Real faces as deel van die European Film Festival

  • 0

Regie: Leni Huyghe
Draaiboek: Leni Huyghe en Vincent Vanneste
Rolverdeling: Leonie Buysse, Yoann Blanc, Nathan Naenen, Karlijn Sileghem
Tale: Nederlands, Frans, Engels

Ek het Real faces, die Vlaamse inskrywing op die Europese Filmfees, afgelaai. Ten spyte van die titel, is Engels nie ’n baie algemene taal in die film nie. Nederlands en Frans word om die beurt gepraat, met frases in Engels.

Ek het Real faces geniet, maar dis beslis nie enige een se smaak nie. Sou jy na Hollywood-glans en verteerbare storielyne soek, is Real faces dalk hopeloos te realisties vir jou!

Meer oor Julia, die hoofkarakter

Julia (29) (gespeel deur Leonie Buysse) help regisseurs om die regte gesigte vir hul films te kry. Ons ontmoet haar kort na sy na Brussel getrek het, skynbaar weens ’n verhouding wat versuur het. Sy kry werk vir ’n regisseur (gespeel deur Yoann Blanc) wat soek na nuwe, vars gesigte vir ’n advertensieveldtog.

Julia moet mense op straat voorkeer en hulle oorreed om oudisies te doen. Die regisseur gee dan vir Julia vreemde vrae wat sy vir die moontlike akteurs moet vra, terwyl hulle in die kamera kyk. Dit maak haar ongemaklik, die potensiële akteurs ook.

Die regisseur het boonop self huweliksprobleme en hy sien Julia se lyf raak; sy attensies met haar is redelik duidelik.

Sy instruksies aan Julia word al hoe meer bisar en sy is die een wat die arme akteurs die vreemde opdragte moet laat uitvoer. Wanneer sy aan hom noem dat sy nie dink dié strategie trek die beste moontlike akteurs nie, maak hy haar idees af as niksseggend.

Julia se verblyf

Aangesien sy met net die nodige in Brussel opgedaag het, soek sy ’n blyplek en vind ’n kamer in die woonstel van Elliot (32) (gespeel deur Gorges Ocloo).

Elliot is ’n baie skaam wetenskaplike wat pas sy PhD voltooi het oor mosse en ligene.

Elliot se lewe

Elliot gee klas by die universiteit waar hy studeer. Sy studente kom skynbaar goed met hom oor die weg, maar dis duidelik dat hy nie ’n groot prioriteit is vir sy studieleier nie. Ons hoor baie gereeld hoe Elliot moet smeek vir antwoorde op vrae wat hy gestuur het.

Toe hy wel ’n afspraak kry, sit die baas en gesels met vriende oor beuselagtighede en Elliot moet soos ’n stout kind buite wag.

Op hierdie manier eggo Elliot se lewe dié van Julia.

Daar is darem ’n lieflike oomblik wanneer Elliot ’n oproep kry van ’n universiteit in Groenland wat sy navorsing na waarde skat.

’n Vreemde vriendskap

Julia is menssku na haar vorige verhouding. Elliot is gewoon skaam.

Op ’n manier begin die twee tog gesels en Julia kom agter dat Elliot ’n enorme kennis het van films. Sy nooi hom om ’n oudisie te doen.

Die regisseur se vreemde idees oor wat moet gebeur tydens die oudisies, versuur egter hul vriendskap, want Elliot dink dat Julia hom opsetlik in ’n ongure situasie geplaas het.

Die regisseur kry wat hy wil hê, maar nie op die stel nie

Yoann Blanc speel die rol van die slymerige baas ontsettend goed. By geleentheid voel die leser byna jammer vir hom wanneer hy erken dat hy tans sukkel om rigting te vind in sy regie.

Hy neem dan ook een aand vir Julia bed toe, maar dit maak nie dat sy regie of die keuses van die mense wat hy op stel wil hê, noodwendig uitwerk nie.

Wat is eg?

Die film vra uiteindelik twee vrae:

  • Hoe hanteer mense mag?
  • En wat is werklik?

Julia en Elliot se lewens word deur maghebbers versuur. In Elliot se geval, is dit nie net ’n afsydige studieleier wat hom pla nie. Sy werk toon ook dat mense wat die natuur verwoes vir ekonomiese gewin, bloot omdat hulle kan, groot skade aanrig aan biodiversiteit.

Is die probleme wat Julia en Elliot aanvoel en raaksien werklik, of is hulle maar net onnodig sensitief?

Wat is eg?

Ook die soeke na werklike gesigte, soos die titel van die film reeds aandui, word afgewater deur magshebbers wat die verkeerde versoeke aan die potensiële akteurs rig.

Kry die man wat hierdie versoeke rig, werklike egte gesigte wat vir hom wil werk?

Die film draai nie doekies om nie.

  • Julia en Elliot verloor hul baie mooi vriendskap.
  • Die regisseur kry nouliks die advertensie geskiet.
  • Hoopvolle akteurs byt ook die spit af.

Real faces bied geen maklike antwoorde nie.

’n Knap debuut

Leonie Buysse, wat Julia speel, is vir my baie mooi en baie eg, juis omdat sy nie soos ’n poppie lyk nie. Sy het ’n “real face”.

Ook Elliot en die regisseur, wat nie een ’n tradisionele held is nie, kom baie eg oor.

Real faces is Leni Huyghe se debuut as regisseur. Sy het reggekry wat haar fiktiewe regisseur nie kon regkry nie. Haar film werk.

Grimm Vandekerckhove, wat in beheer was van die fotografie, het ’n baie goeie mengsel van Brussel, gesigte en aksie geskiet.

Dus?

Vir my was dit ’n baie aangename film; vir baie ander sal dit te stadig wees.

Lees ook:

The North, ’n film oor vriendskap by die Europese Filmfees

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top