Skuldgevoelens oor my voorreg

  • 0

.....

“Ek voel skuldig, want soms is dit asof my lewe onaangeraak is deur die epidemie. Ja, ek kan nie uitgaan nie, maar ek het ’n dak oor my kop, kos, elektrisiteit en water, honderde flieks en boeke om van te kies. Dít terwyl ander mense hul werk verloor het. Nie genoeg kos of water het nie, of fisiek en emosioneel mishandel word in die krisistyd.”

.....

Kort nadat die eerste pasiënt met die koronavirus in Suid-Afrika gediagnoseer is, het ons uitvoerende redakteur laat weet ons mag van die huis af werk. Ek was baie dankbaar, maar het besluit om nie van die aanbod gebruik te maak nie.

Ek het nie gedink die virus is so ernstig nie, en dit het belaglik gevoel om my lewe stop te sit vir die moontlikheid dat ek die virus kan opdoen. Na ’n week moes ek egter eerlik wees en erken ek is domastrant. My filosofie is dat dood deel van die lewe is, maar ek het besef ek sou nie die kruis van iemand anders se dood kon dra nie.

Die eerste dag wat ek vanaf die huis gewerk het – ’n week en ’n half voor die 21-dae-inperking – het iets begin knaag. Ek het gedink dis kommer oor my dissipline, maar ek sit elke oggend klokslag 08:00 voor my rekenaar, gereed om te werk.

Ek het verskeie redes geïdentifiseer vir hierdie gevoel: my geestesgesondheid; ek check elke tweede dag met myself in; lees baie op oor hoe om myself te versorg; en maak seker ek is oukei.

Grendeldag 11 (Foto: Cliffordene Norton)

My familie en vriende? Ek praat daagliks met hulle – ek gee vir die eerste keer in ’n baie lang tyd aandag aan al my vriende. Ek het vir elkeen ’n boodskap gestuur, opgevolg en seker gemaak hulle is veilig. My ma se susters werk, en dis my een bron van kommer. Ek hoop hulle word nie siek nie, maar ek whatsapp hulle gereeld.

Dis op grendeldag 11 dat die ietsie wat knaag, ’n naam kry: skuldgevoelens. Ek het opgestaan, gereed gemaak vir die dag en my eerste koppie koffie gedrink. Ek het iewers tydens die lees van my e-posse opgekyk en besef dit reën. Ek is mal oor reën – dit herinner my altyd aan by die huis wees – die geluid van reëndruppels op die sinkdak van my ouma se huis. As kind wou ek graag in die reën dans; as volwassene het ek nie die begeerte ontgroei nie.

Foto: Cliffordene Norton

Ek het my vensters wawyd oopgemaak en vir ’n oomblik die skoon reuk geniet. Die windjie het gesny, en ek het gewonder oor die mense in shanties. Waar die reën vir my mooi is, is hierdie seker vir hulle hel. ’n Shanty is yskoud in die winter, bloedig warm in die somer, en tydens die inperking kan bewoners nie eens uitstap vir ’n bietjie verligting nie.

.....

“Ek het al gehoor van ‘survivor’s guilt’; dit wat ek tans ervaar, sal ek bestempel as ‘privilege of comfort guilt’. Die epidemie en die maatreëls om dit te beveg is dusver vir my nog net ongerieflik.”

.....

Ek voel skuldig, want soms is dit asof my lewe onaangeraak is deur die epidemie. Ja, ek kan nie uitgaan nie, maar ek het ’n dak oor my kop, kos, elektrisiteit en water, honderde flieks en boeke om van te kies. My familie is veilig en klein tradisies soos “Tuesday” en “Thursday check-ins” – WhatsApp-boodskappe waar ek en my beste vriendinne mekaar op hoogte van sake hou – het behoue gebly.

Dít terwyl ander mense hul werk verloor het. Nie genoeg kos of water het nie, of fisiek en emosioneel mishandel word in die krisistyd. Ek skenk waar ek kan, teken die petisies om vryskutwerkers te help en lees die Facebook-plasings oor die mense wat swaarkry, maar dit voel nie asof ek genoeg doen nie.

Foto: Pixabay.com

Ek het al gehoor van “survivor’s guilt”; dit wat ek tans ervaar, sal ek bestempel as “privilege of comfort guilt”. Die epidemie en die maatreëls om dit te beveg is dusver vir my nog net ongerieflik.

Selfs om hierdie mening te skryf is ’n voorreg, want ander kry nooit die geleentheid nie. Nie sonder om bestempel te word as “self-entitled” of dat hulle hulself bejammer nie.

Ek weet swaarkry is nie ’n kompetisie nie, dat ek en baie ander soos ek ook deur hierdie epidemie beïnvloed word. Maar die skaal weeg nie gelyk nie en ek kry nie die skuldgevoelens afgeskud nie.

Ek is bevoorreg – meer as wat ek voor die krisis besef het – en dit maak my ongemaklik, want vir die eerste keer besef ek hoe baie ek as vanselfsprekend aanvaar. Hoe dikwels ek ondankbaar was en hoe ver ek moet stap om dit reg te maak.

Buro: MvH
  • 0
Top