Kirvan Fortuin was ’n Suid-Afrikaanse danser, choreograaf en LGBTQI-aktivis. Hy is die oggend van 13 Junie 2020 in Macassar doodgesteek en is onderweg na die hospitaal dood.
Marlene le Roux, die uitvoerende hoof van die Kunstekaap, bring hulde aan hom.
Kirvan Fortuin was soos ’n seun vir my.
Hy het altyd teen die gety geswem. Altyd geweet dat hy iets wil word in die gemeenskap.
Macassar is ’n plek wat destyds vir bruinmense tydens die Apartheidera geskep is.
Musiek en dans was nooit formeel in ons skole aangebied nie.
Ek was nog ’n vakadviseur in die Department van die Wes-Kaap, toe ek deel word van die Field Band Foundation wat gestig is om jongmense musiekinstrumente te laat speel en ook hul danstalente te laat uitleef. Ons het Belinda Jackson, ’n opgeleide musiekonderwyser, aangestel. Sy het wonders verrig. En Kirvan het maar so onder my arm gebly. En deel van Artscape se skoleprogram geword. Maar hy was doelgerig en wou balletklasse bywoon. In Graad 11 het Kirvan toe balletklasse geneem. Natuurlik baie laat in sy lewe.
Hy is toe ’n beurs aangebied by UCT (Universiteit van Kaapstad) se dansskool en daarna het hy gaan studeer by Codarts, ’n beroemde kunsteskool in Rotterdam. En hy het onder die bestes gefloreer.
Ek het Nederland toe gegaan na sy graduering om Codarts te gaan bedank. En weereens het ek besef, Kirvan het ook híér die skool eintlik bestuur. Hy was doelgerig.
Die wêreld deurgereis, maar bowenal nooit van Macassar vergeet nie. Hy het altyd vir my gesê: “Marlene, ek moet ’n verskil maak. Ek moet terugkom en die jeug inspireer.”
So begin my reis weer met Kirvan as ’n professionele kunstenaar en choreograaf om saam met hom nuwe werke te begin instudeer.
Ek het Kirvan op die verhoog gesit in ’n konsert vir Vryheidsdag, 27 April, met Archbishop Desmond Tutu in die gehoor. En Coenie was ook ’n gaskunstenaar. En onmiddellik het Coenie de Villiers gesê, hy is so begeesterd deur Kirvan se talent, dat hulle ’n produksie moet doen. Kirvan en Coenie het na my huis toe gekom om met my te praat oor ’n ballet vir my seun, Adam (wat oorlede is).
Kirvan, die menseregte-aktivis, wil Adam se verhaal as ’n gestremde seun in ’n ballet op Coenie se musiek vaslê. Maar ek het gesê: “Nee, Kirvan, kom ons kyk na iets anders.” En so is Ouma Katriena gebore. Coenie het navorsing gedoen oor Ouma Katriena en letterlik in die Kalahari gaan bly. Ek het al die negotiations gedoen.
En Kirvan het sy ware identiteit as ’n Khoisan ontdek. Dit was ’n deernisproses. Met Coenie se hemelse musiek en Kirvan se magiese danstalent.
Kirvan het inheemse danstaal, hedendaagse danstaal en klassieke dans saamgevoeg om ’n nuwe danstaal en beweging van die liggaam te ontwikkel.
Kirvan was ook ’n gayregte-aktivis en ek was een van sy eerste beoordelaars vir die Vogue Ball. Die eerste in Suid-Afrika, saam met Gert-Johan Coetzee, die ontwerper.
Ons het nog aan Gay Pride Month saamgewerk.
Gister was ek deel van die gemeenskap se “totsiens sê” aan ’n ikoon wat hulle nou eers besef. So ’n stilte het oor Macassar gedaal, oor skrikomdorp.
Kirvan se ouers se RDP-huis was ge-drape in sjiffon. Die sypaadjie met pienk sjiffon. Duisende het langs die strate gestaan, jong seuns en meisies het blaasorkeste gespeel en blomme voor sy ouers en broers kom lê. Net verslaenheid. Dignity in poverty. Kirvan was en is voor sy tyd gewees.
Ek huil nou soos ek skryf, want wat kan ek sê? Ons het al begin met die Ballet vir Adam.
Oral is hoofberigte in die wêreld: “Moord op briljante danser”. Maar Macassar is meer as die geweld.
Ek dink ook aan die meisie. 14 jaar oud. En gister het ek vir die gemeenskap gesê: “Kirvan sal nie wil hê ons moet haar veroordeel nie. Ons moet kyk wat is die oorsaak.”
En hoe red ons haar lewe en nog so vele ander? Ons lewe kan nie net oor geweld gaan nie.
Too soon to leave us.
- Foto’s: verskaf
Lees ook
Buro: IG