Apps maak die lewe geriefliker en daar is ’n app om met byna elke aspek van jou lewe te help. Hier is ’n paar apps vir Android- en Apple-toestelle wat jou lewe in Suid-Afrika makliker sal maak.
SNAPnSAVE
Maak die koste van basiese kruideniersware jou sak seer? Met die SNAPnSAVE-app kan jy ’n deel van jou geld terugkry. Dit werk soos volg: via die app bespreek jy kruideniersware wat jy benodig, soos brood en melk. Die bespreking is geldig vir 48 uur, dus moet jy binne die volgende twee dae jou inkopies doen. Na jou inkopies neem ’n foto van die kwitansie en dien dit op die app in. Dit neem vier werksdae om die geld van hulle te ontvang – hou dus jou kwitansie. Indien jy die app vir die eerste keer aflaai, hou ’n ou kwitansie byderhand. Jy kan reeds met jou toetslopie geld terugeis.
SweepSouth
Hardloop jy rond sonder ’n oomblik vir jouself? Of vir jou huis? Vir skottelgoed was of klere wegpak? Die SweepSouth-app verbind jou vinnig en maklik met goeie, ervare skoonmakers. Ongeag of jy iemand vir een dag of op ’n gereelde basis nodig het, hier sal jy verskeie huishulpe vind gebaseer op jou behoeftes en skedule. SweepSouth se dienste is sewe dae ’n week beskikbaar en jy kan die volledige transaksie (van bespreking tot betaling) deur die app bestuur.
Zulzi
Het jy kruideniersware, ’n bottel wyn of medikasie binne ’n uur nodig? Die Zulzi-app is ’n gerieflike afleweringsdiens waar jy al hierdie benodigdhede kan kry. Jy kan van meer as 50 winkels soos Pick n Pay, Woolworths, Dis-Chem en vele ander bestel. Die app hou boek van jou vorige aankope en jy kan direk met jou aankoper gesels. Hulle lewer in Johannesburg en Kaapstad af, en die afleweringskoste kan van R20 tot R85, of selfs gratis, wees.
Bottles
Jy hou ’n braai en almal kuier lekker totdat jy die laaste druppel wyn in jou glas skink. Die winkels is toe, en julle wil nie na ’n restaurant skuif nie. Bottles is ’n op-aanvraag-afleweringsapp waar jy alkohol bestel en dit word binne ’n uur afgelewer. Maak die app oop, kies jou ligging en snuffel deur die menu vir alles wat jy mag nodig kry. Die app se diens is beskikbaar vir gebruikers in Johannesburg, Kaapstad, Pretoria en Durban.
Droppa
Is jy besig om te verhuis? Het jy ’n trok of bakkie nodig? Die Droppa-app gee jou toegang tot ’n wye verskeidenheid trokke en bakkies om te huur teen bekostigbare pryse. Die app is dikwels goedkoper is as ’n verhuisingsmaatskappy. Die informele bestuurders kom nie met dieselfde versekering as groter verhuringsmaatskappye nie, maar die bestuurders is geregistreer by Droppa en verbruikers kan hulle vordering deurentyd op die app besigtig.
SnapScan
Jy hou daarvan om markte te besoek, tussen stalletjies rond te soek en lekker kos te eet. Maar jy is huiwerig om met geld rond te loop en voel deurlopend onveilig met kontant op jou. SnapScan is ’n app waarmee jy kan betaal sonder om geld of jou bankkaart te gebruik. Laai die app af, koppel dit aan jou krediet- of debietkaart – jy kan dit aan drie kaarte koppel – en betaal deur die SnapScan QR-kode op die rekening te gebruik. Jy kan ook elektrisiteit koop, skenkings maak en geld aan vriende of familie stuur. Die app is vinnig, word tans deur 40 000 handelaars regoor die land aanvaar en bevat die jongste tegnologie om jou teen bedrog te beskerm.
PriceCheck
Het jy ooit iets gekoop en die volgende dag/week vind jy dit teen ’n goedkoper prys by ’n ander winkel? Met die PriceCheck-app kan jy die prys van duisende verbruikersgoedere vergelyk en die beste prys vind voor jy koop. Met die app se strepieskode-skandeerder kan jy pryse, kundige resensies en winkeladresse onmiddellik kry en vergelyk, om te sien of jy dit goedkoper of nader aan jou kan kry. Jy kan bykans alles vergelyk wat jy wil hê, van selfone, tablette, skoene, vlugte, versekering en meer.
Mr D Food
Is jou yskas leeg of is jy net lus vir ’n burger? Die Mr D Food-app gee jou toegang tot drieduisend restaurante soos Nando’s, Simply Asia en RocoMamas. Laai die app af, plaas jou bestelling en jy kan deurlopend sien hoe jou aflewering vorder. Jy kan ook kies tussen aflewerings- en afhaalopsies en maklike betaalmetodes.
Gautrain
In Gauteng is die Gautrain ’n gerieflike manier om tussen Pretoria en Johannesburg te reis sonder om in die verkeer vas te sit. Met dié app kry jy toegang tot die Gautrain- en bustyd. Jy kan sien wat is die huidige balans op jou kaart en geld oorplaas as jy te min geld het vir jou volgende rit. Via die app kan jy ook sien hoe die verskillende roetes vorder en jou reis daarvolgens beplan.
MyCiti
In Kaapstad waar parkering skaars is, maak meeste inwoners gebruik van die MyCiTi-busdienste. Die MyCiTi-app gee jou nuttige inligting soos die huidige balans op jou kaart en bustye om dinge vir jou makliker te maak. Kry stiptelike bustye vir enige stop, vind die naaste bushaltes op grond van jou ligging en sien ’n gedetailleerde rooster van elke roete en stop. Jy kan ook jou reis op die app beplan en die koste daarvan uitwerk.
Moya Messenger
Elke persoon het dit al ervaar: jy moet dringend ’n boodskap stuur, maar het geen data op jou selfoon nie. Die Moya Messenger is ’n nuwe app wat gebruikers in staat stel om boodskappe te stuur sonder om datakoste aan te gaan. Die boodskappe moet egter geen aanhegsels hê nie en jy mag dalk soms advertensies kry. Maar jy kan ’n onbeperkte aantal boodskappe stuur en selfs ’n paar kletsgroepe skep om met jou geliefde te gesels.
- Die apps kan gratis afgelaai word, maar daar is dikwels koste met betrekking tot bykomende funksionaliteite en transaksies.
Bronne:
Lees ook
Buro: MvH10 apps om jou reis na/verblyf in Nederland makliker te maak