Ons kon uiteindelik weer ’n regte wedloop hardloop. Dit het só goed gevoel.
Duisende getoetste atlete voor die wedloop.
Die Kaapstad-marathon, wat amptelik bekend staan as die Sanlam Cape Town Marathon, is die enigste standaardmarathon in Afrika wat goudstatus het op die internasionale atletiekfederasie se wedloopkalender. Dit het op Sondag 17 Oktober plaasgevind.
Wat meer is, dié marathon word tans amptelik geëvalueer om moontlik deel te word van die Abbott World Marathon Majors – nogeens die eerste keer dat ’n marathon uit Afrika daarvoor benoem word. Sou ons daarin slaag, sal Kaapstad aansluit by slegs ses ander wat as wêreldklasmarathons gesien word, naamlik die Londen-marathon, New York-marathon, Boston-marathon, Chicago-marathon, Berlin-marathon en die Tokio-marathon. Jy hoef nie ’n hardloper te wees om te besef dat dít ’n enorme finansiële inspuiting vir Suid-Afrika sal wees nie.
Kyk gerus hoe ’n paar slim mense dit in hierdie baie kort video verduidelik.
Francois Pienaar, voorsitter van die Sanlam Cape Town Marathon, sê in ’n e-pos aan atlete dat Afrika die beste marathonatlete in die wêreld het, daarom moet ons ook deel van hierdie elitegroep word.
Adidas, tans die tegniese borg van die Kaapstad-wedloop, borg ook reeds die Boston-marathon en die BMW Berlin-marathon. Hulle het beloof om alles te doen om te help dat Kaapstad wel tot hierdie uitgelese groep toegelaat sal word.
Die eindpunt, net voor ons begin hardloop het.
Die 2021-marathon
Vanjaar se marathon is die eerste groot geleentheid in Suid-Afrika waar duisende mense weer kon saam deelneem ná die wêreldpandemie ons getref het. (Daar was 10 000 atlete wat deelgeneem het.)
Dit het enorme logistieke probleme veroorsaak vir die organiseerders, want geen borg wil hulle naam aan ’n superverspreider koppel nie.
Die organiseerders het egter puik werk gedoen om dit alles veilig én moontlik te maak.
Cornelle Botes, Izak de Vries en Suki Lock voor die wedloop. (Foto: Suki Lock)
Verpligte Covid-toetse
Die eerste fase in die proses was dat elkeen wat toegelaat is in die Kaapstad-stadion om ’n wedloopnommer en identifikasie daarop te kry, negatief moes toets vir Covid.
Dit op sigself was ’n enorme operasie, maar totaal pynloos (al is die neustoets so aaklig).
Die toetsstasie by die stadion. Ons moes ver stap. Ek vermoed hulle het geraai marathonatlete is fiks genoeg.
Ons moes vooraf ’n tyd bespreek. Kort voor daardie tyd moes ons by die stadion opdaag waar ons temperatuur geneem is en waar ons ’n QR-kode moes toon wat ons afspraak bevestig.
Hou jou afstand – die tekens van ons tye.
Van daar is ons die ondergrondse parkeerterrein ingestuur waar daar baie vars lug is. Daar was tientalle toetsstasies opgerig.
Die toetsstasie. Hierdie foto toon een van twee rye toetshokkies.
Binne minute was daar ’n vriendelike verpleegster wat vir my gewaai het, in my neus geboor het en my toe na ’n waggebied gestuur het.
Die wagarea – ook een van twee.
Ongeveer 10 minute later het ek ’n SMS gekry wat sê ek kan my wedloopnommer gaan afhaal.
Die ekspo was aansienlik kleiner as ander jare, deels omdat dit tevore ’n gesinsattraksie was waar enige een kon gaan kyk. Vanjaar is slegs getoetste atlete toegelaat.
Die nommers is uitgedeel volgens ons wegspringtye, so daar was nie toue nie. Ek was binne vyf minute uit.
Al hierdie atlete staan in afgebakende blokke. Hierdie groepe is byna gereed om weg te spring. Al was hierdie baie mense, het ons nooit vir lang tye só na aan mekaar gestaan nie.
’n Totaal ander wegspringrooster
Gewoonlik spring almal, van die elite-atlete tot die stadigste, saam weg. Talle groot wedlope gee vir atlete ’n rangorde, gebaseer op vorige marathontye, om op sekere plekke weg te spring, maar dan is daar vir almal één skoot, waarna die horlosie begin loop.
By die Comrades kan dit maklik vyf minute neem vir die agterste atlete om die beginstreep te bereik. Dit staan bekend as ’n gun to mat-benadering. Jou tyd word dus gemeet van die oomblik dat die skoot klap, tot jy oor die sensors by die eindstreep hardloop.
Een van die baie helpers wat atlete na waggebiede verwys het. Sy het toestemming gegee dat ek haar afneem.
Duisende mense wat teen mekaar saambondel, kan natuurlik die virus vinnig laat versprei, so hierdie jaar is ’n totaal ander benadering gebruik.
Die elite-atlete en diegene wat vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap kon kwalifiseer, het om 06:15 saam weggespring.
Die res van ons is in 30 groepe opgedeel wat met intervalle van twee minute weggespring het.
Die eerste groepe wat sou wegspring ná die elite-atlete.
Ons tyd is dus gemeet vandat ons oor sensors by die beginpunt gehardloop het, tot ons oor sensors by die eindstreep gehardloop het. Dit staan bekend as ’n mat-to-mat-benadering.
Dit was koel en nat. Die foto is geneem voor enige een weggespring het. Dit is in hierdie baan waar al die hardlopers in groepe weggespring het, twee minute uit mekaar.
Atlete is dus aangemoedig om nie te vroeg op te daag nie en enorme dele van die park om die stadion is gebruik om al die atlete ’n redelike spasie te gee.
Daar was genoeg plek om te sorg dat atlete nie soos sardientjies op mekaar staan nie.
Ons is toe, toe ons wegspringtyd naby kom, per rangorde gevra om in afgebakende blokke te staan. Die hardlopers in daardie blokke is toe groep vir groep toegelaat om na die beginpunt te stap en weg te spring wanneer die tyd aanbreek.
Ek en my spanmaat Justice Mizha kort voor ons na ons wegspringblok is – ons het gou ons maskers afgepluk vir die kiekie. (Foto: Suki Lock)
Wegspringblokke dalk die toekoms
Vir baie van ons was die ervaring om in blokke weg te spring nuut, maar sou ons wedloop by die lys van Abbott-wêreldmarathonne gevoeg word, sal die aantal atlete waarskynlik maak dat sulke verspreide beginne in die toekoms ook ingevoer sal word.
My kaal voete het nie omgegee vir die reën nie. Kaalpoot vir die 144 kinders in die Durbanville Kinderhuis.
Talle van die ander elitemarathons in ander lande doen dit reeds.
Kaapstad droom groot. Dan Plato, die uitvoerende burgemeester van Kaapstad, het in ’n e-pos aan atlete geskryf:
We know that these evaluation years will already offer a tremendous economic boost for Cape Town and its residents, and expect an annual influx of approximately 10 000 international athletes and their supporters in the coming years – especially once the Sanlam Cape Town Marathon earns Marathon Major status. We can’t wait to welcome more recreational and elite marathoners to Cape Town; it’s time to show the world how we run a marathon to the African beat.
Wel, ten spyte van Covid is duisende atlete van oor die hele land Sondagoggend die geleentheid gegee om in koel, nat weer ’n fantastiese, plat marathon te hardloop. Ek het een van my beste tye in baie jare gehardloop. Dit was só goed om weer amper normaal te voel.
My voete is langs die pad afgeneem deur Two Dead Pixels.
And that’s it. @tlotlomoko makes it two wins from two starts at the #SanlamCapeTownMarathon crossing the line unofficially in 2:10.01. That’s his 6th marathon win from 16 starts. pic.twitter.com/rGxinKcj0Q
— Cape Town Marathon (@CTMarathon) October 17, 2021
And it’s Kenya 1-2 as debutant Lydia Simiyu earns the biggest pay check of her career as she dropped Karimi with 1km, crossing the line in 2:25.41 with Karimi in second in 2:25.53. Teferi 3rd 2:26.09 and Steyn 4th 2.26.22. #SanlamCapeTownMarathon pic.twitter.com/wUhyyMYAGi
— Cape Town Marathon (@CTMarathon) October 17, 2021
“Back to the real world”
As ’n nasie sal ons Covid kan klop as genoeg mense ingeënt word.
Cornelle Botes en Suki Lock by eindpunt met hul medaljes. (Foto: Suki Lock)
Sondag se wedloop was fantasties – almal is getoets. Die verspreide begin het gemaak dat daar nooit te veel mense vir lang tye bymekaar gestaan het nie.
Ons het natuurlik maskerloos gehardloop, maar elkeen wat voor die afsnytyd klaargemaak het, is ’n medalje én ’n E95-masker gegee.
Met die oorhandiging van my masker het die vrou met ’n laggie in haar stem vir my gesê: “Back to the real world!”
Izak is terug “in the real world” – masker en al.
Ek, en baie ander, droom van die dag dat die “real world” weer maskerloos kan wees. Dit kan. In Europa is genoeg mense ingeënt dat maskers al hoe minder nodig is.
Nog ’n kaalpootmarathon vir die Durbanville Kinderhuis. Ondersteun hulle asseblief, vra ek uit my hart uit.
Verspreide wegspringtye? Ek is baie trots op wat die organiseerders van die Sanlam Cape Town Marathon reggekry het. As dit ons toekoms is om die land se ekonomie ’n hupstoot te gee, kan die verspreide wegspringtye enige tyd deel van my realiteit word!