Hierdie gids is vir enige jongmens wat beoog om nuwe horisonne te ontdek en om nuwe kuslyne te betree, of dit nou Barcelona, Rome, of Amsterdam is.
⇒ Disclaimer: my ervarings is subjektief en vanuit die perspektief van die skoner geslag.
Sosiaal
♦ Skud die automatiese greeting, “Hello, hoe gaan dit met jou” af, te verstane dat ander kulture dink dit is ’n onvanpaste vraag. Ek het al een of twee baie nervieuse reaksies gekry. As ’n Amerikaner jou groet, “Hey how are you”, skud die gewoonte af om nie te reply “good thank you” nie.
♦ In Suid-Afrika hou ons van beleefd groet en moontlik glimlag, al is dit vir vreemdelinge op ’n bergpaadjie. Moet nie mense van Noord-Europese lande, byvoorbeeld op straat of as jy gaan draf, in die oë kyk nie. Ek het tot my spyt vir ’n vrou kalm geglimlag toe ek haar oog vang. Haar reply: “Jog faster!” Ek dink nie ek het weer gaan draf nie. Dit is in elk geval te vriesend, ek was bang ek rek spiere.
♦ Dit is moeilik om aan te pas by die Noord-Europese manier van groet. Suid-Afrikaners is warm en ons glimlag. Ander kulture kan kortaf en koud voorkom. Moet dit glad nie persoonlik opvat nie. Dalk is ons te “creepy” of “over familiar” met ons oorvriendelike maniere?
♦ Suid-Afrikaners het ’n baie “polite” kultuur. Ek het een keer gewag dat ’n Duitse student klaar skottelgoed was voordat ek “indruk”. Hy vra vir my waarvoor wag ek. Ek sê ek wag totdat hy klaar is. Hy sê: “You are too polite, you won’t last long here”. Moet nie bang wees vir reguit-praat kultuur in Nederland en Duitsland nie; jy weet darem waar jy staan!
♦ Mense sal vir jou vra oor Suid-Afrika. Byvoorbeeld, bly al die witmense in “gated communities”?
♦ As jou Portugese vriendin sê sy kom 5 uur na jou woonstel, daag sy 8 uur op. Ek het vir haar verduidelik in SA moet mens laat weet so teen 5.15/20 dat jy bietjie laat gaan wees.
♦ Spanjaarde eet eers 11h in die aand, en dan gaan hulle uit. Eet maar SA tyd sodat jy nie teen 11h flou is nie.
♦ Op Nederlandse kampusse eet die meeste plaaslike studente droë brood (wat in plastieksakke rondgedra word) vir middagete. Net ’n interessante observasie. Daar is nie noodwendig ’n kultuur van saam aan tafel eet en kuier in byvoorbeeld ’n gemeenskaplike kombuis nie. Almal gaan na hul kamers. Eish.
♦ In Nederland moet jy twee weke vooruit planne met vriende maak. Inval vir ’n gesellige wyntjie en kliphard lag: kontak jou vriende van Mediterreense lande.
Openbare vervoer
♦ ’n Vrou het my een keer in trane gehad omdat ek my fiets op die Nederlandse trein gebring het (let wel in ’n area sonder stoele). Dit was blykbaar die verkeerde area. Sy kon duidelik hoor ek is nie van hier nie, maar sy het losgetrek op my. Onthou dus, daar is “designated” areas vir fietse op treine, kyk uit vir die fietsteken aan die buitekant van die trein.
♦ Onthou om seker te maak of jy ’n metro of trein-kaartjie moet “stamp” voordat jy opklim in ’n spesifieke land. Al het jy die kaartjie gekoop, moet jy dit iewers in ’n masjien druk dat dit die geluid “girts” maak. Ek en my Portugese vriendin is amper in Praag polisiekantoor toe gesleep, want sy wou luidkeels nie die baie duur boete vir die kwaai beampte betaal nie. Maak seker jy het genoeg geld ten alle tye in jou rekening vir noodgevalle. As ek nie die boete “op die spot” kon betaal nie, weet ek nie wat sou gebeur het nie. Ek het my eerste boete-kaartjie gehou. In Rome moet jy jou treinkaartjie op die lughawe laat “stamp” deur ’n masjien, anders kry jy ’n boete.’n Mens sien nie altyd die masjiene nie; ek het darem voor die tyd geGoogle hoe werk Rome se trein- en metro-stelsel ‒ belangrik om dit te doen!
Op reis
♦ Moet nie pragtige olyfolie van Portugal as ’n present koop nie. Hulle neem dit van jou weg op die lughawe.
♦ Maak seker jy koop goeie kwaliteit slotte vir jou tasse. Myne het ingegee en twee baie vriendelike opsigters in Engeland moes my slotte met ’n ligte toestel oopsaag, met vonke wat spat. Sorg ook dat jy die spaarsleutels saamneem en sommer in jou broeksak (saam met ekstra kontant) dra.
♦ Dra jou kamera saam met jou op die lughawe. Hulle het op ’n vlug my handbagasiesak in die ruim gaan sit weens te veel mense op die vlug. Dit het baie vinnig gebeur, gelukkig was my kamera by my.
♦ As iemand aanbied om jou koffer te dra op pad hostel/hotel toe, kom so gou as moontlik weg. In Budapest het ’n man uit die niet verskyn en gevra om ons koffers te dra.
♦ Maak seker jy verstaan die trein-stelsel, byvoorbeeld treine wat vanaf lughawens vertrek. As jy ’n kaartjie koop na byvoorbeeld Cambridge, dan moet jy dalk een of twee keer afklim op ’n ander stasie en op ’n ander platform op die tweede trein klim. ’n Paar mense het vir die trein gesoek en niemand het geweet waar die trein is nie. Dit was laat in die die dag en jy wil nie gestrand wees in die aand op die lughawe nie. En as die WiFi by Stansted-lughawe nie werk nie en jou foon is nie op roaming nie, moet jou familielid raai jy is baie verlore en dan vir jou bel. Dankie tog vir apps (wat my familielid op haar foon het) wat opgedateerde inligting gee! Ek het net ’n minuut gehad om my 20 kg tas na ’n ander platform toe te rol en te dra op en af twee stelle trappe. Die kaartjieman het niks genoem oor hierdie twee-platforms-en-verskillende-stasies stand van sake nie. Dit is jou probleem as jy nie jouself wil skool nie.
♦ As hulle vra om jou pienk tas te ondersoek op die lughawe, moet nie vra “why?” nie; maak net jou tas oop en laat die sekuriteitswag met groot oë jou sak ondersoek om seker te maak jou vierkantige spekulaas-koekies-boks is nie ’n bom nie.
♦ Moet nie terugpraat met die lughawebeamptes nie. Twee tannies van Oekraïne kon nie verstaan hoekom hulle moes wag in die lyn vir paspoortkontrole nie. Wag net rustig.
♦ Moet nie op fonteine in Rome gaan sit nie, of aan die water vat nie (al is dit die kleinste fontein). Daar is, wat ek openbare beskermers noem, wat erg met toeriste raas (lees meer oor die Trevi-fontein insident in 2018).
♦ Moet eerder nie co-ed hostels betree nie. My vriendin het in die middel van die nag wakker geword met die enigste man in ons kamer (ons was so ses meisies) wat na haar staar. Ons het lewendig daar uitgekom. En die stories wat ek al gehoor het van co-ed kamers en romantiese ontmoetings (eufemisme). Ons los dit maar daar. Let wel: daar is goeie hostels wat enkelkamers het as jy alleen reis. Dan is jou paspoort en kontant darem 100% veilig as jy slaap!
♦ As jy Booking.com slim gebruik, kan jy ’n wonderlike groot kamer met jou eie klein stoep in Rome kry. Dubbel die prys: ’n piepklein enkelkamer in ’n lekker, veilige hostel in Amsterdam, reg langs die Museumplein.
♦ Op groot lughawens soos Dubai, sal hulle voel of daar ’n bom weggesteek is in jou bolla. Dra eerder ’n bokstert.
Ander praktiese sake
♦ Maak seker jy sit jou foon op roaming. Om een of ander rede het ek onlangs vergeet om dit te doen. Gelukkig het niks gebeur dat ek hoef te gebel het in ’n noodgeval nie. Mobile data is heeltemal te duur om aan te sit. Plekke met WiFi is jou maatjie.
♦ Maak nie saak hoe fiks en gesond jy is nie, neem medikasie saam vir enige beurtenis as jy op reis is. Ek was alleen in Rome met ’n lelike, geswelde spinnekop-byt, die eerste aand. Maak ook seker jy weet waar die apteke in die rondte is. Gelukkig was die Farmacia Internazionale naby. Buiten vir die naam van die apteek waaruit ’n mens “internasionaal” kon aflei, kon die apteker nie Engels praat nie. Hy was baie vriendelik. Ek het ’n foto van die byt gewys. Hy het eers nie anti-biotiese salf gegee nie, toe sê ek nope, “antibiotica” per favore. Dankie tog hy het!
♦ Europese en Britse kragproppe is anders as SA kragproppe. Maak seker jy koop reeds in Suid-Afrika die korrekte “converter plug” vir byvoorbeeld Italië en Nederland.
♦ Maak nie saak hoe veilig ’n area voel nie, kyk mooi na jou geld. Daar het mense op die grondvloer van my Griekse vriendin se kamer ingebreek en al haar geld gesteel. Dit was in die middel van die Griekse krisis waar sy nie seker was of daar geld uit die OTM gaan kom of nie.
♦ As jy vir die eerste keer alleen oorsee gaan om by ’n oorsese universiteit te gaan swot, sal ’n boks tissues en rooibostee in die eerste paar dae die beste present wees wat jy al gekry het. Ook, om byvoorbeeld Suid-Afrikaanse wyne in die Albert Heijn (Nederland se Woollies, of dalk Checkers?) te sien is soos ’n vriendelike glimlag van die huis af.
Die weer
♦ Die son skyn nie te baie in Noord-Europa nie. Wees voorbereid! As dit 18 grade is, dan span mense in hul swembroeke uit langs mere. Ek het dan ’n baadjie aan.
♦ Die sagte vallende sneeu laat stede en dorpies soos ’n feestelike Kerskaartjie laat lyk. Soms sal jy ’n harde, koue vlaag sneeu op die fiets moet trotseer.
Moet ek dit waag om op ander sypaadjies te wandel?
♥ Selfs met al die misverstande en uitdagings en uit jou “comfort zone” beweeg, sal ek steeds hierdie ervarings vir niks verruil nie.
♥ Die wêreld wag!
- Foto’s: Pixabay.com