Johannesburg se ANC-burgemeester onder skoot; Zille slyp haar tande vir sy pos

  • 0

Johannesburg, Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt, is in die greep van politieke onstuimigheid en diensleweringsuitdagings.

Terwyl die stad se ANC-burgemeester, Dada Morero, die afgelope week moes spartel en spook om ’n mosie van wantroue teen hom af te weer, slyp die DA se Helen Zille reeds haar tande om na aanstaande jaar se munisipale verkiesing die Goudstad se burgemeestersketting om haar nek te hang.

Dié week se wantrouemosie wat teen Morero ingedien is, weerspieël die groeiende frustrasie oor die stad se verval en kom te midde van aankondigings dat die DA se federale voorsitter, Helen Zille, haar beskikbaar gestel het as kandidaat vir die burgemeesterspos in die 2026 munisipale verkiesing, met ’n belofte om Johannesburg se krisisse aan te pak.

Die DA, die grootste opposisieparty in Johannesburg, het Morero se administrasie beskuldig van wanbestuur, ’n gebrek aan deursigtigheid, en die onvermoë om basiese dienste te lewer. Volgens ’n DA-raadslid in Johannesburg, Belinda Kayser-Echeozonjoku, het Morero se leierskap tot ’n “totale ineenstorting van bestuur” gelei en word dit deur patronaatskapnetwerke gekenmerk .

Die party wys op kwessies soos kragonderbrekings, watertekorte, stygende misdaad en vervalle infrastruktuur soos paaie vol slaggate en verkeersligte wat dekades oud en buite werking is.

Die DA het ook mosies van wantroue teen die ANC-hoofsweep, Sithembiso Zungu, en die stad se speaker, Nobuhle Mthembu (van ActionSA), ingedien.

Die ANC noem die DA se optrede ’n politieke spel wat gemik is op die 2026-verkiesing eerder as ’n opregte poging om dienslewering te verbeter. Die ANC se Gautengse premier en koördineerder, Panyaza Lesufi, het skerp reageer en die DA uitgedaag vir die stryd.

ActionSA, ’n sleutelkoalisievennoot, het voor Woensdag se wantrouemosie aangekondig dat hulle nie Morero sal ondersteun nie. Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, het gesê die stad se dienslewering het in duie gestort.

In sy burgemeesterstoespraak op 8 Mei 2025 oor die stand van sake in Johannesburg het Morero die stad se uitdagings erken, insluitend agteruitgaande infrastruktuur, krag- en wateronderbrekings, behuisingstekorte en verval in die middestad.

Hy het ’n “omkeerplan” voorgestel en die “Bomb Squad”, gelei deur ANC-veteraan Snuki Zikalala, op 5 Junie 2025 bekendgestel om kwessies soos gekaapte geboue en kragonderbrekings aan te pak, veral met die oog op die G20-beraad wat Johannesburg sal huisves. Die DA het hierdie inisiatief as onduidelik en moontlik onwettig gekritiseer, en die Gautengse Departement van Samewerkende Bestuur gevra om dit te ondersoek.

Te midde van hierdie krisis het Helen Zille op 8 Junie 2025 aangekondig dat sy haar beskikbaar stel vir die burgemeesterspos in die munisipale verkiesing van 2026.

Zille, wat van 2006 tot 2009 Kaapstad se burgemeester was en in 2008 die Wêreldburgemeesterprys gewen het, glo sy kan Johannesburg, “wat diep gebroke is”, regruk deur haar bewese Kaapstad-model toe te pas: Verminder korrupsie, verbeter dienslewering, en herstel beleggersvertroue. Sy sê dit sal ’n ruggraat van staal verg om Johannesburg om te keer, en skat daar is ’n infrastruktuuragterstand van R200 miljard.

Zille se kandidatuur het gemengde reaksies ontlok. Haar ondersteuners prys haar rekord in Kaapstad, waar sy munisipale skuld met byna R1 miljard verminder en misdaad in die sakekern met 90% gesny het. Kritici, insluitend die ActionSA-leier, Herman Mashaba en die MK Party, verwerp haar egter as ’n “Kaapse indringer” en beskuldig haar van rasse-ongevoeligheid, met verwysings na beweerde verwaarlosing van swart gemeenskappe soos Khayelitsha in Kaapstad. Mashaba het haar “die giftigste mens om mee saam te werk” genoem en gewaarsku dat haar kandidatuur swart kiesers kan vervreem.

Die DA se interne keuringsproses vir kandidatestelling het op 15 Junie gesluit, en Zille moet nou dieselfde streng proses as ander kandidate deurloop, insluitend onderhoude en aanbiedings oor haar plan vir Johannesburg.

Met die 2026-verkiesing op die horison is alle oë op Johannesburg se stryd om stabiliteit en herstel gerig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top