Kan ’n mens munt uit die volkslied slaan?

  • 0

Immature poets imitate, mature poets steal; bad poets deface what they take, and good poets make it into something better, or at least something different.

TS Eliot

I don't think anybody steals anything; all of us borrow.

BB King

Nkosi Sikelel’ iAfrika se melodie is na bewering by ’n Walliese komponis geleen. Hoekom kan jy nie ’n melodie of lirieke by iemand anders gaps nie? The Rolling Stones, Led Zeppelin, Pete Seeger, Sam Smith, R.E.M en nog vele ander kunstenaars moes al bontstaan om te verduidelik waarom dele van hul liedere net té veel ooreenstem met ’n reeds bestaande lied. Selfs JS Bach het tussen Vivaldi se manuskripte gaan snuffel vir idees.

Maar soos enige dief wat sy sout werd is, moet jy weet wat jy gaan gaps en watter roete om in te slaan om die kloue van die gereg te ontsnap.

Voor jy besluit om ’n lied te steel en ’n paar rand daaruit te maak, is dit belangrik om die bestaande reëls en regulasies rondom kopiereg te verstaan, en ook te weet hoe die brein te werk gaan om ’n melodie te herken.

Die geld wat jy potensieel kan maak is nog iets om kortliks van kennis te neem. ’n Lied, gegewe dat iemand sing, bestaan uit twee komponente: die melodie (en tot ’n mate die begeleiding) en die lirieke. Elk van hierdie komponente word gesien as ’n onafhanklike kreatiewe skepping. 50% van die tantieme is beskore vir die komponis en 50% vir die skrywer van die lirieke. As ’n lied R10 maak, kry elkeen dus R5.

Suid-Afrikaanse kopiereg bepaal verder dat iets in tasbare vorm moet bestaan voor dit in aanmerking kan kom vir beskerming deur die wet. Lirieke moet dus op papier wees en note moet genoteer word en/of opgeneem word.

Owen Dean, hoëpriester van Suid-Afrikaanse intellektuele eiendomsreg, werp lig op hierdie kwessie:

A work is “original” for purposes of copyright if it is the product of the author’s own individual effort and expertise. It need not be unique or inventive in any way. As a general rule a work cannot be original if it is a copy of a pre-existing work.

Sou die muses jou genadig wees met ’n oomblik of twee se kreatiwiteit, mag jy ’n oorspronklike werk verander of iets byvoeg. Solank die bygevoegde deel ook iets unieks is. Maar jy mag slegs tantieme verdien vir jou aandeel aan die gesamentlike nuutskepping. In Suid-Afrika verval kopiereg van ’n werk na 50 jaar. Daarna kan jy met die werk maak wat jy wil.

In jou beplanning van verraad is die volgende vraag van kardinale belang: Wat is musiek? Niemand weet eintlik nie. Dit moet uit die aard van die saak bestaan uit hoorbare klanke. Is ’n trekker se stotterende enjin dan ook ’n waardige komposisie soos Mozart se Requiem? Of wat as ’n bobbejaan skree en daar is ritme en ’n sweempie van ’n herkenbare noot; is hy of sy dan ook ’n kreatiewe genie?

Die komponis Edgard Varèse definieer musiek as “organised sound”. Gestel jy luister na Leonard Cohen se “Halleluja”. Dit bevat al die elemente van musiek: ritme, melodie, dinamiek en timbre of toonkleur (dws ’n kitaar en viool en verskillende timbres). Dis ’n mondvol, maar in terme van diefstal hoef jy net die melodie in gedagte te hou. Die begeleiding is ’n perd van ’n ander kleur en tart reeds die slimstes van die slimstes sedert die begindae van denke oor kopiereg. Die eintlike tameletjie is die vraag oor wat kreatiwiteit is. Daarvoor is daar nog minder antwoorde. Beethoven was kreatief. Picasso ook. Wat van Lianie May? Ja, “want jy soen my nie meer nie” word itv kopiereg as ’n volwaardige kreatiewe uitset beskou.

So wat gebeur as ons musiek luister? Voor jy kan sê “ek loooooove hierdie tune” is daar ’n magdom goed wat in jou brein aan die werk spring. Klankgolwe van die instrument of luidsprekers beweeg deur die lug in spesifieke golflengtes (dit bepaal oa die verskeie toonhoogtes van die note) en laat jou oordrom vibreer. Daarna bereik dit koglea, waar die eerste fase van enkodering plaasvind. Elke toonhoogte aktiveer ’n spesifieke plek in die koglea en bewerkstellig ’n impuls wat die brein as ’n spesifieke noot “sien”. ’n Reeks opeenvolgende note is teoreties ’n melodie. Wanneer die note en ritmes in die regte volgorde gehoor word, kan ons dit herken as ’n lied wat ons dalk al vantevore gehoor het.

Katy Perry is onlangs suksesvol gedagvaar vir haar gebruik van ’n bestaande sekwens van note. Edward Lee, in sy artikel “How Katy Perry could have won the ‘Dark horse’ lawsuit”, verduidelik dat die openingsmotief van haar treffer “Dark horse” net te veel ooreenstem met Flame, ’n gospel rapper, se lied “Joyful noise”. Hierdie faux pas het haar $2.78 miljoen gekos. Dus, met verwysing na die brein se binnewerk, het genoeg regslui se kogleas op dieselfde wyse gevibreer met die luister van die onderskeie liedere om die uitspraak ten gunste van Flame te maak.

Daar is volgens Owen Dean tans 61 mense wat aanspraak maak op tantieme van Nkosi Sikelel’ iAfrika. Helmut Lotti is een van hulle. Wanneer jy dan voor ’n rugbytoets hand op die bors saam met die Springbokke sing, is dit belangrik om te weet dat daar ten minste vyf individue oor ’n periode van meer as ’n honderd jaar gewerk het aan die vorm wat ons vandag ken. Slegs twee van van hierdie vyf kan teoreties ’n stewige aftreegeldjie bewimpel. Enoch Sontonga het die Walliese komponis Joseph Parry se “Aberystwyth” verwerk en die eerste vers se woorde geskryf. Samuel Mqhayi het vroeg in die 20ste eeu nog lirieke bygevoeg. “Die Stem” is deur CJ Langenhoven geskryf en deur Marthinus Lourens de Villiers getoonset. Laasgenoemde se nasate is die kopiereg-erfgename van die melodie. Jean Rudolph, met die vertaling van “Die Stem”, is die enigste ander persoon wat teoreties tantieme kan kry vir die vertaling van die laaste deel van die volkslied.

Dean sê jy hoef nie te worry dat die polisie jou bier en chips voor die TV gaan gryp en jou dagvaar vir kopieregskending as jy die volkslied sing nie.

As a question of fact it would appear that none of these copyright owners are exercising any such claims and in the view of the Vine Oracle this is as it should be because the country’s national anthem should be free for use by all, and it would be at variance with public policy for it to be otherwise.

Lirieke is ietwat moeiliker as om note in jou binnesak te glip omdat ’n spesifieke woord (noem dit maar die ekwivalent van ’n musikale noot) nie so maklik vervang kan word nie. Dit wil sê die betekenis van ’n sin is meer vatbaar vir veranderinge. Lianie May is weer aan die woord: “Want jy soen my nie meer nie, soen my nie meer helikopter.”

Hier verbrokkel die liefdesteleurstelling met ’n enkele woord. In die artikel “The myth of the idea/Expression dichotomy in copyright law” word daar verwys na ’n Amerikaanse hofuitspraak in die 1800’s wat die grondbeginsels gelê het vir die debat oor hoe om die uniekheid van ’n geskrewe werk te probeer peil:

The subject of property is the order of words in the author's composition; not the words themselves, they being analogous to the elements of matter, which are not appropriated unless combined …

As musiek georganiseerde klank is, kan mens met redelike sekerheid die idee op literatuur van toepassing maak. George Orwell se Animal farm is bekend, nie vir die woorde wat hy gebruik nie, maar die volgorde waarin hulle op die bladsye verskyn. Indien jy die boek sou wou opknip en die lug op gooi kan jy die volgorde waarin hulle op die vloer beland net so verkoop. Wie weet, miskien is Fani mal Arm die volgende Fifty shades of Grey.

Een van die bekendste en hartseerste gevalle van kopieregskending in Suid-Afrika behels die alombekende “The lion sleeps tonight.” Die regsgeding en gevolglike familietwis word netjies uiteengesit in die dokumentêr The lion’s share op Netflix. Rian Malan het in die argiewe gaan grawe en afgekom op bewyse dat Solomon Linda die geregtelike eienaar van die treffer is en dat hy ’n skatryk man sou wees as dit nie vir ’n paar onderduimse Amerikaners nie was. Owen Dean het uiteindelik vir Disney oor die kole gehaal oor die gebruik van Linda se skepping in The Lion King. ’n Onbekende, en sekerlik ongekende, bedrag is nou in Linda se kinders se sak.

’n Paar jaar gelede sit ek in ’n trein op pad na Barcelona. ’n Groep skoolkinders vergader in die voorste deel van die kompartement en sing “The lion sleeps tonight” uit volle bors, met ’n meisie wat die koor met ’n ukulele begelei. Iets was nie pluis met die uitvoering nie en eers jare later het ek besef wat die “probleem” was. Al die note, ritmes en korrekte akkoorde en die struktuur van die lied was in plek. Maar die siel, gees, hart en oemf, of watter ongeskrewe elemente ook al in ’n komposisie verskuil is, was geheel en al afwesig. Iewers tussen Solomon Linda se oorspronklike opname van 1932 en die talle verwerkings en mutasies wat sedertdien gevolg het, het die lied se hartklop verlore gegaan en as ’n sug eerder as ’n gebrul tussen die klik-klak verdwyn.

So daar is geen reël wat kan bepaal wat musiek aan jou doen as dit met die regte bedoelings en onverskrokke eerlikheid opgevoer word nie. Musiek is georganiseerde klanke. Lirieke is georganiseerde letters en woorde, maar emosie is tog die einddoel van enige kunsvorm. Of dit nou vrees, opwinding, hartseer, haat, aggressie, liefde of intellektuele stimulasie is. Iets behoort te verander binne die persoon wat dit ervaar. ’n Toegeeteken is ook deur iemand geverf, maar dit spoor jou nie aan om jou liefde aan die verkeersirkel te verklaar nie.

Eerlikheid is moontlik die gemene deler hier. As jou longe brand en jy jou geliefde mis terwyl jy oor ’n mikrofoon skree en jou kitaar se snaar gebreek het; of as jy verlies ervaar het en jy gaan koop ’n blik verf en spat jou opregte bedoelings teen die sitkamermuur; of as jy jou frustrasie oor ’n verslawing in woorde omskep …

Is dit nie maar wat mense eintlik probeer steel nie?

Bronne:

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top