Suid-Afrikaners sal in volgende jaar se munisipale verkiesing landwyd uit byna 500 politieke partye kan kies om voor te stem as elke politieke party wat geregistreer is, kandidate verkiesbaar sou stel.
Altesaam 34 nuwe politieke partye is sedert die 2024-verkiesing by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer.
Tydens ’n media-inligtingsessie wat Dinsdag in Pretoria gehou is, het die hoofverkiesingsbeampte van die OVK, Sy Mamabolo, die groeiende aantal partye wat aan toekomstige verkiesings wil deelneem, uitgelig.
⏰[HAPPENING NOW]: IEC CEO, Sy Mamabolo presentation outline!
The Electoral Commission is briefing media and stakeholders on key updates in the electoral landscape, covering activities from the first quarter of the financial year and preparations for the 2026/2027 Local… pic.twitter.com/5FAvelrXOs
— IEC South Africa (@IECSouthAfrica) August 26, 2025
Die OVK sê saam met die 34 nuwe politieke partye wat sedert verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesings by die kommissie geregistreer is om aan verkiesings deel te neem, bring dit die totale aantal geregistreerde politieke partye op 472 te staan.
Alhoewel die meeste van hierdie organisasies in aanmerking kom om aan nasionale verkiesings deel te neem, beklee slegs 18 van hulle tans setels in die parlement.
[WATCH] IEC CEO Sy Mamabolo announces that 34 new political parties have been registered since the 2024 general elections. This brings the total number of registered parties to 472. #Newzroom405 pic.twitter.com/DG3HBf6mP0
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) August 26, 2025
Die plaaslikeregeringsverkiesings sal enige tyd tussen 2 November 2026 en 31 Januarie 2027 plaasvind. Mamabolo sê konsultasies tussen die minister en die kommissie het begin, maar moet nog afgehandel word.
Die wet bepaal dat die termyn van ’n munisipale raad vyf jaar is en dat verkiesings nie later nie as 90 dae na die einde van die termyn gehou moet word. Die huidige munisipale rade is op 1 November 2021 verkies. Dit beteken dat die huidige termyn op 2 November 2026 sal eindig.
Dertien van die nuwe partye is tussen Julie 2025 en gister (Dinsdag) geregistreer, het Mamabolo bekendgemak. Van die 472 geregistreerde politieke partye is 287 op nasionale vlak geregistreer, terwyl die ander 185 óf provinsiaal óf op distriks- of metro-munisipale vlak geregistreer is.
Volgens die OVK het die media-inligtingsessie plaasgevind in ’n deurslaggewende maand, naamlik vrouemaand, waartydens die monumentale bydraes van vroue om ’n demokratiese orde te bewerkstellig, en hulle voortgesette bydraes tot die handhawing van demokrasie, jaarliks herdenk word.
Tydens die mediakonferensie is daar ook beklemtoon dat meer as die helfte van die kiesers in Suid-Afrika vroue is. Dit is minder as tydens verlede jaar se algemene verkiesing toe 57 persent van die 16,2 miljoen kiesers vroue was. Tans is 55 persent van die 27,6 miljoen geregistreerde kiesers vroue.
Vroueverteenwoordiging in die parlement staan op 43 persent, wat volgens die OVK ’n betreurenswaardige afname is van die vorige 46 persent na die algemene verkiesing van 2019.
Die kommissie sê dat ’n indrukwekkende 73 persent van hulle eie personeel vroue is.
Die groeiende aantal partye in Suid-Afrika kan gesien word as ’n bewys van ’n lewendige en diverse demokrasie, maar hierdie stortvloed partye skep ook beduidende uitdagings.
Die politieke landskap kan uiters gefragmenteer word, wat die vorming van stabiele regerings moeilik sal maak. Soos reeds in verskeie munisipaliteite gesien word, kan ’n oormaat van klein partye lei tot onstabiele koalisieregerings wat dikwels nie daarin slaag om effektief te funksioneer nie. Hierdie onstabiliteit kan dienslewering belemmer en ’n negatiewe impak op die lewens van burgers hê.
Dit kan vir die gemiddelde kieser oorweldigend en verwarrend wees indien daar te veel partye is om uit te kies, en kan lei tot “kiesermoegheid” en ’n gevoel dat hul stem verlore sal raak. Die vrees bestaan ook dat dit kan lei tot ’n laer kiesersopkoms of dat mense lukraak stem sonder om werklik te weet waarvoor hulle stem.
Aan die positiewe kant beteken ’n magdom politieke partye dat kiesers in staat is om ’n party te vind wat hulle spesifieke belange en waardes die beste verteenwoordig. Dit moedig ook mededinging aan en dwing partye om harder te werk om stemme te werf, wat moontlik tot beter beleidsvoorstelle en groter aanspreeklikheid kan lei.
Die oorvloed partye beteken dat elke gemeenskap, elke stem, ’n tuiste kan vind in die politieke landskap en marginale groepe ook ’n platform het om gehoor te word, wat die demokratiese proses in sy geheel verryk.
Dit kan dus beskou word as ’n teken van ’n volwasse demokrasie, waar mense voel hulle kan ’n verskil maak deur hul eie organisasies te stig.
Die OVK het ook aangekondig dat hulle ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal vir die 2024/25-boekjaar ontvang het.
The Independent Electoral Commission (IEC) has announced that it received a clean audit opinion from the Auditor-General for the 2024/25 financial year. pic.twitter.com/wmFFaYuRce
— MDN NEWS (@MDNnewss) August 26, 2025
Die OVK het ’n beroep op die publiek gedoen om deel te neem aan openbare konsultasies oor die moontlike bekendstelling van elektroniese stemming in toekomstige verkiesings.
