Peter R de Vries geskiet: ’n Aanval op joernalistiek, ’n hoeksteen van die regstaat

  • 0

Redaksionele nota: Peter R de Vries het op 15 Julie 2021 aan sy wonde beswyk, ’n week na hierdie artikel geskryf is.

In Nederland is Peter R de Vries ’n huishoudelike naam. Daar is geen ander misdaadverslaggewer wat meer erkenning, selfs by tye kontroversie, geniet in Nederland nie.

Hy is veral bekend daarvoor dat hy sake wat koud geword het, sal oopkrap.

De Telegraaf, ’n Nederlandse dagblad, het dit Woensdagoggend so verwoord: “Als Peter zich met je zaak gaat bemoeien, dan weet je zeker dat die niet in de vergetelheid zal verdwijnen.”

Sy werklike persona lees ’n bietjie soos dié van ’n fiksieheld, want De Vries se televisieprogram alleen het gehelp om talle moordsake op te los, en dit is maar een aspek van sy werk.

Direk uit die middelbare skool het hy by De Telegraaf gaan werk. Daar is ’n moordsaak aan hom toegewys om oor te skryf en hy het gewoon nooit opgehou nie. Dié koerant beweer dat De Vries reeds meer as 500 moordsake gedurende sy loopbaan ondersoek het. Ook het hy verdwynings opgelos en talle bedrieërs, swendelaars, afpersers en seksoortreders aan die pen laat ry.

De Vries is ook die skrywer van ’n wegholverkoper, The kidnapping of Alfred Heineken, wat handel oor Freddy Heineken wat op 9 November 1983 in Amsterdam ontvoer is vir ’n losprys van US$11 miljoen. In 2015 is ’n film, gebaseer op die boek, vrygestel met niemand anders nie as Anthony Hopkins in die rol van Heineken.

In 2002 het de Vries, na agt jaar van ondersoek, twee mense uit die tronk laat bevry deur te bewys dat hulle verkeerdelik deur ’n Nederlandse hof aan moord skuldig bevind is.

In 2003 het hy rooi gesigte in die koningshuis ontketen toe hy daarop gewys het dat prinses Mabel van Oranje, die skoonsus van die huidige koning, verbasende bande met Klaas Bruinsma, ’n dwelmbaas gehad het.

In 2008 het hy ’n Emmy-toekenning gekry vir sy verslaggewing oor die verdwyning van Natalee Holloway, ’n Amerikaanse meisie wat op 30 Mei 2005 gewoon spoorloos verdwyn het terwyl sy in die Karibiese Eilande vakansie gehou het. Meer as sewe miljoen Nederlanders het na die uitsending gekyk waarin hy sy bevindinge oor Holloway bekendgemaak het. De Vries het onder andere van versteekte kameras gebruik gemaak om verskeie gesprekke op te neem met van die verdagtes in Holloway se verdwyning.

Natalee se ma, Beth Holloway, het de Vries na die toekenningsaand vergesel.

In 2010 het De Vries ’n kamera wat in ’n balpuntpen versteek was, gebruik om iemand op te neem wat kwansuis beweer dat hy ’n mededinger in die sekshandel sou wou laat vermoor. Google is selfs in 2104 by die saak betrek toe die beweerde oortreder aangevoer het dat Google se soektogte sy naam bekend maak – al het De Vries dit nie in 2010 in die uitsending gedoen nie.

Nabil B*

Op 18 September 2019 is Derk Wiersum, die advokaat van Nabil B, voor sy huis doodgeskiet.

Nabil B is ’n staatsgetuie in die saak teen Ridouan Taghi. Taghi staan tereg op verskeie klagte van moord – wat hy na bewering sou gereël het – en meerdere dwelmklagte.

Nabil B se broer is ook vermoor dae ná hy ’n staatsgetuie geword het.

Danksy die moord op Wierenga is Nabil B is toe sonder ’n regsverteenwoordiger, want geen advokate wou hul lewens waag om hom te verdedig nie.

Niemand anders nie as Peter R de Vries het aangemeld om Nabil B as “vertrouwenspersoon” in die hof by te staan. Dié term is nie in die Nederlandse reg bekend nie, maar deur homself só voor te doen kon De Vries toegang kry tot inligting wat geen ander joernaliste kon kry nie. Hieroor is vele vrae gevra, deur sowel ander joernaliste as die Nederlandse regstelsel, maar aangesien geen advokaat dit wou doen nie, het De Vries skouers opgetrek en gesê hy sal Nabil B bystaan.

Op 14 Mei 2019, maande voor dié ongewone toetrede as vertrouenspersoon vir Nabil B,  het De Vries in die openbaar gesê dat Ridouan Taghi sy naam op ’n moordlys geplaas het, waarop Taghi ewe uit die tronk ’n brief aan De Vries geskryf het om te sê hy het niks te vrees nie.

Weens regskwellinge dat De Vries gewoon nie toegerus is om Nabil B na behore by te staan nie, is daar uiteindelik wel ’n advokaat aan die staatsgetuie toegesê, maar De Vries bly steeds die vertrouenspersoon in die saak.

Nou word talle vrae weer gevra oor Taghi se moontlike rol in Dinsdagaand se skietery.

’n Aanval op die regstaat

NRC Handelsblad noem die aanval op De Vries ’n aanslag op die regstaat.

Zowel de moord op de advocaat als de moordaanslag op de vertegenwoordiger van de kroongetuige De Vries zijn te beschouwen als directe aanslagen op de rechtsstaat. In nauwe zin omdat beiden een rol spelen in een belangrijk strafproces. De Vries in een officieuze rol en Wiersum als wettelijk vertegenwoordiger van een kroongetuige.

’n Ander groot koerant, Het Parool, stel dit veel sterker:

Met zijn beslissing kroongetuige Nabil B bij te staan, werd Peter R de Vries partij in een explosief onderwereldconflict. Dit maakt de moordaanslag een aanval op de rechtsstaat.

De Vries was geregtig op staatsbeskerming, maar het dit van die hand gewys.

In hierdie onderhoud, in 2018, vra die NU.nl-verslaggewer Chris Helt hom baie direk of hy beskerming gaan vra slegs as hy uiteindelik iets oorkom. Nee, sê De Vries. Hy het ’n koeëlvaste baadjie, maar hy het dit nog nooit aangehad nie.

Soos enige ander Amsterdammer het hy gestap waar hy wou, sonder enige lyfwagte.

De Vries is Dinsdagaand op ’n kort afstand in die kop geskiet.

Hy was ’n gas in ’n geselsprogram op TV en is geskiet kort ná hy te voet die TV-alteljee verlaat het.

Die aanslag op De Vries se lewe het skokgolwe deur Nederland gestuur en verskeie TV-programme is onderbreek om die nuus bekend te maak.

Twee mense is reeds in hegtenis geneem. Na bewering is een van Poolse afkoms en die ander een ’n Nederlander. Die polisie vermoed dat een van die verdagtes die skote geskiet het, terwyl die ander in ’n motor gewag het om die skieter te laat wegkom.

Die twee sal Vrydag in die hof verskyn.

’n Derde persoon is later ook in hegtenis geneem, maar is kort daarna weer vrygelaat en is nie meer ’n verdagte nie.

’n Aanval op vryheid

NRC Handelsblad het Dinsdagaand se aanval in dieselfde lig as die moorde op Pim Fortuin en Theo van Gogh gelees.

Fortuin was ’n  regse politikus wat veral gekant was teen Moslem-immigrante. Hy is in 2002 om die lewe gebring deur Volkert van der Graaf, ’n linkse omgewingsaktivis.

Theo van Gogh was ’n filmmaker wat Submission: Part 1 gemaak het. Dit is, die titel ten spyt, ’n Nederlandstalige film wat gekyk het na die benadeling van vroue onder die Islam. Hy is op 2 November 2004 geskiet en toe met ’n mes gesteek deur Mohammed Bouyeri, ’n Nederlander van Marokkaanse afkoms. Kort voor sy dood het hy ook ’n film oor die moord op Fortuin gemaak.

Hoewel die omstandighede rondom Fortuin en Van Gogh se moorde anders was, bly dit ’n aanval op vryheid, sê die koerant.

Ook NU.nl praat hieroor as ’n aanval op die Nederlandse bestel.

Die demissionêre premier Rutte het self ’n sterk bewoorde uitspraak gemaak ná hy van die aanslag op De Vries gehoor het.

Koning Willem-Alexander het Woensdagoggend gereageer en dit ’n “aanval op die joernalistiek, ’n hoeksteen van die regstaat” genoem.

PEN Nederland, ’n filiaal van PEN Internasionaal wat persvryheid en vryheid van spraak steun, het in ’n kort verklaring hul skok uitgespreek en na De Vries verwys as “een unieke en dappere misdaadjournalist”.

Joernaliste in die spervuur

Die nieregeringsorganisasie Committee to Protect Journalists het in 2020 die name van 32 joernaliste bekendgemaak wat wêreldwyd vermoor is. In 2021 is agt reeds vermoor. Peter R de Vries leef nog, maar veg om sy lewe in die hospitaal. Dit is nog nie nege nie.

***

* Nabil B se identiteit is aan ons bekend, maar word in Nederland beskerm ná hy ’n staatsgetuie geword het. Aangesien Voertaal in Nederland gelees word, word sy van dus nie hier vermeld nie.

  • Redaksionele nota: De Vries is ’n baie algemene van in Nederland. Daar is geen verbintenis tussen die skrywer van hierdie artikel en die bekende joernalis in Nederland nie.
Lees ook:

Max du Preez oor vrye spraak en geloofwaardige joernalistiek

Foeta Krige, die joernalis wat geweier het om ’n skoothond te word: ’n onderhoud

Die goeie dae toe dagblaaie nog joernaliste in die buiteveld gehad het

Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top