Veediefstal bly ’n dringende kwessie in Suid-Afrika se landelike landbougebiede, met meer as 36 000 gevalle van veediefstal wat in die afgelope jaar alleen aangemeld is – ’n toename van 3,5% teenoor die vorige jaar.
’n Verbysterende 152 033 diere is gesteel, met die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap as die provinsies wat die hardste getref is. Benewens die statistieke, vernietig hierdie misdade lewensonderhoud, bedreig voedselsekerheid en destabiliseer die landelike ekonomie.
Die hoofekonoom van die Landbousakekamer van Suid-Afrika, Wandile Sihlobo, sê as Suid-Afrika ’n voorspoedige landbousektor wil voortsit, moet daar sterk beheer wees oor hierdie kwessies. Dit kan deur verbeterde samewerking tussen die polisiedienste en georganiseerde landbougroepe gedoen word.
Hy het sy kommer oor die situasie in sy Substack-nuusbrief uitgespreek. Sihlobo sê sulke misdaad hou enorme koste vir boere en landboubesighede in.
Dit volg nadat Statistieke Suid-Afrika die resultate van sy opname oor bestuur, openbare veiligheid en geregtigheid die afgelope week vrygestel het. In die landbou-afdeling het Statistiek Suid-Afrika aangedui dat daar in 2024/25 meer as 61 000 bokke gesteel is, 37 947 beeste en 36 486 stuks pluimvee.
Stock theft and crop/fruit theft are growing challenges in South Africa’s agricultural sector, with limited data available. Statistics South Africa’s 2024/25 Governance, Public Safety, and Justice Survey, over 61,000 goats, 37,947 cattle, and 36,486 poultry were stolen. pic.twitter.com/dzBzEcj4ro
— FARMINGPORTAL-AGRI NEWS NET-LANDBOU NUUSNET (@farmingportal) August 27, 2025
Sihlobo sê landbou is ’n noodsaaklike sektor van die land se ekonomie, met groot potensiaal vir werkskepping en verbetering van ekonomiese toestande in landelike Suid-Afrika; daarom is dit noodsaaklik om te verseker dat boere in ’n veilige en gesonde omgewing werk.
Coert Jordaan, voorsitter van Landelike Veiligheid op Agri Oos-Kaap se raad, het onlangs in ’n onderhoud met Farmer's Weekly gesê sindikate is beslis betrokke.
“Veediefstal is wydverspreid in die Oos-Kaap. As mens na die nasionale statistieke kyk, is dit die provinsie met die hoogste aantal veediefstalgevalle wat aangemeld word en die hoogste aantal gesteelde vee. Sindikate is ongetwyfeld betrokke, aangesien groot getalle vee elke keer gesteel word,” het hy gesê.
Die DA wie se leier, John Steenhuisen, wat ook die minister van landbou is, sê in ’n verklaring hulle neem kennis van die skokkende bevindinge van Statistieke SA se jongste opname oor bestuur, openbare veiligheid en geregtigheid (2024/25), wat die verwoestende omvang van veediefstal in Suid-Afrika bevestig.
Veediefstal het landwyd toegeneem wys die jongste inligting van Statstieke Suid-Afrika. In die 2024-’25 boekjaar is 36 109 voorvalle aangemeld en meer as 152 000 diere gesteel. Dit is ’n 3,5% toename vergeleke met die vorige boekjaar.https://t.co/1DxkVg86TM
— landbou.com (@landbou) August 26, 2025
Vir baie boere is hul beeste, skape of bokke hul enigste bron van inkomste, die kuddes dikwels opgebou deur jare se opoffering. Wanneer misdadigers in die middel van die nag kom om hierdie diere te steel of te slag, word hele gesinne behoeftig gelaat, hul waardigheid weggeneem en hul toekoms verpletter, sê die DA se woordvoerder oor landbou, Willie Aucamp, in sy verklaring.
“Hierdie plaag het ’n krisis geword vir boere en landelike gemeenskappe, wat nie net finansiële ondergang in die gesig staar nie, maar ook die trauma van gewelddadige rooftogte en wrede veeslagtings. Die verslag beklemtoon verder die voortdurende uitdagings in SAPD-ondersoeke en vervolgings, wat misdadigers te dikwels ongestraf laat.”
Hy sê Steenhuisen doen beslissende stappe om hierdie krisis aan te spreek. “Hy onderhandel vir nultoleransie teen oortreders en het die behoefte aan samewerking tussen agentskappe, streng veroordelings en die aftakeling van onwettige vleismarkte beklemtoon.”
Hy dryf ook hervormings om ’n robuuste identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel van diere te implementeer, en om te belê in vernuwende tegnologieë soos DNS-profilering en biometriese etikettering. Hy koördineer ook aksies met die SAPD deur die Landelike Veiligheidstrategie om voorkoming en opsporing te versterk, het Aucamp gesê.
AfriForum het vroeër vanjaar in ’n verklaring gesê veediefstal het die Suid-Afrikaanse landboubedryf van Januarie tot Maart vanjaar van minstens R200 miljoen in direkte verliese gestroop. Die burgerregteorganisasie benadruk dat die totale finansiële verlies weens veediefstal egter aansienlik meer is. Die indirekte finansiële verlies weens veediefstal sluit onder meer die verlies in van aanteelpotensiaal, die koste van verdere veiligheidsmeganismes en verhoogde versekeringspremies. Dit alles sal bygereken moet word om die ware finansiële verlies van dié misdaad te bepaal.
