Suid-Afrikaners dok jaarliks miljoene rand op aan buitensporige fooie wat aan raadslede van die waternutsdienste in die land betaal word, terwyl krane regoor die land leeg staan.
Volgens ’n parlementêre antwoord deur die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, het raadslede gesamentlik byna R50 miljoen in die 2023/24-boekjaar in vergoeding en voordele ontvang, insluitend besigheidsklas- oorsese reise en eise vir die bywoning van geleenthede soos personeelbegrafnisse en gala-etes. Sommige lede het ook reis- en verblyfkoste van meer as R200 000 per jaar aangegaan wat alles deur belastingbetalers gedra moet word.
Die departement het hierdie bewerings as onakkuraat en misleidend beskryf en gesê dat die maksimum bedrag wat deur enige raadslid in die laaste finansiële jaar verdien is, R1,7 miljoen was, ver onder die syfers wat gerapporteer is.
Politieke partye en burgerlike organisasies het egter die hoë fooie wat aan raadslede van waternutsdienste soos uMngeni-uThukela Water toegeken word, gekritiseer.
Die DA sê in ’n verklaring hoewel die departement aanvoer dat hierdie bedrae strook met goedgekeurde beleide, beteken dit nie dis reg of billik teenoor die miljoene Suid-Afrikaners wat tans sonder basiese dienste is nie.
🚰 While taps run dry, water-board chairs earn over R100 000 per meeting!
The DA will push for full transparency, tighter rules, independent reviews, all while keeping the focus on urgent municipal action to restore water to residents.
🔍Read more: https://t.co/xljSIHgDen
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 9, 2025
In die geval van die uMngeni-uThukela Waterraad het een raadslid na bewering R1,5 miljoen verdien terwyl hy ongeveer 14 vergaderings gedurende daardie tydperk bygewoon het. Die 12 individue wat as raadslede van die entiteit vir 2023 gelys is, het na bewering tussen R460 000 en R1,5 miljoen verdien nadat hulle tussen 13 en 27 vergaderings bygewoon het.
Die DA se woordvoerder oor water en sanitasie, Stephen Moore, sê die land benodig elke moontlike sent om te verseker dat munisipaliteite aan die basiese beginsels kan voldoen, naamlik die herstel van lekkasies, die bestuur van druk, die instandhouding van reservoirs en pompstasies, die korrekte meting en fakturering, en die betaling van hul grootmaatwaterrekeninge.
AfriForum het in ’n verklaring ’n beroep op die ouditeur-generaal en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gedoen om hul ondersoek na korrupsie en die vergoedingstrukture in Suid-Afrika se waterrade uit te brei om al sewe die waterrade in te sluit.
Entiteite soos uMngeni-uThukela, Lepelle Northern Water en Amatola Water word reeds deur die SOE ondersoek en is die middelpunt van hierdie beweerde skandaal. Miljoene huishoudings word geteister deur beweerde wanbestuur, infrastruktuur wat ineenstort en gebrekkige dienslewering aan die kant van daardie rade.
Waterkrisis vererger terwyl waterrade miljoene in die sak steek https://t.co/BRWHj9VJ0Q pic.twitter.com/liAGQb8Bjx
— AfriForum (@afriforum) September 9, 2025
“Hierdie growwe misbruik van openbare fondse is ’n belediging vir elke gemeenskap wat sonder skoon drinkwater sit,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake. “Die wet is duidelik: Ingevolge artikel 195 van die Grondwet en die Wet op Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000) moet openbare administrasie verantwoordbaar, deursigtig en gefokus wees op dienslewering. In plaas daarvan funksioneer hierdie waterrade as persoonlike verrykingskemas vir die politieke elite.”
Die DA doen ’n oproep om volle deursigtigheid en sê die departement moet elke entiteit se fooibeleid, tariewe per vergadering, byvoegings (reis/voorbereiding/komitees), bywoning en totale vir 2023/24 publiseer.
Hulle vra ook die Nasionale Tesourie en die ouditeur-generaal (AGSA) om watersektorraadvergoeding te vergelyk met vergelykbare staatsondernemings, met bevindinge wat aan die parlement ter tafel gelê word.
Intussen het spanning Woensdag bly eskaleer in Coronationville en verskeie ander gebiede terwyl inwoners betoog het teen die voortdurende waterkrisis. Verskeie ingange is geblokkeer. Ten spyte van versekerings van Johannesburg Water dat die toevoer binne 10 uur herstel sou word, het krane kort daarna weer leeggeloop.
Tensions continue to escalate in Coronationville as residents protest the ongoing water crisis. Multiple entrances have been blocked. Despite assurances from Joburg Water that supply would be restored within 10 hours, taps ran dry soon after. #Today #DStv403 #QuestionThinkAct pic.twitter.com/IyNHzaSFut
— eNCA (@eNCA) September 10, 2025
Die DA sê in hulle verklaring die hoë raadsfooie is baie moeilik om te regverdig gegewe die toestand van die land se waterkrisis. Die DA sê hulle sal by die Minister en elke raad in die komitee aandring op ’n deursigtige hersiening en strenger beheer oor vergoeding terwyl dringende munisipale optrede geëis word om betroubare watervoorsiening vir inwoners te herstel.
AfriForum het beklemtoon dat water ’n basiese mensereg is ingevolge artikel 27(1)(b) van die Grondwet. Terwyl regeringsentiteite skaars hulpbronne mors op oordrewe luukshede tydens vergaderings, verloor munisipaliteite steeds na raming 40–50% van skoon water deur lekkasies en verwaarlosing. Dit is ’n krisis wat volgens AfriForum voorkom kon word deur vroegtydig herstelwerk te verrig en in infrastruktuur te belê.
