“Familievergaderings” het ’n nasionale gonswoord vir Suid-Afrikaners geword gedurende die grendeltydperk (2020–2022), ’n rare oomblik toe jy die hele gesin voor die televisie bymekaar sou sien kom het om uit die President se mond te verneem watter Covid-regulasies verslap of verskerp word.
Nou, vyf jaar ná die pandemie, is daardie ervaring byna vergete, maar ’n nuwe gonsword het nou deel van die samelewingswoordeskat geword. Dit is “nasionale dialoog”. Hieroor is die tonge letterlik los nadat pres Cyril Ramaphosa pas die eerste praktiese stap in dié verband aangekondig het toe hy die name van ’n sogenaamde groep vooraanstaande persone (“Eminent Persons Group”) bekendgemaak het. Hulle moet leiding gee en bewustheid oor die nasionale dialoog kweek. Wat die kriteria was vir die samestelling van die groep, waarvan die volledige lys op die Presidensie se webwerf gelees kan word, is iets waaroor die wenkbroue steeds lig.
Maar Ramaphosa is wel reg oor die feit dat die nasionale dialoog ’n soort energie onder die land se burgers losgemaak het. Die idee van ’n nasionale dialoog is nie noodwendig iets nuuts vir ons as ’n land nie, beklemtoon die President. Ons doen dit al lankal, oor verskeie kwessies, met wisselende mates van sukses. Dit is deur dialoog dat ons geweld oorkom het en vrede gevind het, sê hy; dit is eweneens hoe ons apartheid beëindig en demokrasie verwelkom het.
Heelwat uitdagings bestaan egter om die beloofde beter lewe vir almal te verwesenlik, erken Ramaphosa self in die verklaring wat hy oor die “vooraanstaande groep” uitgereik het. Hy lys en beskryf dit as volg: “Armoede, werkloosheid en ongelykheid is diep wonde wat ons daarvan weerhou om ons volle potensiaal as ’n nasie en as ’n land te bereik.”
Behalwe dat miljoene mense sonder werk sit, sê hy ook, verdien iemand wat wel werk, dalk nie eens die soort loon wat dit vir die persoon moontlik maak om hom- of haarself of hul familie te onderhou nie. Ander uitdagings, aangehaal uit Ramaphosa se verklaring, sluit in misdaad, geslagsgeweld en korrupsie, “alomteenwoordig regoor die land”.
Talle van die uitdagings, het ons onsself vroeër in die doelstellings van die Nasionale Ontwikkelingsplan belowe, sal teen 2030 opgelos wees. Ons het nog vyf jaar daarvoor oor.
’n Mens sou tog wou hê dat maatskaplike samehorigheid deel van die lys uitdagings moet wees, want as mense mekaar nie vertrou nie en nie bereid is om hande te vat nie, gaan dit nog generasies neem voordat ons kan saamwerk om die probleme gesamentlik op te los.
Die samestelling van die groep vooraanstaande persone help nie om ons nader aan mekaar te kry nie. G’n wonder nie dat die reaksie daarop uit Afrikaanssprekende geledere louwarm was (met agterdog, afsydigheid, teleurstelling) – en dit was ook nie beperk tot die Afrikaanse gemeenskappe nie. Ramaphosa se blinde kol – dat alles deur die ANC of die bevrydingsbeweging se veterane gelei moet word – veroorsaak egter dat hy minder bekommerd is oor hoe dit wat hy aanbied, gaan lyk teenoor wat die “goeie bedoeling” daarmee is.
Die vooraanstaande persone moet verseker dat die nasionale dialoog wel ’n inklusiewe, konstruktiewe en geloofwaardige proses is; ’n interministeriële komitee, onder die voorsitterskap van Paul Mashatile, moet die regering se bydrae koördineer; en ’n ander komitee, bestaande uit verteenwoordigers van verskillende sektore, is verantwoordelik daarvoor om strategiese prioriteite daar te stel en die implementering van die dialoogproses te bestuur. Die sekretariaat sal hul werk uit die hoofkwartier van die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) doen.
Ramaphosa wil ons laat glo dat dié inisiatief ons op die weg plaas “na ’n nuwe roete van vennootskap en verenigde aksie”. Dit mag dalk gebeur. Maar intussen moet ons onsself daaraan troos dat moeite glo darem gedoen sal word om te verseker dat gewone mense se insette ook deel van die nasionale konvensie – in die aanloop tot die eintlike nasionale dialoog – sal vorm.
Suid-Afrikaners moet die geleentheid aangryp, want hierdie byeenkoms sal noodwendig ’n anderste soort “familievergadering” wees. Wat ons gedurende Covid ervaar het, was ’n eensydige affêre: Ramaphosa sou op die televisieskerm verskyn, agter die podium stelling inneem en dan sy verklaring aan ons voorlees. Wat nou moet gebeur, is dat almal in die familie ’n sê mag hê. Grootouers, ouers en die kinders. Jy hoef nie net in te val by wat “Pappa” sê nie. Jy mag jou eie mening hê oor watter probleme in die Suid-Afrikaanse “huishouding” aangespreek behoort te word en ook jou eie voorstelle vir maniere waarop die probleme opgelos kan word.
Die belangrikheid van “vertakkende gesprekke”, wat uiteindelik kan saamvloei na die Groot Gariep, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Selfs al bestaan die idee dalk by sommige kaders van die ANC dat hulle stemme die helderste gehoor moet word, durf die res van ons nasie nie hulself die stilswye op te lê nie. Beter nog is dat mense reeds met gesprekke kan begin nét daar waar hulle hul bevind: in eie gemeenskap, eie groep, eie lokaal en ’n eie agenda, want soos Ramaphosa ook genoem het, is dit veronderstel om so te wees en behoort die uitkomste daarvan ingevoer te word in die finale agenda van die gesprek wat ’n sogenaamde tweede konvensie aan die begin van volgende jaar sal wees.
Tussen nou en die eerste, komende gesprek op 15 Augustus lê daar ’n maand se praattyd; dan vermoedelik nog sowat ses maande voor die volgende gesprek, wat waarskynlik sal volg op die lewering van die staatsrede vroeg in Februarie. Ons land se mense het baie om oor te praat. Daar sal egter nooit genoeg tyd daarvoor wees nie. Maar ons het ’n goeie rede – ’n verpligting, eintlik – teenoor die volgende generasie om ’n sukses daarvan te maak.
Nie die politiek van die verlede of die pandemie kon ons onderkry nie. Ten minste nie tot hier toe nie.
Lees ook:
Die Nasionale Dialoog: Die kort langpad of die lang kortpad? (13 Junie 2025)
