Vanjaar se matriekslaagsyfer van meer as 80% is ’n klug as die hoë uitvalsyfer van die land se hoërskoolleerlinge in ag geneem word, sê onderwyskenners.
Slegs 60% van alle leerlinge wat in 2007 in graad 1 was, het tot matriek gevorder. Hiervan het daar wel 81% geslaag maar as mens die totale aantal leerlinge wat in 2007 begin skoolgaan het in berekening neem, was vanjaar se slaagsyfer nader aan 37%.
Foto: Pixabay.com
Die drukgroep Equal Education beskou die uitslae as ’n klug en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is bekommerd dat meer as ’n derde van die leerlinge wat in 2008 met graad 1 begin het, nie matriek binne 12 jaar kon voltooi nie.
AfriForum sê ook die buitengewoon hoë persentasie matriekslaagsyfer is nie ’n werklike weerspieëling van onderwys in Suid-Afrika nie.
Buitengewone hoë matriekuitslae in 2019 skets nie die waarheid https://t.co/1ypU7vkoeK
— AfriForum (@afriforum) January 8, 2020
Terwyl president Cyril Ramaphosa die uitslae as ’n oorwinning bestempel vir die regering se belegging in onderwys, waarsku onderwyskenners dat die land nie te gou opgewonde moet raak oor die jongste matriekuitslae nie. Ramaphosa sê Suid-Afrikaners kan trots daarop wees dat onderwys soos die meeste aspekte van die land se ontwikkeling, ’n opwaartse kurwe volg.
Equal Education het die matrieks wat geslaag het, gelukgewens met hulle uitslae. Hulle sê egter die feesvierings oor vanjaar se uitslae is ’n klug as daar na die breër prentjie gekyk word.
As die uitvalsyfer van leerders wat nie matriek voltooi nie in ag geneem word, lyk die prentjie heeltemal anders en glad nie so rooskleuring nie.
“Hoewel die bekendmaking van die uitslae ’n belangrike oomblik vir honderde duisende leerders is, weerspieël dit nie die stand van die land se onderwys in geheel nie.”
Ten minste twee onderwyskenners naamlik Michael le Cordeur en Jonathan Jansen stem hiermee saam.
Jansen sê die matriekslaagsyfer is glad nie ’n barometer waarmee die sukses van die land se onderwysstelsel gemeet kan word nie. Die werklike matriekslaagsyfer is volgens hom 39%.
Hoewel die land se matriekslaagsyfer gestyg het van 78.2% in 2018 tot 81,3% in 2019, meen Jansen dit is ’n grap as die uitvalsyfer bygereken word.
Le Cordeur stem met hom saam. Hoewel hy soos die res van die kommentators bly is oor die goeie prestasies meen hy daar is verskeie sake wat in perspektief gestel moet word wanneer daar na die ontleding van die uitslae gekyk word, waarvan die hoë uitvalsyfer een is.
Hy sê die slaagsyfer vertel nie die volle verhaal nie. “Slegs 60% van alle leerlinge wat in 2007 in graad 1 was, het tot matriek gevorder. Hiervan het 81% geslaag – wat ’n slaagsyfer van 37% beteken.”
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ook die matrieks gelukgewens en sê die slaagsyfer is bemoedigend, maar baie uitdagings lê voor.
Die party sê in Suid-Afrika is daar talle faktore wat hierdie prestasie moeilik maak.
Matrieks: Slaagsyfer bemoedigend, maar baie uitdagings lê voor
Die VF Plus wil die matriekklas van 2019 geluk wens met die slaagsyfer van 81,3%. #Matriekuitslae2019
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) January 8, 2020
“Skole wat nie goed toegerus is nie, onderwysers wat nie werklik toegewyd is nie en huislike omstandighede wat as gevolg van armoede of gebrek aan belangstelling nie bevorderlik vir leer is nie, is van die belangrikste hekkies. Boonop moet ’n groot deel van die bevolking skoolgaan in ’n taal wat hul tweede of selfs derde taal is,” sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese onderwys.
“Terwyl die departement van basiese onderwys krediet verdien vir die vordering wat die onderwysstelsel toon, is daar steeds heelwat ruimte vir verbetering. Dit is byvoorbeeld ondenkbaar dat geld wat vir die bou van skole bedoel is, aan die tesourie terugbetaal moes word. Die departement moet dringend die vermoë ontwikkel om sulke fondse te bestee.”
“Verder moet die aanslag op onderrigtaal by veral Afrikaanse skole beëindig word. Die onderwysstelsel sou bes moontlik beter kon presteer indien alle kinders in hul moedertaal kon studeer. Dit help nie om dié wat reeds die voorreg geniet, daarvan te ontneem nie. Die een taal of skool word nie gebou deur die ander een af te breek nie.”
Buro: MvH