ANC se nuwe ekonomiese plan met skeptisisme begroet

  • 0

Die ANC se nuwe 10-punt-ekonomiese-aksieplan wat die afgelope Maandag deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is, word met ’n golf van skeptisisme deur Suid-Afrikaners ontvang, insluitend deur die party se grootste bondgenoot in die RNE, die DA.

Die plan, wat op 6 Oktober 2025 ná ’n spesiale NUK-vergadering van die ANC in Boksburg onthul is, wil poog om Suid-Afrika se stagnerende ekonomie te laat herleef, werkloosheid te verminder en ongelykheid aan te spreek.

Die pad vorentoe is egter allesbehalwe glad, en verskeie rolspelers is oorwegend skepties, met kritiek dat die plan ou idees herverpak sonder nuwe fondse of tydlyne.

Die nuus dat die ANC as party so te sê bankrot is en dat die balju toegeslaan het op die ANC se hoofkantoor in Johannesburg om op meubels en ander items beslag te lê om hulle skuld te delg, boesem weinig vertroue in dat die ANC die land se ekonomie kan red as hulle nie eers hulle eie boeke kan laat klop nie.

Ramaphosa se plan, wat uit die ANC se 55ste Nasionale Konferensie en die 2024-verkiesingsmanifes voortspruit, beklemtoon drie strategiese prioriteite: inklusiewe groei en werkskepping, armoedeverligting en die bou van ’n bekwame staat.

Die DA het skerp gereageer deur te eis dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en rasgebaseerde beleid laat vaar word vir ware groei. In ’n verklaring deur Mat Cuthbert, DA-hoof van beleid, het Cuthbert Ramaphosa se plan beskryf as diefstal van die DA se eie plan om die ekonomie op dreef te kry.

 “Dit voeg net die ANC se mislukte idees van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en rasgebaseerde beleid by, wat beleggings ontmoedig en groei gesmoor het,” sê  Cuthbert.

Ander opposisiepartye en ontleders deel die DA se kommer. Ekonoom Duma Gqubule het dit “déjà vu” genoem: “Geen nuwe pad na 3% groei nie – net herhaling sonder finansiering of antikorrupsiefokus,” het hy op SABC News gesê. Gekwalifiseerde rekenmeester Khaya Sithole het dit “’n voorverkiesingsfoefie” genoem wat korrupsie se kernrol ignoreer en geen duidelike uitkomsplan het nie.

Die vakbond Cosatu, ’n tradisionele bondgenoot van die ANC, het die plan verwelkom, maar dit gekoppel aan hul eise vir meer aksie teen korrupsie. Cosatu het gister (Dinsdag) ʼn nasionale protesaksie gehou om aan te dring op beter openbare dienste, werksekerheid, en ’n einde aan “winsgedrewe ontbindings” van staatsentiteite wat glo tot die ekonomiese krisis bygedra het.

“Die regering luister, maar nou moet daar gelewer word,” het ’n Cosatu-woordvoerder aan die SABC gesê.

Sakeleiers het gemengde reaksies gehad. BusinessLIVE het die plan as die ANC se “laaste dobbelsteen” beskryf, met lof vir mynbou-ingrepe soos uitvoerheffings, maar twyfel oor Transnet se herstel. News24 het Ramaphosa se “Jaar van Hernuwing” bestempel as ’n poging om openbare vertroue te herstel, maar ontleders aangehaal wat daarop wys dat daar minder as 50 persent kans op sukses is sonder die hulp van die privaatsektor en effektiewe bekamping van korrupsie.

Die plan se sukses hang ook af van RNE-samewerking, maar spanning tussen die ANC en DA oor veral SEB kan dit ondermyn. Terwyl Ramaphosa op “sosiale vennootskappe” reken vir beleggings, waarsku kenners dat Suid-Afrika se ekonomiese probleme kan vererger sonder radikale veranderinge.

Die algemene sentimente onder kritici is dat die plan se sukses sal afhang van die regering se vermoë om dit werklik te implementeer, iets wat in die verlede ontbreek het. Die komende weke sal bepalend wees. Die ANC sal moet bewys dat hierdie plan nie net ’n politieke maneuver is nie, maar ’n werklike poging om die ekonomie te red. Intussen sal die DA en ander rolspelers hul eie alternatiewe voorstelle in die parlement aanvoer, terwyl Cosatu en die burgerlike samelewing druk uitoefen vir daadwerklike verandering.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top