Toe president Cyril Ramaphosa gewone mense uitnooi om vanoggend saam met hom te stap, kon ek nie anders as om daar te wees nie.
Ons het om 05:30 in Gugulethu bymekaar gekom en van daar na die Athlone Stadion gestap.
Presies betyds was sy motors daar. Veel minder motors as wanneer die vorige prez beweeg het.
Ramaphosa se sekuriteitspan het dadelik om hom saamgepak, want elkeen van die ongeveer 50 mense wat die uitnodiging aanvaar het, wou natuurlik ’n selfie neem.
Toe die situasie stabiliseer, het die president sy span weggestoot en met die mense begin gesels.
Flink het hy almal opgekommandeer en begin stap.
Dit is moeilik om nie liries te wees oor sy leierskapstyl nie. So in die donker het een van die stappers, in Xhosa, vir haar vriendin gesê: “Kyk, hy het gesê 05:30. En ons het 05:30 begin.”
’n Entjie verder af het een van ANC-ondersteuners gesê: “For the last nine years we have been stressing. Now we are destressing!”
Anders as met vorige leiers, en ’n paar toenmalige ANC-jeugligaleiers, was hier geen masjiengewere nie. Daar was baie sekuriteit, en hulle was ferm, maar het meer gekonsentreer op die voortbeweeg van die groep stappers as om mense weg te hou van ons leier. Almal was in gemaklike sportklere en geen sigbare wapens is vertoon nie – hoewel ek nie sou waag om iets te doen nie. Hierdie heavies het sagte hande en harde spiere.
Ramaphosa het opsetlik mense ingetrek, gesels, vrae gevra en het selfs beloof om een van die stories wat hy vanoggend gehoor het, in die parlement te deel vanmiddag. Luister maar!
Almal wou 'n foto van die president kry.
Die legendariese fotograaf, Fanie Jason, het al die pad saamgestap.
Naby die Athlone Stadion het ’n vrou met 'n Suid-Afrikaanse vlag gestaan en geskree: “We love you, Mister President!”
Ramaphosa het van sy roete afgewyk, na haar toe gestap en haar ’n stywe druk gegee, toe ’n aantal woorde gewissel.
By die stadion het hy vir sy sekuriteit gesê: “Let’s have a photo session, everyone here wants to get on with their lives.” Ja, hy het na die stappers en die pers gewys. Toe het hy almal bedank wat saamgestap het en het almal in Suid-Afrika aangemoedig om ook oefening te doen.
Daar was iets baie spesiaal aan vanoggend se 6 km stap. Laas met die verkiesing in 1994 het ek soveel openlike opwinding gesien oor die land se politiek.
Natuurlik het ek, namens die Durbanville Kinderhuis, nie skoene gedra nie. Toe ek, ná die president vertrek het, van Athlone af huis toe hardloop, was daar ’n groep werkers agter op ’n bakkie wat vir my spontaan ’n paar waterstewels aanbied.
Suid-Afrika is weer ’n land van hoop.
Buro: NM