Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
LitNet, ons susterblad, is oorval deur mense wat hulp nodig het met hul diere. Voertaal het die navrae bymekaargemaak en vir Marianne Lomberg genader om te help.
Esta Terblanche skryf:
Ek het ’n swart hondjie, Vlekkie, 8 jaar oud, wat baie skielik begin het om angsaanvalle te kry. Sy bewe en hiperventileer en is heeltemal verskrik. So ’n maand gelede begin. Sy is nou al meer as ’n week op medikasie, maar het nou vandag begin om met haar gesiggie in ’n hoek te gaan staan. Sy is my skaduwee. Ek kry haar bitter jammer, want ek weet nie wat het gebeur nie. Ek het ses maande gelede verhuis en moes twee van my vier hondekinders laat “slaap” het. Sy het so mooi aangepas in die aftreeoord – ek moet Maandag teruggaan skool toe, maar ek is bekommerd. Hoe kan ek haar help?
Beste Esta
Honde kan definitief angstig raak na ’n groot verandering in hulle wêreld, byvoorbeeld die verlies van ’n familielid of verhuising. Jou Vlekkie is onlangs deur albei, dus is dit hartseer, maar nie abnormaal onder die omstandighede om te hoor dat sy sukkel nie. Sy is gelukkig om ’n eienaar soos jy te hê wat soveel omgee! Die angsmedikasie wat die meeste veeartse aanraai, neem ’n paar weke om te begin werk, so hou daarmee vol.
Maar ek sal ook voorstel dat jy jou veearts vra om Vlekkie se sig en gehoor te toets. Honde kry ’n vorm van Alzheimers wat baie soos mense s’n is, en boonop kan die wêreld vir hulle baie angsaanjaend word indien hulle in ’n nuwe omgewing is en skielik minder kan hoor of sien. As ons weet of haar angs deels ’n fisiese oorsaak het, kan dit jou help om haar aanpassing nog gemakliker te maak.
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.