Die wêreld se aandag verskuif volgende week na Johannesburg, waar die G20-leiersberaad vir die eerste keer op Afrika-bodem plaasvind.
Onder die tema “Solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid” kom wêreldleiers saam om oor globale ekonomiese, sosiale en omgewingskwessies te besin – maar die beraad word reeds deur diplomatieke spanning oorskadu ná die VSA se besluit om dit te boikot.
NO DOUBT!!! South Africa Leads, Africa Rises. By hosting this summit, we position ourselves and our continent as key players in shaping international policies on social justice, sustainable development and economic equality#ReKaofela #G20SocialSA2025 #G20SouthAfrica… pic.twitter.com/KpeYbsVYdr
— South African Government (@GovernmentZA) November 12, 2025
Volgens die Stad Johannesburg is voorbereidings in die finale stadiums. Sekuriteit, infrastruktuur en logistiek is volgens amptenare gereed, met bykans 130 voorvergaderings wat reeds plaasgevind het. Sowat 30 buitelandse leiers word verwag, en die stad ondergaan ’n groot skoonmaak-aksie voor die beraad.
Die stad het in ’n verklaring gesê dat die aanbied van die beraad ’n rykdom van ekonomiese vooruitsigte vir die stad en die breër Suid-Afrikaanse ekonomie sal ontsluit.
South Africa is creating a historic moment hosting #G20Summit for progressive Africa and a stronger and united Global South.
United We Stand upholding Solidarity- Equality and Sustainability for the world. #ReKaofela #G20SouthAfrica pic.twitter.com/LeZLs7Gg9l— Ronita (@rons1212) November 13, 2025
Suid-Afrika, wat tot einde November die G20-voorsitterskap beklee, wil die geleentheid gebruik om Afrika se belange sentraal te plaas. President Cyril Ramaphosa het gesê die fokus sal wees op “’n meer regverdige wêreldorde waar Afrika nie langer afgeskeep word nie”.
Die belangrikste temas sluit in ekonomiese herstel ná die pandemie, finansiering vir klimaatsaksie en voedselsekerheid, digitale gelykheid, en die verbetering van Afrika se kredietgraderings. Organisasies soos TrustAfrica en burgerlike netwerke neem deel aan voorafvergaderings wat daarop gemik is om burgerlike stemme te laat hoor.
Op 7 November het president Donald Trump aangekondig dat geen Amerikaanse amptenare die beraad sal bywoon nie. Hy het Suid-Afrika beskuldig van “menseregte-oortredings” teen wit Afrikanerboere en verwys na Suid-Afrika se VN-aanklag teen Israel as bykomende rede vir die boikot.
Trump het op sy Truth Social-platform gesê dat die G20 in Suid-Afrika ’n “totale skande” is, en beweer dat “duisende wit boere” vermoor en hul plase onwettig gekonfiskeer word, bewerings wat deur feitetoetsers as ongegrond verwerp is. Die besluit om die G20-beraad te boikot volg op gespanne betrekkinge tussen die twee lande ná ’n ongemaklike ontmoeting tussen Trump en Ramaphosa vroeër vanjaar, en die VSA se besluit om sy vlugtelingkwota vir wit Suid-Afrikaners te verhoog.
NO US AT G20 SUMMIT IN SOUTH AFRICA: Donald Trump has announced that "no US government official will attend" #G20SouthAfrica, citing his tired and widely discredited allegations that "Afrikaners (People Descended from Dutch Settlers, as well as French and German immigrants) are… pic.twitter.com/zMZmUbB7JQ
— Prof Jonathan Moyo (@ProfJNMoyo) November 8, 2025
Ramaphosa het die boikot as “hulle verlies” beskryf en gesê die beraad sal voortgaan “met of sonder die VSA”. Volgens hom is dit ’n verspeelde kans vir Amerika om saam te werk aan ’n meer regverdige globale ekonomie.
If the #G20 is going to live up to its mission to tackle pressing global economic and financial issues, then it needs to significantly and urgently reduce inequality.
🔗 https://t.co/56ebxI4rJV#G20SouthAfrica 🇿🇦 pic.twitter.com/dCJ155XUdQ
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) November 10, 2025
Die Departement van Internasionale Betrekkinge het Trump se beskuldigings oor “wit vervolging” as ongegrond beskryf. “Misdaad raak alle Suid-Afrikaners, ongeag ras,” het die departement vroeër in verklarings gesê. “Daar is geen bewyse van sistematiese diskriminasie teen wit boere nie.”
Binne die Afrikanergemeenskap is daar uiteenlopende reaksies teenoor Trump se uitsprake. Baie kommentators het dit beskryf as “gevaarlike verdraaiings” wat verdeeldheid saai. Die vakbond Solidariteit wil egter die geleentheid gebruik om die wêreld se oë te vestig op wat hulle as die land se “rasmal wette” beskou.
Ons sal nie gesensor word nie!
Die wêreld móét weet; raak deel om rassewette te stop:https://t.co/9vd1zgli6h pic.twitter.com/8q5KgcZGZi
— Solidariteit (@solidariteit) November 12, 2025
Die Afrika-Unie het Amerika se boikot as “ongelukkig” beskryf, maar benadruk dat die beraad steeds ’n historiese mylpaal vir die vasteland is. Ander groot moondhede soos China en Rusland sal wel verteenwoordig wees, hoewel president Xi Jinping deur sy premier, Li Qiang, afgevaardig word.
Waarnemers waarsku dat die VSA se afwesigheid besluite oor ekonomie, klimaatsfinansiering en skuldverligting vir ontwikkelende lande kan bemoeilik. Die VSA bly die wêreld se grootste ekonomie en huisves volgende jaar die 2026-G20-beraad in Miami.
Ten spyte van spanning oor Trump se boikot word die Johannesburg-beraad as ’n toets vir Afrika se invloed beskou. Met sy rykdom aan minerale en ’n jong bevolking wil die vasteland sy plek in globale besluitneming bevestig.
Ramaphosa het dit só opgesom: “Selfs al bly party leiers weg, sal die wêreld moet erken dat Afrika nie meer net ’n toeskouer is nie.”
Die beraad van 22 tot 23 November sal waarskynlik nie groot deurbraakbesluite oplewer nie, veral sonder die VSA se deelname. Tog bly dit ’n mylpaal vir Afrika, wat die vasteland se stem in globale ekonomiese en klimaatsake versterk. Johannesburg se rol as gasheer bied ’n unieke geleentheid om die stad en land se potensiaal te wys, selfs te midde van plaaslike kritiek en internasionale spanning.
