“Hallo, is aunt Elsie hier? Ek het my baba gebring om gesmeer te word.”
Dis woorde wat ek regdeur my kinderjare gehoor het. Een van ons (die kleinkinders) sou dan opstaan, die ketel gaan aansit, en ’n tee- en eetlepel regsit. Ons sal ook die Vaseline en Lennon-medisyne na die kamer toe vat, waar die persoon en my ouma is.
My ouma, Elsie Bailey – of mamme Essie vir my – smeer swanger vroue en babas.
Sy is ’n vroedvrou en sy doen dit al vir so lank as wat ek kan onthou. Dit is ’n skill wat sy by haar ma, Annie Gewers, geleer het.
Ouma Annie en haar familie het op Winters Rush-stasie in die Noord-Kaap gebly, ver van dokters en hospitale geleë.
…………
“Ons familie is nie seker waar en hoe die windpoeier begin het nie, want my oumagrootjie is in 2001 op die ouderdom van 95 jaar oorlede. Haar boererate is in ’n mate haar erfenis aan ons.”
…………
As iemand siek was, moes hulle dikwels hulself dokter met kruie soos poepentjie en dassiepis uit die tuin of veld. Ouma Annie het ’n vroedvrou geword wat swanger vroue gesmeer het teen ’n fooitjie. Sy het ook babas in die lewe gebring en hulle versorg, veral die eerste tien dae van hul lewe.
My ouma, mamme Essie, het dit by haar geleer en so die “besigheid” oorgeneem. My ma se jongste suster, Belinda, het ook later by Mamme geleer en sy is die een wat ons nou pla met: “Wat kan ek vir hierdie of daardie kwaal gebruik?”
Ons hoop in ’n sekere mate om die huisrate in die familie te behou. Ek self smeer familielede wat braaf genoeg is, dit is my pa en ouma. Die res van my familie kla dat ek “te hard” druk – dus dink ek nie ek is die geskikte erfgenaam vir die besigheid nie.
Nuwe moeders bring gewoonlik hul kinders na my ouma wanneer hulle twee of drie maande oud is. Die smeer, glo ons, help om die winde uit te vryf.
Die babas word liggies gesmeer, gewoonlik met net die duim, omdat ’n baba te klein is en sy/haar beentjies sag is. Die babas moet nie geëet of iets gedrink het voordat hulle gesmeer word nie, want anders kots hulle.
Wanneer die baba klaar gesmeer is kry hy/sy windpoeier, Lennon-medisyne, en word geborsvoed deur die moeder of met ’n bottel en oor die skouer gehou, terwyl die ma liggies oor sy/haar rug vryf tot die baba windbreek.
Die ouers glo dat die kinders rustiger slaap na so ’n smeersessie.
Die drie hoofbestanddele van windpoeier (Foto: Pixabay.com)
Ons familie is nie seker waar en hoe die windpoeier begin het nie, want my oumagrootjie is in 2001 op die ouderdom van 95 jaar oorlede. Haar boererate is in ’n mate haar erfenis aan ons.
My ouma het vir my die resep vir windpoeier aangestuur:
Bestanddele van windpoeier
- ’n volstruiseierdop
- suiker
- Disprin
- gedroogde poepentjie (kruie wat in die veld groei)
- dassiepis (van kruiewinkels).
Hoe word die poeier gemaak?
- Die volstruiseier word gebraai/geskroei tot dit ligbruin is.
- Voeg die oorblywende bestanddele by die volstruiseierdop en maal fyn. Dit word aan die kleintjie gegee, ongeveer ’n mespunt se hoeveelheid windpoeier op sy tong.
Windpoeier (Foto: Macaylah Bailey)
Na die smeersessie kry die baba ook Lennon-medisyne in:
- ’n druppel behoedmiddel
- een druppel van Haarlemensis
- ’n druppel Wonderkronessens.
Hierdie medisyne word saam met ’n eetlepel afgekoelde kookwater gemeng en vir die baba ingegee. Sommige babas hou daarvan en lek die lepel af; van die ander gee ’n geveg af. Die ma kry ook ’n week se windpoeier om een keer ’n dag vir die baba te gee.
Die windpoeier word ook aangepas vir grootmense, met kamakoe (African potato) as ’n vervangende bestanddeel. Maal die kamakoe, gedroogde poepentjie en die volstruiseierdop tot dit fyn is. Die poeier help gewoonlik vir winde en maagirritasies.
Waar kry sy die kruie?
My ouma het groen vingers, maar sy kweek nie hierdie kruie nie. ’n Vrou, aunt Babara Landsman, in ons dorpie verkoop die kruie; die duurste is kamakoe, omdat dit die skaarsste is. ’n Eetlepel kamakoe kos R20.
Buro: MvH