Die geopolitieke gort is gaar tussen Suid-Afrika en Amerika en die einde is nog nie in sig nie

  • 0

...
Hierdie soort baldadigheid is wat ’n mens sekerlik van ’n staatshoof verwag wie se land spreekwoordelik onder beleg is van ’n ander, magtiger moondheid. Behalwe as die kleiner land terselfdertyd afhanklik is van die ander land om byvoorbeeld gesondheidsorgprogramme lewend te hou.
...

Die definisie van geopolitiek val in Nederlands meer duidelik (meer verduidelikend of meer kragtig) op die oor as die Afrikaanse verklaring wat Wikipedia jou bied. Wikipedia sê geopolitiek is ’n studie van “die uitwerking van die aarde se geografie (menslik en fisiek) op politiek en internasionale betrekkinge”. In Nederlands hierdie pêrel: “Een ingewikkeld schaakspel op wereldniveau, waarbij landen proberen de beste posities te verkrijgen en hun invloed uit te breiden”.

En dit is wat tans aan bod is in die diplomatieke rusie tussen Amerika en Suid-Afrika: ’n ingewikkelde skaakspel waardeur albei lande probeer om die beste posisie te verkry en sodoende hul invloed uit te brei. Die spoor loop deur die Midde-Ooste. Want wat gebeur het voordat Amerika se pres Donald Trump onlangs vir ’n tweede termyn ingesweer is, is dat Suid-Afrika die Israelse regering by die Internasionale Strafhof vir oorlogsmisdade teen die mense van Palestina aangekla het. Die beweegrede is dieselfde: Suid-Afrika se optrede is beïnvloed deur sy voortgesette dankbaarheid teenoor die mense van Palestina vir hul ondersteuning aan die ANC en die stryd teen apartheid; Amerika het oor jare ’n amperse lojaliteitsverbond teenoor die ander kant, synde die staat van Israel.

Trump het daarom nie op hom laat wag nie en die oomblik toe daar in sy oor gefluister word dat die Suid-Afrikaanse staat hom na bewering aan “baie slegte behandeling” van wit Suid-Afrikaners skuldig maak, asook in ’n veronderstelde rasgedrewe daad dié se grond sou onteien, het hy ’n strafbevel teen die regering van pres Cyril Ramaphosa laat opstel en onderteken. Dié bevel het egter ’n stertjie, naamlik dat Trump eintlik die geleentheid gebruik het om Suid-Afrika te straf vir sy “teen-Amerikaanse” standpunte en optredes, soos met die klag teen Israel. Nou was die geopolitieke gort gaar. “Ons sal ons nie laat boelie nie,” kap Ramaphosa toe terug, want dit sou mos nou sy ondertekening van die Onteieningswet wees wat olie op die vuur gegooi het van Suid-Afrika se verhouding met Amerika. “Ons is ’n soewereine staat,” sê hy, “wat onderhewig aan ons Grondwet optree.”

Dié boodskap het Ramaphosa sedertdien by ’n paar geleenthede herhaal – en hy het ook einde verlede week daarna verwys in sy repliek op die debat oor sy staatsrede. Waar Suid-Afrika hom tans (staatkundig) bevind, juig die President, is in ’n tydvak wat herinner aan die vroeë jare van die demokratiese bestel deur die nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) wat ná die Mei 2024-verkiesing deur hom saamgestel is. Maar die vordering wat van toe af gemaak is met betrekking tot samewerking tussen voormalige politieke vyande (ANC, DA en agt ander partye), en ook die versoenings- of nasionale-eenheidsprojek, word nou ontwrig deur die Trump-telegramme uit die Amerikaanse hoofstad.

“Ons lewe in ’n tydperk van groot onsekerheid,” sê Ramaphosa in sy repliek op die staatsrededebat, “wat beïnvloed word deur geopolitieke gebeure ver anderkant ons oewers.” Derhalwe sy oproep vir eenheid: “In ’n tyd soos hierdie moet ons as ’n nasie saamstaan, juis noudat ons woeste globale winde in die gesig staar.” En dan ’n klap in die rigting van die Washingtonse woeste windmaker: “Ons moet trots wees op ons wetgewende proses, wat elke konsepwet onderwerp aan verskeie vlakke van debat, ondersoek en openbare oorlegpleging. Dit is ’n proses wat staatmaak op die standpunte van kundiges, die kollektiewe wysheid van parlementslede en die voorkeure van die Suid-Afrikaanse publiek.” Indien daar nog enige onsekerheid sou bestaan oor wie Ramaphosa aangespreek het in sy verwysing na die “woeste winde”, hierdie opsomming: “Ons behoort trots daarop te wees dat ons ’n demokrasie is wat deur sulke deeglike prosesse bestuur word en nie deur die arbitrêre bevliegings van ’n regeerder nie.”

Hierdie soort baldadigheid is wat ’n mens sekerlik van ’n staatshoof verwag wie se land spreekwoordelik onder beleg is van ’n ander, magtiger moondheid. Behalwe as die kleiner land terselfdertyd afhanklik is van die ander land om byvoorbeeld gesondheidsorgprogramme lewend te hou. Wat Suid-Afrika dus nou die hardste slaan, is die befondsing van die Amerikaanse hulpverleningsagentskap USaid, wat nou weerhou word “tot verdere kennisgewing”. Ook die kwytskelding van sekere uitvoertariewe ingevolge die Agoa-ooreenkoms tussen Amerika en Afrika-lande strek Suid-Afrika tot voordeel; en kommer bestaan dat Trump se besluit Suid-Afrika ook ekonomies ’n knou kan gee.

Maar die Ramaphosa-remedie skop nou in: Hy stuur eersdaags ’n afvaardiging wat met die Amerikaners moet gaan praat oor die “wanopvattinge” wat Trump se optrede tot gevolg gehad het. Trump, meester van transaksies, loop egter nooit met leë hande weg nie – en die Suid-Afrikaanse afvaardiging moet ’n “vredesoffer” saamneem. Wat sou dit kon wees? Skrap die Onteieningswet? Hoogs onwaarskynlik. Tree vriendeliker teenoor Amerika en Israel op? Uhm, ons sal moet sien.

Wat jy kry wanneer jy die betekenis van geopolitiek Google, is die definisie daarvan; wat jy nie kry nie, is voorgestelde oplossings vir hoe die “ingewikkelde skaakspel waardeur albei lande probeer om die beste posisie te probeer verkry en sodoende hul invloed uit te brei”, bygelê kan word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top