Welkom in Amsterdam, maar kyk waar jy piepie!

  • 0

Foto: Koen Smilde | amsterdam&partners

Nederland het soveel sukses behaal met hulle inentingsprogram dat inwoners van Sondag 27 Junie toegelaat word om sonder maskers in die openbaar te verskyn; selfs in winkels is maskers opsioneel. Dit is nog net op openbare vervoer waar jy ’n masker moet dra.

Dit is natuurlik goeie nuus vir die toerismebedryf, want winkels en restaurante kan weer begin geld maak.

Daar is egter een groep Nederlanders wat vasskop en sê: “Nee! Ons wil nie weer terugkeer na die tyd voor die virus nie!”

Die inwoners van Amsterdam se beroemde kanaalbuurte het die stilte tydens inperking só geniet dat hulle glad nie die hordes besope, lawaaierige toeriste wil terugverwelkom nie.

Die aandrang op ’n meer gestruktureerde terugkeer na ’n “nuwe normaal”, een wat beter is vir die Amsterdamse inwoners as tevore, het selfs ’n draai in die raadskamer van die Amsterdamse munisipaliteit gaan maak. Die burgermeester het die kwessie só opgesom:

De krimpende werkgelegenheid raakt Amsterdam immers het hardst. Maar tegelijkertijd wil de fractie van de VVD dat de herstart van het toerisme niet onverwachts plaatsvindt en dat de gemeente dit gecontroleerd kan laten plaatsvinden, zodat overlast en drukte zoveel mogelijk worden voorkomen en zodat coronamaatregelen worden nageleefd.

Kort hierna het die munisipaliteit ’n persverklaring in Engels uitgereik waarin daar onder andere die volgende gesê is oor die terugkerende toeriste:

On the one hand, this is good news because businesses can finally welcome customers who will bring in revenue again, and cultural institutions can open their doors to visitors once more. However, we do not want to go back to what we saw before the pandemic, where massive crowds in the Red Light District and the city’s entertainment areas caused a nuisance to residents. Visitors who respect Amsterdam and the people of Amsterdam have always been welcome and will, of course, remain so. Visitors who treat our residents and heritage with disrespect are not welcome. The message we have for them is: Don’t come to Amsterdam.

Daar het jy dit. As jy nie Amsterdam en haar inwoners gaan respekteer nie, bly weg.

In dieselfde persverklaring is ’n aantal maatreëls aangekondig waarop besoekers bedag moet wees.

  • Moenie in jou motor slaap nie. Daar gaan streng nagpatrollies gehou word en enige een wat in ’n motor slaap, sal ’n boete kry, jou wiele sal geklamp word en die polisie sal jou na ’n outoteller begelei sodat jy die boete kan trek en betaal – niks meer nonsens van oor die grens verdwyn sonder om jou boete te betaal nie.
  • Die grootste klagte was skynbaar groepe jongmans wat Amsterdam besoek op soek na goedkoop dwelms en seks en dan luidrugtig as groep in die nag lawaai. Amsterdam se stadspolisie gaan ekstra patrollies instel en enige vorm van lawaaibesoedeling dadelik stopsit. Die polisie sal ook die reg hê om sekere strate of openbare plekke af te sper sodat slegs inwoners toegang sal kry, sou dit nodig word.
  • Laggas sal verbied word. Dit klink bisar, maar saam met alkohol was die gebruik van laggas skynbaar ’n enorme bron van lawaai en onvanpaste Die gebruik en verkoop van laggas sal dus tydelik verban word in die Rooligdistrik.
  • Luidsprekers: Sommige dele van Amsterdam gaan die gebruik van “klanktoerusting” verbied – jy sal dus nie meer jou boombox of draagbare Bluetooth-luidspreker mag gebruik nie, veral nie as jy iewers in ’n groep langs ’n kanaal uithang
  • Alkohol: Hoewel restaurante weer ten volle mag oopmaak, gaan Amsterdam die verkoop van alkohol ná 22:00 nog verbied. Interessant genoeg gebruik hulle die bestaande koronawetgewing om dit te mag doen – iets wat talle mense laat frons.

Die persverklaring het geen melding daarvan gemaak nie, maar in die raadsaal het die burgemeester ook gesê daar gaan streng gekyk word na “het handhaven op wildplassen”. In goeie Afrikaans: Jy gaan swaar beboet word as jy in die openbaar piepie.

Dit is die negatiewe maatreëls wat ingestel word.

Op ’n veel meer positiewe noot is ’n Amsterdamse toeristediens, bekend as amsterdam&partners, opdrag gegee om ’n veldtog genaamd “Stimulering gewenst gedrag”  van stapel te stuur.

Dié veldtog sal aanlyn plaasvind om mense na Amsterdam se kultuurskatte te lok, maar daar sal ook persoonlik met mense in die Rooligbuurte gesels word, sou hulle dalk minder gewens optree.

Terwyl Suid-Afrika tans weer erger inperking in die gesig staar, het die Nederlandse entstofprogram só suksesvol gewerk dat hulle met totaal ander probleme as ons te kampe het.

Eendag wanneer ons Suid-Afrikaners weer vryelik mag reis, sal Amsterdam ons dus met ope arms ontvang, maar ons sal moet onthou om ons te gedra!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top