Onsekerheid en kommer na ontbinding van SA Toerismeraad

  • 0

Die skielike en onmiddellike ontbinding van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad deur die minister van toerisme, Patricia de Lille, het ’n golf van kommer binne die toerismebedryf en by regeringsamptenare ontlok.

Die besluit, gebaseer op bewerings van prosedures wat nie volgens die wet was nie, het ’n politieke en sektorale dispuut laat ontvlam.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor toerisme, Ronalda Nalumango, sê sy het met kommer kennis geneem van die ontbinding, met onmiddellike ingang. Sy sê hulle is nooit in vertroue geneem deur De Lille rakende die besluit en optrede nie.

Volgens mediaberigte het De Lille die raad ontbind omdat dit sy magte oorskry het deur ’n raadslid aan te stel om sommige van die funksies van die vorige voorsitter, Gregory Davids, wat in Julie bedank het, uit te voer. Daar is verder berig dat die raad sy eie handves oortree het deur ’n spesiale raadsvergadering te hou wat nie deur die voorsitter byeengeroep is nie.

Nalumango sê in ’n verklaring dat die komitee die minister sal nooi om hulle in te lig oor haar besluit.

“Ons sien uit daarna om van haar oor hierdie ontwikkeling te hoor, het Nalumango gesê. Volgens Nalumango het die komitee probeer om De Lille se eie verbintenis tot groei aan te help.

Volgens ’n amptelike verklaring deur De Lille is die ontbinding ingevolge artikel 16(3)(a) van die Toerisme Wet nr 3 van 2014 geneem, wat die minister magtig om ’n raad te ontbind indien daar “goeie rede” is. De Lille het die besluit op 19 Augustus aan lede van die raad meegedeel, nadat hulle op 14 Augustus skriftelike verteenwoordiging ingedien het om hul voortbestaan te regverdig.

Regsadvies aan die minister was na bewering dat die spesiale raadsvergadering van 1 Augustus onwettig byeengeroep is. Artikel 18(2) van die Wet magtig slegs die voorsitter van die raad om ’n spesiale raadsvergadering byeen te roep. Hierdie eksklusiewe mag wat aan die voorsitter van die raad gegee word, word verder bevestig deur klousule 9.1.2 van die raadshandves wat op 16 April 2024 aangeneem is. Vanaf 1 Augustus 2025 het die raad geen voorsitter gehad om wettiglik ’n spesiale raadsvergadering byeen te roep nie.

Voor die beweerde onwettige vergadering was daar glo herhaalde waarskuwings deur De Lille. Op 4 Julie, gevolg deur ’n skriftelike waarskuwing op 13 Julie, het sy die raad daarop gewys dat wanadministrasie en pogings om beheer te vermy die integriteit van die instansie sou ondermyn. Die raad het op 22 Julie daarop geantwoord, maar volgens die minister was dit nie voldoende nie.

SA Toerisme het in die 2024/25-boekjaar slegs 89% van sy doelwitte bereik, terwyl hy sy begroting met R24,1 miljoen oorskry het. Die parlement se portefeuljekomitee het dit as “growwe onaanvaarbaarheid” bestempel, gegewe die sentrale rol wat die instansie in ekonomiese groei en werkskepping moet speel.

Hoewel die ontbinding van die raad met onmiddellike ingang onsekerheid en spanning veroorsaak, glo sekere waarnemers dat hierdie skuif dalk die weg baan vir gesonder bestuur en rekenskap. Die dissipline van bestuur binne staatsentiteite, veral dié wat so strategies belangrik is vir behoorlike herstel ná die grendeltyd, sal volgens sommige nou vanuit ’n skoon morele en regsgrondslag hervat kan word.

De Lille het verseker dat lopende programme, soos die G20-byeenkoms en die samewerking met die Tourism Business Council of South Africa (TBCSA) binne die Tourism Growth Partnership-plan, nie deur hierdie ingryping onderbreek sal word nie

Die raad is ’n wetlike entiteit wat slegs binne die raamwerk van die wet en sy eie handves kan funksioneer. De Lille het aangekondig dat sy onder artikel 13(3) van die Wet die proses vir die aanstelling van ’n nuwe raad sal begin. Intussen sal sy tussentydse leiers aanstel om die dag-tot-dag-bestuur te hanteer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top