Rasseherrie in Stellenbosch oor beweerde rassisme teen wittes

  • 0

’n Politieke storm het Stellenbosch getref nadat ’n video uitgelek het waarin ’n amptenaar van die Stellenbosch-munisipaliteit na bewering rassistiese sienings uitspreek en blykbaar onwettige arbeidspraktyke bevorder.

In die video kan gehoor word hoe die munisipaliteit se menslikehulpbronnebestuurder, Alexander Kannemeyer, sê die lewe moet doelbewus moeilik gemaak word vir wit mense sodat hulle bedank en die “regte” mense dan aangestel kan word.

Hy sê voorts die werkswyse om geskoolde en opgeleide persone aan te stel lei gewoonlik daartoe dat wit persone – en veral wit mans – eerste in aanmerking kom om aangestel te word en “dit moet tot ’n einde kom”. Ook dat daar reeds te veel wit mans in senior bestuursposte is.

Volgens hom kan daar eerder “ongeskoolde” persone van kleur aangestel word om transformasie te dryf. Die res van sy uitlatings borduur op dieselfde trant voort.

Die video het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, terwyl die Vryheidsfront Plus en Solidariteit gevra het vir onmiddellike optrede teen die betrokke amptenaar.

Die DA en die dorp se DA-burgemeester het vure doodgeslaan so al wat hulle kan om hulself van die omstrede video te distansieer.

Die DA sê in ’n verklaring hulle is diep bekommerd oor die video.

Hulle sê die party is verbind tot nierassigheid en verwerp alle vorme van diskriminasie, ongeag die bron of teiken daarvan.

“In die lig van die video (...) is die opmerkings, indien akkuraat in konteks gerapporteer, direk teenstrydig met die DA se waardes en beginsels,” lui die party se verklaring.

“Die DA trek ’n duidelike lyn tussen party en staat. Ons is nie betrokke by kaderontplooiing nie, en verwag dat ’n bekwame, onafhanklike staatsdiens ons beleide sal implementeer waar ons regeer. Daarom verwag ons dat DA-beheerde munisipaliteite hul sal gedra op ’n wyse wat ooreenstem met die grondwetlike waardes van billikheid en waardigheid, en met DA-beleid.”

Die DA sê hulle sal met die politieke leierskap van die Stellenbosch-munisipaliteit in gesprek tree om die feite van hierdie saak vas te stel en te verseker dat die toepaslike prosesse gevolg word.

“Die kommentare in die opname het geen plek in ’n munisipaliteit onder DA-bestuur nie, en behoort nie ’n plek in enige regering in Suid-Afrika te hê nie.”

Die dorp se burgemeester, Jeremy Fasser, het op X gesê die voorval het in 2023 plaasgevind voordat hy burgemeester geword het en hy is besig met ’n ondersoek na die saak. Hy sê op sigwaarde is die video egter ’n groot bron van kommer en het belowe om tot die kern daarvan deur te dring en die nodige stappe te doen.

Die VF Plus het die voorval in ’n verklaring ten sterkste veroordeel. “Dit is skokkend dat ’n senior amptenaar bereid is om dienslewering op Stellenbosch te laat verval net om transformasieteikens na te jaag,” het adv Gert van Niekerk namens die party gesê.

Hy sê die DA, as die regerende party op Stellenbosch, moet duidelikheid gee of hierdie siening met sy beleid ooreenstem. Indien nie, verwag die VF Plus ’n ondubbelsinnige verwerping van Kannemeyer se uitlatings en ’n openbare verbintenis tot billike aanstellingspraktyke.

Die VF Plus dring aan op die onmiddellike skorsing van Kannemeyer hangende ’n deeglike en deursigtige ondersoek na sy uitlatings.

GOOD het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om beslissend, deursigtig en dringend op te tree. Die party sê transformasie moet wettiglik en eties nagestreef word, nie deur rassesuiwering of agterdeurmanipulasie van aanstellingsprosesse nie.

AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê op X dit is kommerwekkend dat die groeiende rassisme teen minderhede onder die ANC-geleide regering nou ook in die Stellenbosch-munisipaliteit posvat.

AfriForum sê in ’n verklaring die gemeenskap gaan op die ou end aan die kortste ent trek as die munisipaliteit op hul rasgebaseerde vendetta aandring om die beste kandidate óf uit te sluit óf uit te dwing. “Om ’n werknemer se lewe ‘moeilik’ te maak kom ook, ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) se kode op goeie praktyk asook die Wet op Arbeidsverhoudinge (66 van 1995), neer op teistering en word daarvolgens verbied. Dit skep ’n vyandige werkskultuur en stel die munisipaliteit bloot aan KVBA- en Arbeidshof-eise vir konstruktiewe ontslag en skadevergoeding.”

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê as iemand bewus is daarvan dat die persoon wat die video gelek het, geïntimideer word, moet hulle Solidariteit of hom direk kontak. Hy sê dit was die regte ding om te doen en hierdie soort “rasmalheid” moet ontbloot word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top