Konsertverbod: Het kunstenaars dan meer kieme as geloofsleiers?

  • 0

Geloofsgroepe is sedert 1 Junie toegelaat om weer sake te doen, maar enige vorm van konserthou word steeds verbied. Op 25 Maart het die Departement van Kuns en Kultuur aangekondig dat R150 miljoen beskikbaar gestel is om kunstenaars finansieel by te staan weens die werksverlies wat deur COVID-19-regulasies teweeg gebring is. Kunstenaars het slegs nege dae gehad om aansoek te doen en om ’n magdom dokumentasie in orde te kry. Die departement het nagenoeg 5 000 aansoeke ontvang, maar slegs 480 aansoekers is teen einde Mei betaal. Daar is ook talle vrae rondom deursigtigheid oor wat die kriteria was waarvolgens fondse toegeken is.

Facebook, Twitter en Instagram is ’n slagveld van kritiek teen die regering sedert die aankondiging op 15 Maart dat alle teaters se deure moet sluit en dat enige byeenkomste vir die doel van vermaak onwettig is. Die vraag ontstaan dan wat kerk is en of musiek- en teateroptredes nie dalk oor dieselfde kam geskeer kan word as geloof nie. Die punt is nie hier om diepgaande teologiese en kunsfilosofieë teen mekaar op te weeg nie, maar eerder om die huidige teenstrydighede mbt die grendeltydregulasies op die tafel te sit vir ’n bietjie stof tot nadenke.

Daar is natuurlik ’n reeks voorwaardes waaraan kerkgroepe moet voldoen alvorens die eerste gebed van stapel gestuur mag word: Almal moet maskers dra, hul hande was en ’n afstand van 1,5 m tussen mense handhaaf. ’n Erediens mag ook nie langer as twee uur duur nie. Daar is ’n paar ander reëls wat ook geld, maar vir nou is dit belangrik om eers te kyk na ’n paar definisies wat van belang is vir die res van die artikel, soos uiteengesit in die Disaster Management Act: Directions: Measures to address, prevent and combat the spread of Coronavirus COVID-19 for religious gatherings:

Places of worship: Any place or premises usually used for religious practices; including churches, synagogues, mosques, temples and other recognized places of worship.

Religious gathering: A gathering at a place of worship for religious purposes.

Religious leader: A person recognized by a religious body as having some authority in that body.

Voorsang en algemene musiekbediening word toegelaat met die volgende riglyne: “Singing of hymns is limited to solo performances.” Dit is onduidelik of instrumentaliste ook toegelaat word om deel te neem. As jy preek of sing, hoef jy nie ’n masker te dra nie, solank jy jou afstand hou van ander mense wat die liturgiese ruimte met jou deel. Diegene wat kollekte opneem, mag die geld tel maar nie aan hulle gesigte vat voor daar hande geskrop is nie.

Daar is ’n paar slaggate in bogenoemde regulasies. Daar word na “solo performances” verwys. Wat gebeur as die predikant siek is en die voorsanger leiding neem en vir ’n uur sing? Mag daar dan twee sangers wees? Sou die polisie ’n besoek aflê aan hierdie spesifieke erediens, wie gaan hulle arresteer? Die sopraan of die alt?

Daar is verskeie kerkgroepe wat eredienste in teaters hou, onder andere by die Baxter-teater. Hoe word daar onderskei tussen “praise and worship” en ’n niegelowige musikant wat al sy inkomste vir die voorsienbare toekoms verloor het en deur ’n kerkgroep genader is om ’n paar tunes te kom speel? En as hy dan ’n deel van die kollekte sou kry? Dit kos R1 200 om ’n kerk te registreer en dit kan binne tien dae afgehandel word. En jy hoef nie ’n kwalifikasie te hê om ’n “religeous leader” te wees nie. Miskien is dit ’n gulde geleentheid vir verhoogkunstenaars.

Biskop Malusi Mpumlwana, sekretarisgeneraal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het die volgende stelling gemaak nadat hy met Ramaphosa en Dlamini-Zuma beraadslaag het oor die belang daarvan om kerke the heropen: “We had to present a case for churches because chruches have to pay rates and taxes and there is no income.”

Ramaphosa se antwoord hierop in sy staatsrede voor die oorskakeling na vlak 3 van die grendeltyd: “We understand the great impact that the closure of places of worship has had on members of the faith community and that this has worsened the distress of communities who are unable to worship in congregation.”

Daar is soveel denkfoute, blatante onkunde en dubbelsinnighede verskuil in die staat se hantering van hierdie situasie dat mens maar net ’n glas wyn kan skink en huil of lag. Of dalk kan mens ’n oomblik neem, die staat se arrogansie laat vaar en jou eie idee van wat ’n geloofservaring is, vergelyk met die antieke Grieke se wyshede oor die betekenis van tyd mbt sake van die hart. Na my mening het hulle die geloofservaring wat gepaardgaan met goeie rock ’n roll (en natuurlik alle ander kunsvorme) se uitwerking op die siel voorspel. Veronderstel jou lewe is ’n tweedimensionele plein. Kronos is die X-as en kairos die Y-as. Kronos is reële tyd en kwantifiseerbar. Tienuur is jou volgende afspraak. Om eenuur moet jy die hond kos gee ens. Kairos is daardie oomblik wanneer die werklikheid se stophorlosie breek en jy vergeet van die alledaagse en jy transendeer of vaar op na die hemel – die plek wat religieuse ervarings/ekstase gelowiges én niegelowiges beskore is. Met die lees van ’n magdom opinies oor hierdie sage het die volgende herinnering weer by my kom spook. Dit was die dag toe ek kairos vir die eerste keer verstaan het.

Ek was vir sewe jaar die musiekleier van ’n kerk in Stellenbosch en het elke Sondag na honderde gesigte gekyk tydens die 20 minute van gemeentesang voor die aanvang van die preek. Een aand na afloop van ’n Pinksterdiens waar ek gespeel het, vaar ek die dorp in om ’n show te gaan kyk van Fokofpolisiekar. Ek het talle gemeentelede daar raakgeloop, steeds in hulle netjiese kerkdrag. Soos die band begin speel, beur ek my pad na die voorste linies van die Fokof-troepe, net betyds vir die song “Ek skyn (heilig)”. Daar was sweet, baie bier en ’n maalkolk van lywe. My een vriend wat reg langs my gedans het, was so dronk dat hy my skaars herken het. Iemand stamp my van agter af en ek val halflyf op die verhoog. Met die landing stamp ek die mikrofoon van Johnny De Ridder, die kitaarspeler, dat dit bykans deur die tromme ploeg. Dit was óf instink, óf ’n gebaar van welwillendheid, maar binne ’n japtrap het ek die mikrofoonstaander in my hand en ek draai op my rug om dit reg voor sy mond te kan hou. In hierdie posisie kon ek duidelik die gesigte sien van die voorste ry mense. Ek onthou dit soos gister, want ek kon sweer hulle gesigte in hierdie gebou van Sodom en Gomorra het op dieselfde manier na die dak (of hemele) gestaar as die gemeentelede in my kerk tydens gebed.

So wie is die staat om te bepaal hoe en waar jy moet bid? Ek weet dit is dalk sleg vir sinvolle redenering, maar as iemand skree oor skynheiligheid sonder byvoeglike naamwoorde en iemand anders fluister dieselfde, maar verdraaide, boodskap met gevleuelde taal, geklee in ’n pak, dan neig ek om my oor in die rigting van anargie te rig. 

Ek skyn (heilig)

Fokofpolisiekar

Te vinnig, te veel
Ek sal al my beloftes breek, as jy my net ’n kans kan gee
Wie sal vir my liefde maak?
Wie sal vir my liefde maak?
As die somer so lekker is, hoekom voel ek so fuck’t?

Ek skyn
Ek skyn heilig, onder die straat lig
Onder die maan lig
Sê vir my as die rewolusie verby is

Geliefdes
Ons weet
’n Hond sal altyd na sy braaksel toe terugkeer
Moenie so verbaas wees nie
Gooi net ’n bietjie vet op die vuur
Doos siek en melancholies

Ek skyn
Ek skyn heilig, onder die straat lig
Onder die maan lig
Sê vir my as die rewolusie verby is

Ek bly verveeld en my bene is seer
Ek staan voor jou deur en my kop klop

Bronne

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top