Dit was ’n bruin werknemer van Stellenbosch se munisipaliteit wat die gewraakte video-opname wat die beweerde rasgebaseerde boeliegedrag teenoor wit mense aan die kaak stel, aan Solidariteit geopenbaar het.
’n Spesiale raadsvergadering word vandag (Vrydag) deur die munisipaliteit gehou om die saak wat die afgelope week in die stadsraad ontplof het, te ondersoek.
Die persoon wat die vergadering bygewoon het, was so geskok oor die opmerkings van die mensehulpbronbestuurder, Alexander Kannemeyer dat hy die video aan Solidariteit oorhandig het. Dit was egter nie hy wat die video op sosiale media geplaas het nie.
Hy was deel van die Teams-vergadering van die paneel wat oor ’n aanstelling moes besluit. Hy het gepoog om die opname ná die vergadering te bekom, en het toe ontdek dat die opname na bewering gestel was om ná sewe dae te verdwyn, in plaas van 180 dae, wat glo die praktyk is. Gelukkig kon hy wel die video aflaai, want tydens latere litigasie het dit geblyk dat die video intussen verdwyn het.
In ’n memorandum wat Solidariteit die afgelope Woensdag aan die burgemeester van Stellenbosch, Jeremy Fasser, gestuur het, word Fasser versoek om Kannemeyer te skors in die lig van die ernstige aard van die bewerings teen hom.
“Maak die lewe van wit mense moeilik totdat hulle bedank,” sê Alexander Kannemeyer. Hier is Solidariteit se Kannemeyer-memorandum en ons eis eers jóú afdanking binne sewe dae, Mnr. Kannemeyer.
Alexander Kannemeyer is die mensehulpbronbestuurder van die Stellenbosch… pic.twitter.com/fyol4mO8L3
— Solidariteit (@solidariteit) September 4, 2025
Fasser sê in ’n verklaring hy glo daar is genoeg rede om ’n interne ondersoek in te stel, daarom het hy vandag se spesiale raadsvergadering byeengeroep om die proses te begin.
Mayor Jeremy Fasser responds to circulation of a 2023 video:
✅ Preliminary investigation conducted
✅ Special Council meeting to be convened
✅ Formal investigation to follow
✅ Review of Recruitment & Selection Policy🔗 Read the full statement here: https://t.co/C8hzXZpfNC pic.twitter.com/9rqB8POEIP
— Stellenbosch Municipality (@StellMun) September 3, 2025
Hy sê rasgebaseerde boeliegedrag, of boeliegedrag van enige aard, het geen plek in enige werksplek nie. Die grondwetlike waardes van billikheid en waardigheid moet gehandhaaf word en alle aanstellings behoort op meriete en bevoegdheid gebaseer te wees.
“Ons sal nooit die gedrag, wat die kern van hierdie bewerings vorm, goedkeur nie. Ons is daartoe verbind om ’n Suid-Afrika te bou wat vry is van enige vorm van diskriminasie en rassevooroordeel,” het die burgemeester in sy verklaring gesê.
Tydens vandag se raadsvergadering sal die DA ’n mosie indien om die waarnemende direkteurskap van Kannemeyer te beëindig. Dit sal hom effektief “degradeer” terwyl die saak ondersoek en ooreenstemmende dissiplinêre stappe oorweeg word.
Die DA-koukus sal ook sy skorsing deur die munisipale bestuurder eis, wat die mag het om dit te doen.
The Mayor of Stellenbosch Municipality, Jeremy Fasser, has called for the scheduling of a special Council meeting on Friday 05 September to handle the matter of Acting Corporate Services Director Alexander Kannemeyer: https://t.co/RrpOm4kIKX
Race-based bullying, or bullying of…
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 3, 2025
Van die omstrede uitlatings wat Kannemeyer volgens die video gemaak het is: “Maar ek het ’n groot bekommernis dat ons, elke keer as ons iemand aanstel en terugkom en ons gaan vir die hoogste puntemaker, dit altyd ’n wit man is. Ek glo dat ons nooit hierdie organisasie reg gaan kry met daardie soort houding nie. (...)
“So, ons gaan nie meer op geslag fokus nie. Dus, ons werk op ’n manier waar ons óf die lewe moeilik maak vir die persoon wat inkom (en ek sê nie dit het gebeur nie). Ek sê ons maak die lewe moeilik vir die persoon wat inkom … Die persoon bedank en daarna kry ons wat ons wil hê,” lui nog ’n deel van die beweerde gesprek wat in Engels plaasgevind het.
Die agtergrond van die hele petalje is dat Stellenbosch-munisipaliteit in 2022 die posisie van bestuurder: Watersuiwering-infrastruktuurdienste (IS/WWS/WT/01) geadverteer met ’n sluitingsdatum van 3 Oktober 2022.
Die paneel het bestaan uit die direkteur: Infrastruktuurdienste; bestuurder: Afvalwatersuiwering, senior bestuurder: Dienste-ontwikkeling, batebestuur en stelsels, en projekbestuureenheid. Die niepaneellede teenwoordig was Alexander Kannemeyer (senior bestuurder: Menslike hulpbronne korporatiewe dienste) en ’n Imatu-verteenwoordiger.
Die paneel het sewe kandidate op ’n kortlys geplaas en onderhoude gevoer, waarop ’n wit man as die beste kandidaat aangewys is, met ’n bruin vrou en twee swart mans wat daarop gevolg het.
Die paneel het besluit om nie die wit man aan te stel nie, maar eerder die bruin vroulike kandidaat. Sy het egter haar bedanking ingedien. Ná die bedanking het die paneel weer op 13 Maart 2023 vergader om, op grond van dieselfde vorige tellings, op die volgende kandidaat te besluit. Een van die paneellede, ’n bruin man, het die vergadering via Teams bygewoon. Volgens die twee uitgelekte video’s het Kannemeyer op daardie dag na bewering sy gewraakte uitlatings gemaak.
