Afrikaners gryp mekaar aan die keel

  • 0

Afrikaners is in ’n hewige stryd gewikkel oor wie namens die gemeenskap mag praat. Die jongste twis volg op die Trump-administrasie se plan om wit Suid-Afrikaners voorkeur te gee vir vlugtelingstatus.

’n Groep van 40 Afrikaners het hulle in ’n ope brief duidelik gedistansieer van organisasies soos die Solidariteit Beweging en hul betrokkenheid by die Amerikaanse regering. Die groep stel dit onomwonde: Solidariteit praat nie namens hulle nie. Hulle verwerp die narratief dat Afrikaners slagoffers is van rassistiese vervolging in postapartheid Suid-Afrika, en beklemtoon dat hulle nie vlugtelinge is nie.

Die groep het ook ’n gratis petisieveldtog van stapel gestuur waarin ander Afrikaners hul stem by dié sentiment kan voeg. In hul verklaring sê hulle: “As Suid-Afrikaners en Afrikaners reageer ons ten sterkste teen die Trump-regering se plan om aan wit Suid-Afrikaners voorkeur te gee vir vlugtelingstatus, veral terwyl die algehele toelating van vlugtelinge na die VSA drasties verminder word. Hierdie stap het ons identiteit op ’n ontstellende wyse in die kollig geplaas.”

Hulle spreek ook kritiek uit teen diegene wat beweer dat daar sprake is van volksmoord teen Afrikaners, en stel dit duidelik dat organisasies soos AfriForum en Solidariteit nie namens hulle praat nie. “Geen enkele organisasie het ’n duidelike of legitieme mandaat om namens alle Afrikaners te praat nie,” lui die brief. “Afrikaners soos ons, wat ons Suid-Afrikaanse wortels terugvoer na die 17de en 18de eeue, kies om onsself lede van ’n inklusiewe en diverse Afrikaanssprekende gemeenskap te noem. Ons deel ’n taal, en ons kulturele tradisies en godsdienstige wortels is dieselfde, maar ons gemeenskap huisves ’n verskeidenheid van sienings. Hierdie diversiteit is ingebed in ons geskiedenis en dit is ons krag, nie ons swakheid nie. Suid-Afrika se diversiteit verryk ons.”

Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, het op Facebook met sarkasme en minagting gereageer. Hy beskryf die ondertekenaars as “skynheilige linkses uit die koffiewinkels van Melville en Stellenbosch” wat glo net nie wil hê Solidariteit en AfriForum moet namens hulle praat nie. Hy verwys na die ope brief as ’n “ou briefie” en spog dat Solidariteit namens honderde duisende gewone Afrikaners praat.

Kleynhans het veral sy mes in vir “linkses soos Max du Preez en Piet Croucamp”, albei ondertekenaars van die brief, wat volgens hom in die 1990’s vir die ANC gestem het. Hy beweer verder dat die kinders van die 40 ondertekenaars dikwels oorsee woon en nie deur raswette en daaglikse diskriminasie geraak word nie.

Croucamp het op die nuusbrief Binne+Land gereageer op die uitlatings van Kleynhans en Solidariteit se voorsitter, Flip Buys. Hy sê hoewel Buys “boots and all” ingeklim het, glo hy nie die verskille is persoonlik nie en dat ’n goeie gesprek tot wedersydse begrip kan lei. “Ons sal seker nie maklik eensgesindheid vind nie, maar ek twyfel nie oor Buys se eerbaarheid nie, al dink ek hy is dikwels eenvoudig verkeerd.”

Oor Kleynhans is Croucamp minder vleiend. Hy beskryf hom spottend as “Orania se burgemeester at large” en meen Kleynhans trek hom af na sy “eie kleinsielige, verregse vervlakking”. Croucamp sê hy wil hom eintlik ’n rassis noem, maar Solidariteit het dieper sakke as hy, daarom noem hy hom liewer iemand so behep met sy eie witheid dat daar geen plek in sy Kerskous is vir Christelike empatie vir enigiemand behalwe homself nie.

Hy sluit af met ’n verwysing na David Kramer se woorde: “Die hemel is ’n multiracial affair” en sê Kleynhans is heel waarskynlik op Gabriël se waglys vir dissiplinêre verhore. Volgens Croucamp is daar niks wat Kleynhans so histeries maak as kritiek op Donald Trump nie. “Sy X-rekening is waar hy homself kan wees. Sy verregse bitterbalstem vier hoogty op ’n openbare verhoog waar sy voorkoms as pastelkleurige, plattelandse diaken hom nie kan ondermyn nie. Op X is dit nie nodig om die vrome, priesterlike nomenklature van gewaande redelikheid te beoefen nie.”

Kleynhans het op X geskryf van “40 leftist ex-Afrikaners (all Trump-hating globalists …)”, en elders beskryf hy die groep se openbare besorgdheid as “’n daad van haat teen Afrikaners”.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top