Ek is skaam om te erken dat ek in Oktober 2019 die eerste keer Crazy Rich Asians gekyk het. Ek is mal oor films en reekse, en probeer altyd films en reeks-episodes so gou as moontlik te kyk, maar dié 2018-film het langs die uitstelpad verdwyn.
Ná ek die film gekyk het, het ek akteurs-onderhoude op YouTube gaan soek. ’n Dosyn (of meer) video’s later het YouTube ’n video voorgestel waarin een van die mede-akteurs verskyn. Dié video was van Wong Fu Productions en ’n heel ander wêreld het vir my oopgegaan.
Wong Fu Productions is ’n onafhanklike vervaardigingsmaatskappy wat kort films en reekse skep. Die allerdaagse lewe van die Asiës-Amerikaanse samelewing word uitgebeeld. Die kort films en reeks is op die maatskappy se webtuiste en hul YouTube-kanaal beskikbaar.
Die maatskappy is in 2003 deur Wesley Chan, Ted Fu en Philip Wang op universiteit gestig. Hulle het aanvanklik musiekvideo’s geskep, en ná universiteit hul media-maatskappy, Sketchbook Media, gevestig.
Hul werke is by ’n aantal nasionale en internasionale filmfeeste soos die Los Angeles Asian Pacific-filmfees, San Diego Asiës-filmfees en die Cannes-filmfees vertoon. Wong Fu Production se YouTube-kanaal het 3,1 miljoen intekenaars en meer as 532,1 miljoen video views.
Die meeste video’s kan gratis op hul YouTube-kanaal besigtig word, en die maatskappy verdien geld deur ’n YouTube-vennoot te wees, vennootskappe met ander maatskappye soos Samsung en Google, handelsware te verkoop, en deur musiekvideo’s te vervaardig. Hulle het ook in 2018 ’n Patreon-blad geskep waar ondersteuners geld aan die produksies kan skenk.
Die video’s is uitstekende kwaliteit en spreek soms ernstige temas op ’n sensitiewe en spontane wyse aan.
’n CNN-insetsel het die nuusleser, Ted Rowlands, berig dat Wong Fu Production se mark bestaan uit “jong Amerikaanse Asiërs wat nie akkurate verteenwoordiging van hulself in hoofstroomse media vind nie.”
Volgens Wong Fu het hulle nooit beplan om “helde van verteenwoordiging” te wees nie. “Ons wil stories vertel, of dit snaaks, hartseer of thoughtful is,” sê hulle op hul YouTube-kanaal.
Maar hulle erken dat hoewel hulle nie kwessies van Amerikaanse Asiërs aanspreek nie, is hulle nie bang om te wys hulle is van Asiëse oorsprong nie.
“As iemand se dag beter is as gevolg van ons, is ons tevrede,” is hul motto.
Hier is vyf Wong Fu-video’s en reekse wat altyd my dag beter maak:
Dating after college
Die sewe-episode-reeks gaan oor twee vroeë twintigjariges wat op soek is na liefde. Hulle dink om liefde ná universiteit te vind sal makliker wees, maar helaas nie. Hulle, met behulp van hul getroue beste vriend, soek die beste plek om iemand te ontmoet. Hulle glo die regte plek en die regte oomblik sal hul na liefde lei, en dus soek hulle na liefde op verskeie plekke soos die gimnasium, winkel, sportskroeg en selfs op Tinder. Ek het die hele reeks in een sitting ge-binge, en die einde het onverwagse diepte.
Strangers again
Die 16-minute-video is meer as 20 miljoen keer gekyk en ek kon onmiddellik sien waarom. ’n Paartjie begin as vreemdelinge, word die belangrikste persoon in mekaar se lewe en indien die verhouding eindig, word hulle weereens vreemdelinge vir mekaar. Waarskuwing: Moet dit nie kyk as jou hart onlangs gebreek is nie!
Just another Nice Guy
Daar is niks wat ek meer haat as ’n sogenaamde “gawe ou”, wat boekhou, nie. Dié mini-reeks het drie episodes en wys hoe ’n gawe ou wat te veel as vriend en nie ’n romantiese metgesel gesien word nie, probeer om die stereotipe te verbreek. Sy gedrag maak dat hy in ’n onaangename persoon (om die minste te sê) verander, maar op die einde leer hy ’n waardevolle les.
Yappie
Die vyf-episode-reeks kyk na verhoudings tussen verskillende rasse, en spreek ook die kwessie van “Yellow Fever” aan. Yellow Fever (nie die virus nie) verwys in sosiologie na ’n man wat vroue van Asiëse oorsprong verkies. In hierdie video is die tema subtiel aangespreek, en wys die reaksie van albei kante van die rassespektrum.
Single by 30
Dié agt-episode-reeks het my verslaaf aan Wong Fu-video’s gemaak. Twee vriende gaan ’n ooreenkoms aan om met mekaar te trou indien hulle nog nie getroud is teen dertig nie. Hulle verloor kontak en ontmoet op die manlike hoofkarakter, Peter, se dertigste verjaarsdag. Die eerste episode is gratis op Wong Fu se YouTube-kanaal, daarna is dit beskikbaar op YouTube Red.
Bonus: The last
Daar is ’n nege-minute-epiloog van Single by 30 en dit is ’n romantiese einde tot die reeks.
Bronne
- Wong Fu Production YouTube-kanaal
- Wong Fu Productions Wikipedia-blad
- Zheng, R. 2016. Why Yellow Fever Isn’t Flattering: A Case Against Racial Fetishes. Cambridge University Press: Journal of the American Philosophical Association, Volume 2, Issue 3.