Nuwe projekte sit woema in erfenis en opvoeding

  • 0

September is Erfenismaand in Suid-Afrika en drie nuwe, merkwaardige opvoedingsprojekte waarby wynplase en gemeenskappe hande neem, het onlangs die lig gesien en vorm nuwe fondamente vir die erfenis van môre, skryf Clifford Roberts.

Op Bonnievale in die Suid-Kaap het die splinternuwe Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool (JGT) verlede jaar sy deure geopen, terwyl ’n uitsonderlike opgradering van die historiese Botha’s Halte Laerskool naby Worcester en ’n klein maar kragtige opvoedingsentrum op Hazendal Wynlandgoed op Stellenbosch vanjaar voltooi is.

Die werk by Botha's Halte Laerskool is een van die jongste projekte wat voltooi is. Van die voormalige klein skooltjie tussen plase is daar weinig oor in die nuwe innoverende gebou. Dit is in die 1920’s as enkelgeboutjie gestig. Na aansienlike verbouing, is die volle skool in April heropen. Dit kan nou sowat 250 leerders – omtrent dubbel sy vorige kapasiteit – akkommodeer, van Graad R tot sewe.

Die skool is wêrelde verwyder van die enkelgeboutjie wat bykans 100 jaar gelede opgerig is. (Foto: Keith Quixley)

Die speelterrein van die skool waar kinders voor en ná skool en tydens pouses kan baljaar. (Foto: Meyer & Associates)

Een van die klaskamers waar interaktiewe witborde en ander tegnologiese hulpmiddels ingespan word. (Foto: Keith Quixley)

Die indrukwekkende rekenaarkamer se geel, groen en blou is speels ingerig om kinders se aandag gefokus te hou. (Foto: Keith Quixley)

Selfs die biblioteek is ’n vrolike en ligte plek. (Foto: Meyer & Associates)

Die fokus van die ontwerp was om die beste opvoedkundige omgewing te skep met behulp van digitale tegnologie oral in die gebou. Dit sluit toestelle in soos interaktiewe witborde wat aan die Internet gekoppel is.

Selfs verfkleur en lig is in ag geneem om die ideale leer-omgewing te laat realiseer. Rekenaars sit nou sy-aan-sy met boeke en daar is areas geskep vir individuele onderrig.

Nuwe son- en wind-opwekking is in gebruik geneem, wat die skool toelaat om nie meer van Eskom afhanklik te wees nie, terwyl die voordele daarvan in interaktiewe uitstallings in die skool gedemonstreer word. Reënwater word opgevang en in ’n reservoir geberg vir besproeiing, wat aangevul word met boorgat- en behandelde afvalwater.

Opvoedkundige speel-areas is ook geskep wat ’n suurlemoenboord en ’n groentetuin insluit.

Die skool word steeds deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) bedryf en onderwysers ontvang deurlopende opleiding ten opsigte van die nuutste tegnologiese leermiddels. Hulle word ook ondersteun deur die WKOD en Stellenbosch Universiteit se Sentrum vir Pedagogie.

Die opgradering van die skool is deur die argiteksfirma Meyer & Associates Architects, Urban Designers onderneem in ’n vennootskap tussen die WKOD en die aangrensende Bosjes-plaas se liefdadigheidsafdeling, die Bosjes Trust. Die plaas is bekend vir sy wyne, restaurant en indrukwekkende troukapel, wat op ’n groot dam dryf.

Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool

JGT is die grootste van die drie bogenoemde projekte en was ’n droom wat by Bonnievalers sy ontstaan gehad het. Die dorp is sowat 1,5-uur se ry oos van Kaapstad en het verskeie laerskole, maar slegs een hoërskool gehad. Heelwat kinders moes eenvoudig skool los.

Aansienlike armoede in die omgewing het ook maatskaplike uitdagings vererger. Inwoners het by die WKOD aangeklop om ’n oplossing te vind en die plan vir ’n nuwe skool is gebore.

Die groot hindernis wat oorkom moes word, was koste. Die WKOD het geen begroting vir ’n nuwe skool in Bonnievale gehad nie, maar het ingestem om 40% van die projek te dek. Die res – R65miljoen – sou die gemeenskap moes bymekaar maak.

Die Jakes Gerwel Tegniese Skool vanuit die lug. Dit grens aan die Weltevrede Wynlandgoed se wingerde.

Die sportvelde grens aan die Weltevrede Wynlandgoed-wingerde.

’n Finansieringstrust is gestig, met Bonnievalers Wilhelm de Wet, ’n aktuaris; wynboer Philip Jonker van Weltevrede Wynlandgoed, die ingenieur Curren Kühn en die kleuterskoolhoof, Augusta Brand, as trustees. Daarby saam is ’n beheerliggaam van 15 lede op die been gebring.

Die grond is deur ’n reuseskenking aan die JGT-projek bemaak en die skool is so neffens die Weltevrede-wingerde gebou.

Stadig maar seker het die stukke van die legkaart in plek geval: verskeie plaaslike kundiges het hul tyd en kennis gratis aangebied saam met maatskappye, wat ook materiaal geskenk het. “Daar is gemeenskapsdae gereël waar mense kon bydra – selfs al was dit net om te help om klippies op die sportvelde op te tel,” vertel Curren. Bakstene kon geborg word teen so min as R2,50 elk – ’n projek wat op die voormuur van die plaaslike supermark uitgestal en bemark is.

Met die voltooiing van sy eerste fase in Januarie 2018 het die skool sy deure geopen met ’n aanbieding as hoofstroom-skool met tegniese vakke, asook vaardigheidsopleiding vir beroepsgerigtheid.

Philip was ook een van die deelnemers by die onlangse kongres van Agri Weskaap. Tydens ’n paneelbespreking oor die Wes-Kaapse landbousektor se fokus op sosiaal-maatskaplike waardetoevoeging, het hy gesê: “Landbouers bou die land en landelike gemeenskappe het game changers nodig”.

“Niemand kan dit bekostig om ’n ongesonde gemeenskap om hulle te hê nie. Daar is genoeg geloof in hierdie saal om berge te versit.”

Philip Jonker, Ivor Price, Johann Kotze, Devin Osborne en Johann Boonzaaier by die Agri Weskaap-kongres.

Hazendal se Wonderdal

Een van die bekende wynlandgoedere van Stellenbosch se Bottelary-streek, Hazendal Wynlandgoed, het in Julie vanjaar ’n opvoedkundige sentrum tot sy onlangse opgraderings toegevoeg.

Die Wonderdal-sentrum is ’n tegnologie-gedrewe speel-ervaring vir kinders 5 - 13 jaar oud. Dit word volgens die amptelike skoolkurrikulum bedryf en is gemik op kinders van graad R tot sewe.

Die sentrum het die nuutste tegnologie en fokus op alle aspekte van die skoolkurrikulum.

Volgens die besturende direkteur, Shlomi Azar, het sy kinders in Israel en Engeland toegang tot ongelooflike speelplekke gehad toe hulle daar gewoon het. “Daar is min sulke openbare plekke in Suid-Afrika.”

Met die uitgebreide opknappings wat by Hazendal plaasgevind het, het hy en sy vrou, Simone Voloshin, die geleentheid aangegryp om hul droom te verwesenlik, om ’n unieke plek vir kinders te skep. Hulle het konsultante ingekry en Wonderdal is gebore.

Wonderdal is ’n mengsel van fisiese en verstandelik-stimulerende aktiwiteite wat met die hulp van tegnologie daarop mik om kinders te help leer terwyl hulle speel. Opgeleide personeel help kinders met hul aktiwiteite en staan as Wonderpals bekend.

Met die hulp van opvoedkundige konsultante, is spesiale pakkette vir onderwysers geskep wat hulle toelaat om ’n skakel tussen hulle leerders se ervarings en die klaskamer te bewerkstellig. Dit fasiliteer verdere klaskamer-ervaring in een van Wonderdal se drie ten volle toegeruste klaskamers.

Die fokus van die ervaring is aan onderwerpe gekoppel: natuurwetenskappe en lewensvaardighede, insluitend die verskeie vorms van energie, plantegroei en gesonde eetgewoontes.

Deel van die pret is dat kinders op hul reis by Wonderdal deur virtuele realiteitskaraktertjies – hul gidse – wat bekendstaan as Amuki, vergesel word.

Die sentrum is ’n moderne en ligte gebou wat neffens die landgoed se kunsgallery en wynproelokaal gebou is.

Op hierdie manier kry kinders nie net kans om aspekte soos empatie en versorging van nader te leer ken nie, hulle kan assosieer met die karaktertjies, wat almal verskillende karakter-eienskappe het.

Die drie projekte is ’n stap in die regte rigting, waar die publiek hande neem met wynplase en terugploeg in hul jeug se opvoeding.

  • Foto’s: Clifford Roberts, tensy anders aangedui
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top