Die RNE verkeer onder voortgesette en toenemende spanning.
Dit volg na ’n dramatiese week waarin die DA die regering met verskeie stappe gedreig het as president Cyril Ramaphosa nie daadwerklik optree teen kabinetslede wat na bewering by korrupsie betrokke was nie.
Die konflik, wat verlede Vrydag ʼn hoogtepunt bereik het, het gelei tot die DA se besluit om hul deelname aan die Nasionale Dialoog te staak en teen die begrotings van korrupsiebeskuldigde ministers te stem, wat die stabiliteit van die veelpartyregering bedreig.
Die jongste spanning in die RNE volg nadat Ramaphosa die DA-parlementslid Andrew Whitfield, adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, afgedank het omdat hy sonder Ramaphosa se toestemming ʼn buitelandse besoek onderneem het.
[BREAKING] Presidency confirms removal of DA's Andrew Whitfield as deputy minister in the department of Trade, Industry and Competition.#Newzroom405 pic.twitter.com/VWj62nDo9y
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) June 26, 2025
Die DA, onder leiding van John Steenhuisen, het verlede Vrydag in reaksie daarop ’n 48-uur-ultimatum aan Ramaphosa gestel om ministers soos Thembi Simelane (Menslike Nedersettings) en Nobuhle Nkabane (Hoër Onderwys en Opleiding) te verwyder. Beide se name word met beweerde korrupsie verbind. Simelane naam het opgeduik in haar vermeende rol in die VBS-skandaal.
🚨 Lying ANC Minister, Nobuhle Nkabane, must go! She misled Parliament about her "independent panel" and compromised individuals who were appointed to high-paying SETA Boards.
Take action now at https://t.co/RQPhRw0lG1, and support the fight to root corruption out of government. pic.twitter.com/gBw78hy48y
— Democratic Alliance (@Our_DA) June 29, 2025
Die DA het gewaarsku dat Ramaphosa se weiering om op te tree, hom “ononderskeibaar van die RET-plunderaars” maak en die RNE se mandaat van verandering ondermyn. Verlede jaar het Suid-Afrikaners in die 2024-verkiesing gestem om die ANC se eenparty-oorheersing te beëindig.
Steenhuisen sê dit is ’n wens wat die DA deur die Verklaring van Voorneme eerbiedig het, wat deur beide die DA en ANC onderteken is, maar dat die ANC aanhou om korrupsie te beskerm.
Ramaphosa het die DA se ultimatum om die twee ANC ministers af te dank summier verwerp. Hy het gesê dat hy nie voor dreigemente sal swig nie en sy grondwetlike reg sal uitoefen om self te besluit hoe om kabinetslede te hanteer. Hy het ook die afdanking van Whitfield verdedig en gesê beide Whitfield en Steenhuisen het dit sien kom.
Die DA beskou dit as flagrante dubbele standaarde. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, het egter die DA se beskuldigings in ’n verklaring as misleidend afgemaak en die ANC se verbintenis tot dialoog en stabiliteit in die RNE herbevestig.
ANC REAFFIRMS COMMITMENT TO DIALOGUE AND STABILITY IN THE GOVERNMENT OF NATIONAL UNITY#ThePeoplesMovement pic.twitter.com/esBqirZbEi
— ANC - African National Congress (@MYANC) June 29, 2025
Die ANC se 113de bestaansherdenking op 29 Junie het die spanning vererger, met Bhengu se verklaring dat die DA se optrede ’n bedreiging vir die RNE inhou. Die DA bly egter vasberade om vir nou in die RNE te bly en sê dit is in die beste belang van alle Suid-Afrikaners.
Die DA se onttrekking aan die Nasionale Dialoog, wat R740 miljoen sal kos, het nuwe olie op die vuur gegooi in die twis tussen die DA en die ANC. Steenhuisen het in ’n verklaring gesê die dialoog is ’n “verkiesingsfoefie” om die ANC se mislukkings te verdoesel, aangesien Ramaphosa nie eens met koalisievennote konsultasie voer nie.
Die DA sê hulle sal ook teen die begrotings stem van departemente onder leiding ministers wat van korrupsie beskuldig word totdat veranderinge aangebring word.
Hoewel die party nie die RNE verlaat nie, het Steenhuisen gewaarsku dat ’n mosie van wantroue in Ramaphosa oorweeg sal word indien die ANC nie hulle koers verander nie.
Die RNE, wat in Junie 2024 na die ANC se verlies van ’n meerderheid gevorm is, bly wankelrig. Met 10 partye, waaronder die DA, wat 12 van 32 ministersposte beklee (ses ministers en ses adjunkministers), het die koalisie ’n geskilbeslegtingmeganisme geskep om konflik te hanteer. Tot dusver het dit egter weinig gehelp om geskille in die RNE te besleg.
Die DA se prestasie in portefeuljes soos Landbou en Binnelandse Sake word geprys, maar hul stryd teen korrupsie bots met die ANC se beskerming van sy lede wat na bewering daarby betrokke is.
Die openbare reaksie op die jongste twis tussen die DA en die ANC is gemengd. Sommige steun die DA se pogings om korrupsie uit te roei, met oproepe om Ramaphosa onder druk te plaas, terwyl ander vrees dat die konflik die RNE kan laat ineenstort, wat ekonomiese groei en eenheid kan benadeel.
Die situasie bly vloeibaar. Ramaphosa se volgende stap, of hy kabinetsveranderinge aanbring of nie, sal bepaal of die RNE oorleef of in ’n nuwe politieke krisis verval. Terwyl die DA hul mandaat van 2024 verdedig, waarsku Steenhuisen dat die ANC se weiering om korrupsie aan te spreek die land se toekoms in gevaar stel. Baie Suid-Afrikaners hou asem op vir wat nou mag volg.
Lees ook:
’n Regering van Nasionale Eenheid op soek na rigting (30 Junie 2025)
