10 apps om jou reis na/verblyf in Nederland makliker te maak

  • 0

Daar is deesdae ’n app vir alles. Waarom nie ’n app gebruik om jou reis makliker te maak nie? Hier is ’n paar apps vir Android- en Apple-toestelle om te help met jou reis na/verblyf in Nederland.

Foto: Pixabay.com

9292

Nederlandse openbare vervoer word as uitstekend beskou. Maar hoe laat daag die bus op? Op watter platform staan die trein? Met die 9292-app kan jy jou daaglikse roete in Nederland beplan. Die app is gratis en verskaf inligting oor veranderinge in roetes, fooie en reistye. Indien jy verskillende aansluitings op jou roete het, kan jy kyk wanneer jou volgende bus vertrek en jou roete daarvolgens aanpas. Beplan jou roete vanaf enige vertrekpunt en stoor jou persoonlike voorkeure vir volgende keer.

FlickBike – Deelfietsen

Fietsry is ’n baie gewilde vervoermiddel in Nederland. As jy slegs vir ’n week of twee in die land is, sal jy nie ’n fiets koop om “fietsrit in Amsterdam” van jou wenslys te skraap nie. In hierdie geval is FlickBike ’n handige app. Jy kan op hierdie app ’n fiets bespreek, betaal en gaan optel by die naaste gespesialiseerde FlickBike-parkering. Om die fiets oop te sluit, gebruik die QR-kode op die app en daar gaan jy. Ná jou rit kan jy ’n parkeerarea naaste aan jou op die app vind en jou fiets veilig stoor.

Thuisbezorgd

Wat wil jy vanaand eet? Sushi? Pizza? Bitterballen? Jy kan jou gekose dis van vyfduisend restaurante op Thuisbezorgd bestel en dit word voor jou deur afgelewer. Aflewering neem dikwels tussen 30-45 minute en jy kan deur hul lojaliteitsprogram afslag kry.

Pathé

Wil jy die nuutste fliek sien? ’n Drama? Romantiese komedie? Wil jy Joker of Gemini Man geniet? Pathé is die grootste bioskoop-maatskappy in Nederland met 22 teaters regoor die land. Op die Pathé-app kan jy die jongste flieks besigtig en jou kaartjies bespreek. Nou moet jy net jou springmielies gaan koop.

Woov

Wil jy ’n lekker fees bywoon? Die Woov-app is jou feestelike vriend. Op hierdie app kan jy die verskillende opkomende feeste besigtig. Jy kan ’n persoonlike skedule skep, jou vriende op die feeskaart vind en deurlopend die jongste kennisgewings oor die fees ontvang.  

Anne’s Amsterdam 

Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog? Wat het Anne Frank beleef? Die app is deur die Anne Frank Foundation ontwikkel en gee die gebruiker ’n blik vanuit Anne se perspektief. Anne’s Amsterdam neem jou na dertig spesiale plekke in die stad waar jy die geskiedenis van Anne Frank en haar tydgenote kan verken.

Rijksmuseum 

Wil jy graag meer weet van Rembrandt van Rijn se Isaac and Rebecca? Ontdek die wonderlike besienswaardighede wat die Rijksmuseum bied. Die navigasie-stelsel op die app lei jou van kamer na kamer. Die app is dus jou addisionele aanlyn-handleiding en bied gedetailleerde inligting oor die Rijksmuseum se versameling. Lees meer oor die museum en die gebou se geskiedenis. Kom ook meer te wete deur onderhoude met kundiges en kunstenaars te kyk.

...........

Indien jy na Nederland verhuis:

Pawshake

Gaan jy weg vir ’n naweek? Het jy iemand nodig om jou geliefde troeteldier op te pas? Laai Pawshake af. Die oppasser kan die diere by jou huis kom oppas of na hulle huis neem. Hierdie lekker app bied 24-uur ondersteuning en elke oppasser se ervaring word nagegaan, sodat jy jou viervoetige vriend met ’n geruste hart kan agterlaat.

Kamernet 

Is jy op soek na ’n woonstel, kamer of kamermaat? Met advertensies van derduisende beskikbare kamers is Kamernet die geskikte app vir jou. Dit is een van die gewildste apps om ’n kamermaat in Nederland te vind. Jy kan die kamer deur die app besigtig en jy kry kennisgewings wanneer ’n kamer volgens jou spesifieke vereistes beskikbaar is.

Dutch Chat & Nederland Dating

Die Dutch Chat & Nederland Dating-app is jou digitale Kupido. Indien jy liefde in Nederland soek, kan jy dit op hierdie app vind. Op die app kan jy met lede gesels, kyk wie hou van jou, en nuwe mense ontmoet. Jy kan ook sien wie het jou profiel besoek en jou gereelde vriende tot jou gunsteling-lysie voeg.

  • Die apps kan gratis afgelaai word, maar daar is dikwels koste met betrekking tot bykomende funksionaliteite en transaksies.

Bronne:

Study in Holland 
WanderlustingK 
The Culture Trip
Accessible Travel
Visiting The Dutch Countryside

Lees ook 

Vind jou voete in Nederland met die South Africans in The Netherlands Facebook-groep

Jou Europa-toer en oorsee studeer survival guide

Buro: MvH
  • 0
Top