Minister publiseer Bela-wet se eerste regulasies

  • 0

Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het die eerste twee regulasies kragtens die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) amptelik vir openbare kommentaar gepubliseer.

Die gepubliseerde regulasies hou verband met sleutelbepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet rakende kapasiteit en toelatings.

Die Bela-wet, wat op 13 September 2024 deur president Cyril Ramaphosa onderteken is en vanaf 24 Desember 2024 in werking is, bring beduidende veranderinge aan die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel aan. Hierdie regulasies is ’n belangrike stap om die effektiewe implementering daarvan in ooreenstemming met die Grondwet en die breër visie van billike en gehalte-onderwys vir almal te verseker.

Dit wysig onder meer die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders van 1998. Die wet is omstrede, veral weens klousules soos artikels 4 en 5, wat handel oor skooltoelatings- en taalbeleide, en wat volgens kritici die outonomie van skoolbeheerliggame ondermyn deur die finale gesag hieroor aan provinsiale onderwysdepartementshoofde te gee.

Die twee stelle regulasies in die omstrede wetgewing is Woensdag in die Staatskoerant gepubliseer na maande van besprekings en oproepe van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys dat Gwarube dit moet finaliseer.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê dit is belangrik dat alle skoolbeheerliggame die tydperk van 30 dae gebruik om kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die Departement van Basiese Onderwys sê in ’n verklaring die regulasies is ’n belangrike mylpaal in die verantwoordelike en inklusiewe implementering van die Bela-wet, wat daarop gemik is om die bestuur, billikheid en gehalte van onderwys vir die land se 13,5 miljoen leerders te versterk.

Ouers, skole en lede van die publiek kan nou voorleggings doen oor die regulasies wat verband hou met sleutelkwessies soos skooltoelatings.

Die gepubliseerde regulasies het betrekking op sleutelbepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet rakende skoolkapasiteit en skooltoelatings.

Dit is volgens die departement ontwerp om te verseker dat die wysigings wat deur die Bela-wet ingestel en sedert 24 Desember 2024 wettig is, op ’n wyse geïmplementeer word wat:

  • leerders se regte handhaaf
  • skoolfunksionaliteit verbeter
  • die noukeurige balans van magte en funksies tussen skoolbeheerliggame en die regering in die behoorlike bestuur en beheer van skole sal handhaaf.

Verdere regulasies sal vir openbare kommentaar vrygestel word sodra hulle gefinaliseer en wettiglik gekeur en goedgekeur is. Hierdie modulêre vrystellingsbenadering is volgens die departement aangeneem om die vertragings te vermy wat andersins ’n massapublikasie tot gevolg sou gehad het.

Gwarube het beklemtoon dat die vrystelling van hierdie regulasies vir openbare kommentaar ’n belangrike geleentheid bied vir onderwysbelanghebbendes en die breër Suid-Afrikaanse publiek om aktief die toekoms van basiese onderwys in ons land te vorm.

“Hierdie regulasies is instrumente wat sal beïnvloed hoe skole beheer en bestuur word, hoe kinders toegelaat word, en hoe ons waardes as ’n samelewing in ons onderwysstelsel weerspieël word. Ek doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners, insluitend ouers, onderwysers, skoolbeheerliggame, die burgerlike samelewing, onderwyskundiges en gemeenskapslede om betekenisvol deel te neem aan hierdie proses van openbare kommentaar. Jou stem maak saak. Laat dit gehoor word in die vorming van die beleide en regulasies wat die onderwys van jou kinders beheer,” het Gwarube gesê.

Die Departement van Basiese Onderwys sê hulle sal ’n nasionale publieke bewusmakingsveldtog van stapel stuur om te verseker dat die inhoud van die konsepregulasies goed verstaan word en dat alle belanghebbende partye bemagtig word om ingeligte voorleggings te doen.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het op X gesê Solidariteit beveg Bela. “Die Bela-wet is boos en bedreig Afrikaanse skole. Solidariteit veg kliphard teen dié Wet en vir Afrikaanse skole. Alhoewel dit nie naastenby perfek is nie, het ons ten minste riglyne beding wat basiese beskerming vir skole bied.”

Gwarube is onder druk om al tien die regulasies te publiseer wat sal bepaal hoe die wet geïmplementeer sal word.

Die konsepregulasies is beskikbaar op die webwerf van die Departement van Basiese Onderwys en in die Staatskoerant nrs 53119 en 53120 van 6 Augustus 2025. Lede van die publiek het 30 dae vanaf die publikasiedatum  (dws tot 5 September 2025) om hul skriftelike kommentaar in te dien.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top