oplos. En die feit dat die regering gedink het hy sou dit nie kon doen nie. Ook dat dié probleme deur die regering veroorsaak was.”
Hans Moolman, ’n Afrikaans-onderwyser, vertel dat die situasies wat so kostelik in die boek geskets word, vandag nog net so aktueel en relevant is.
Saam met die ewig optimistiese Stach wat altyd die goeie in mense raaksien, het generasies Afrikaanse kinders vir die eerste keer in kontak gekom met Nederlandse jeugliteratuur en die Nederlandse taal. Tot in die jare negentig is daar minstens een Nederlandse boek in Afrikaanse hoërskole behandel. Terwyl vroeër generasies se boeke dikwels swaar en donker was, het Koning van Katoren in die jare tagtig verwondering en ook verademing in die klaskamer gebring.
Hans Moolman het die boek nog tot in 2002 met sy graad 11’s behandel, tot daar “’n stokkie voor gesteek is”. Hans vertel dat dit een van die boeke is wat die meeste uit die skoolbiblioteek gesteel is. By reünies praat sy oudleerlinge nog altyd net oor twee boeke: Kringe in ’n bos en Koning van Katoren. Van my vriende wat die boek op skool behandel het, onthou nog goed hoe Stach se waagmoed en deursettingsvermoë hulle verbeelding aangegryp het.
In 1977 het Santie Grosskopf dit in Afrikaans vertaal, maar die Nederlandstalige boek het bekend gebly in Suid-Afrika.
Die boek het nie net Suid-Afrikaanse lesers in die ’80’s betower nie. In 2010 het Protea Boekhuis dit weer in Afrikaans laat vertaal, die keer deur Daniel Hugo. “Dit is ’n klassieke werk wat al voorheen in Suid-Afrika as Nederlandse voorgeskrewe boek in skole gebruik is,” vertel Nicol Stassen. “Dit is herhaaldelik herdruk en was baie gewild.”
Die boek is in meer as 23 tale vertaal. En dit het selfs nog in 2020 ’n herdruk beleef. Daar is ook ’n film van gemaak, hoewel dit nie ’n groot sukses was nie.
Terlouw het ook baie ander boeke geskryf.
Oorlogswinter, wat in die Tweede Wêreldoorlog afspeel, is ook deur Daniel Hugo vir Protea Boekhuis in Afrikaans vertaal. Hoewel dit dalk nie so bekend is in Suid-Afrika nie, is dit in Nederland net so geliefd soos Koning van Katoren. Ook die film, wat in 2008 verskyn het, was ’n groot treffer. Betsie van der Westhuizen het graag die boek met haar honneursstudente behandel in Afrikaanse en Nederlandse kleuter-, kinder- en jeugliteratuur in die vakgroep Afrikaans en Nederlands in die Skool vir tale aan Noordwes-Universiteit. “Ek en die studente het gedink dat dit geweldige ontstellende, maar uitmuntende kontroversiële jeugliteratuur is, maar dat die jeug wel deur hierdie boek nuwe perspektiewe op oorlog en familie kan ontwikkel.” Soos met Koning van Katoren word lesers ook in Oorlogswinter voor moeilike keuses in moraliteit gestel. Terlouw raak nooit prekerig in sy boeke nie, maar hy konfronteer jong lesers wel met dilemmas en vrae oor medemenslikheid.
Buiten jeugboeke het Terlouw ook saam met sy dogter, Sanne, ’n reeks van ses speurverhale oor twee privaatspeurders, Reders en Reders, geskryf. Ander bekende jeugboeke uit sy pen sluit in: Pjotr, Briefgeheim, Zoektocht in Katoren, De Kloof en Oosterschelde windkracht 10.
*
Verwysings na Terlouw se polities betrokkenheid, ’n duidelike Christelike moraliteit, en om altyd in die goedheid van die mensdom te glo het die afgelope paar dae dikwels in die media voorgekom om Jan Terlouw te beskryf.
Terlouw was ’n geliefde skrywer, denker en brugbouer. Sy kragtige pleidooi vir vertroue en verbinding het tot op die einde helder geklink, aldus Eveline Aendekerk, direkteur van die CPNB (Stichting Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek) in ’n amptelike verklaring op LinkedIn.
Op sy Facebook-blad bedank David van Reybrouck, die bekende Vlaamse skrywer en kultuurhistorikus, Terlouw vir sy uitgesprokenheid oor die skade wat ons aan die omgewing aanrig. Hy plaas die volgende sitaat van Terlouw: “Ik maak mij buitengewoon ongerust hoe de mensheid met de aarde omgaat. Het is veel erger dan de meeste mensen beseffen. Vanuit de drie invalshoeken van de natuurwetenschap, de politiek en de roman vind ik het mijn plicht om daarover te praten.”
Die een sinnetjie wat oor en oor op sosiale media aangehaal word, kom uit sy laaste kinderboek, Het touwtje uit de brievenbus: “Blijf elkaar vertrouwen.”