Die dokumentêre program ’n Bus uit Oekraïne, wat op Maandag 9 Januarie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, vertel ’n storie oor ménse wie se lewens verwoes word deur die oorlog. Dit is nie ’n oorlogfliek nie. Juis nie.

In ’n bomskuiling, Oekraïne
Eintlik is die bus wat 52 mense na veiligheid gebring het bloot ’n metafoor. Die mense op daardie bus is belangrik. Hulle verteenwoordig ’n mikrokosmos. Deur hulle oë sien ons wat Poetin se selfsugtige optrede aan miljoene se lewens doen. Meer nog – ons kom vinnig agter dat ons lewens in Suid-Afrika dalk ook nog geraak sal word deur Poetin se magsmisbruik.
Ek is genooi om die film te kyk vier dae voor dit amptelik uitgesaai word. Hier is my indrukke, en die redes waarom ek dit vir feitlik enigeen sou aanbeveel.
Dalk moet ek begin met ’n waarskuwing: Reg aan die begin van die film is daar beelde wat kan ontstel. As jy erg sensitief is, probeer om die eerste vyf minute te luister en nie te kyk nie. Ook sou ek wonder of dit vir jong kinders geskik is. Hoewel die einde my in trane gehad het oor die belewenis van ’n sesjarige, sou ek versigtig wees om mense onder veertien hieraan bloot te stel.
Oorlog is ontstellend.
Dis res van ons? Kyk dit as jy kan.
Die persverklaring sê: “Die fokus is die merkwaardige verhaal van die Suid-Afrikaner Johan Oldenburg wat 52 Oekraïniese vlugtelinge gered en vervoer het na Nederland.” Dit is deels korrek, maar eintlik handel die film oor die vlugtelinge, en oor Oldenburg se betrokkenheid by hulle. Die film is nie ’n verheerliking van Oldenburg nie. Eintlik word sy betrokkenheid by die krisis erg onderspeel. Hy en sy bus, en sy redes waarom hy die bus gereël het, is wel die vertrekpunt van ’n Bus uit Oekraïne.
Op pad na vryheid
Oldenburg se eie storie is merkwaardig. Martelize Brink is die een wat hom rustig laat vertel hoe hy self as vlugteling in Nederland aangekom het met net twee tasse op sy naam. Vandag is hy die uitvoerende hoof van ’n enorme bedryf wat jongmense voorberei vir die arbeidsmark én wat konsultasiedienste bied aan ander groot maatskappye. Taamlik onlangs het Oldenburg ook ontpop as mode-ontwerper. Sy eie ervaring as vlugteling het hom die nodige empatie gegee om betrokke te raak by die lewens van ander wat moes vlug. Sy rol in die sakewêreld het hom die geld en die ervaring gegee om ’n verskil te gaan maak.
Oldenburg kon in Nederland sit en toutjies trek, maar hy het nie. Hy is na die aksiesones toe. Hy het gaan brood opsny en smeer, hy het gaan jogurt koop toe brood die honger mae omkrap, hy het gesorg vir sanitêre doekies vir die vroue. Oldenburg was self op die bus wat die vlugtelinge vervoer het. Sy betrokkenheid het egter nie daar opgehou nie. Op kamera verwys hy bloot daarna dat hy in gesprek was mense in Nederland om vlugtelinge te huisves, maar uit dít wat die Oekraïense vertellers op kamera sê, besef die kyker dat die busrit maar net die begin van Oldenburg se betrokkenheid in hulle lewens was. Hy is steeds daar vir hulle.
Johan Oldenburg en Oksana Tsiktoz, een van die vlugtelinge
Die vertellings van vroue oor hul verliese, hul vrese, hul angs vir geliefdes, hul skuldgevoelens en hul onsekerheid oor die toekoms – dit is waaroor die dokkie handel. Dit maak die oorlog menslik.
WH Auden het destyds oor ’n ander oorlog gedig:
Here war is simple like a monument:
A telephone is speaking to a man;
Flags on a map assert that troops were sent;
Dit is hoe baie van ons (genadiglik) die oorlog in Oekraïne ervaar. Dit is iets wat dáár gebeur. In Suid-Afrika is daar selfs diegene wat Poetin se leuens oorvertel sonder enige insae in die geskiedenis van die mense wat nou vir hul lewens veg.
Oldenburg maak dan die interessante opmerking: Wat as Poetin verder sou gaan en NAVO sou dwing om betrokke te raak? Oldenburg het baie goeie vriende in Rusland wat absoluut gekant is teen die oorlog. Maar wat sou gebeur as Nederland haarself moet verdedig? Oldenburg sou opgeroep kon word. En Poetin sal nog meer Russe dwing om ’n geweer op te neem. Sal vriende dan op vriende moet skiet?
Op kamera sê Oldenburg dit nie, maar Suid-Afrika sit met ’n regering wat soos skoothondjies agter Poetin aanhol. Sal Suid-Afrika troepe wil stuur om Poetin se sotterny te ondersteun? Sal hulle my of my seun wil oproep om teen demokrasie te gaan baklei?
Soos Auden sê:
And we can watch a thousand faces
Made active by one lie
Deur een vrou ná die ander toe te laat om hul ervarings op kamera te deel, word Poetin se leuens al hoe duideliker. Die vroue laat ’n mens toe om saam met Auden anders te kyk na die kaart van Oekraïne:
And maps can really point to places
Where life is evil now
Johan Oldenburg, wat as jong seun geboelie is oor hy gay was en moes vlug toe ’n donkerkleurige seun te na aan hom kom in die apartheidsjare, het nou ’n groot verskil gaan maak teen die uber-boelie Poetin; en die kameraspan laat diegene wat moes vlug van “where life is evil now” toe om menslike stemme te wees teen Poetin en sy leuens.
Die weergawe van ’n Bus uit Oekraïne wat ek gesien het, is lank. Dit duur 1 uur en 15 minute. Iemand wat ’n kollig sou wou skyn op Oldenburg, sou die hele film kon afredigeer na 20 minute. Hulle het nie. Die span het die mense van Oekraïne die geleentheid gegee om te praat. Daarvoor het ek elke oomblik stilgesit om te luister.
- ’n Bus uit Oekraïne word Maandag 9 Januarie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
- Alle foto’s is verskaf deur kykNET.
Lees ook:
Persverklaring: ’n Bus uit Oekraïne Maandag 9 Januarie uitgesaai
Berigte te velde: Eben Viktor oor Rusland se nuutste taktiek