Onsekerheid oor sonkragregistrasie laat huishoudings in die duister

  • 0

Duisende Suid-Afrikaanse huishoudings met sonkraginstallasies bevind hul tans in ’n toestand van onsekerheid ná dreigemente van Eskom en verskeie munisipaliteite dat boetes of selfs kragontkoppelings kan volg indien sonkraginstallasies nie by Eskom of hul plaaslike munisipaliteit geregistreer is nie.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) beskryf hierdie optrede as onprakties, irrasioneel en onregverdig.

Die kern van die ontevredenheid lê by huishoudings wat sonkragstelsels gebruik wat nie elektrisiteit terugvoer in die netwerk nie, maar slegs hul eie verbruik aanvul of verminder. Volgens Outa behoort sulke installasies, mits dit veilig en wettig is, nie onderhewig te wees aan verpligte registrasie of voorafgoedkeuring deur Eskom of munisipaliteite nie.

Huiseienaars wat sonpanele geïnstalleer het, doen dit meestal om minder afhanklik van Eskom te wees en om hul elektrisiteitskoste te verlaag. Die nuwe druk om selfs veilige installasies wat aan die nodige vereistes voldoen te registreer het egter verwarring en angs veroorsaak. Outa wys daarop dat Eskom en munisipaliteite se vereistes dikwels verander, wat tot projekvertragings en onsekerheid by installeerders, finansierders en versekeraars lei.

Outa sê in ’n verklaring hulle het die afgelope weke ’n vlaag navrae ontvang van ontstelde huiseienaars, installeerders van sonpanele, finansieringsinstellings en versekeraars ná intimiderende kommunikasie, onder meer van die Stad Johannesburg, waarin registrasie van SSEG-stelsels onder 100 kW geëis word, selfs waar geen terugvoer na die netwerk plaasvind nie.

Die onsekerheid het domino-effekte: sonkragprojekte word vertraag, finansieringsinstellings huiwer om lenings toe te staan, en versekeraars is terughoudend wat dekking betref. Outa waarsku dat sulke besluite kortsigtig is en verantwoordelike verbruikers benadeel. Hulle moedig huishoudings aan om alternatiewe finansierders en versekeraars te soek wat bereid is om veilige installasies te ondersteun mits daar ’n geldige Sertifikaat van Nakoming (CoC) deur ’n geregistreerde elektrisiën is.

“Wat hier op die spel is, is die regte van burgers wat reeds groot persoonlike uitgawes aangegaan het om hulself teen hoë elektrisiteitspryse en ’n onbetroubare kragvoorsiening te beskerm,” sê Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage. Hy wys daarop dat Eskom en die regering self oor jare verbruikers aangemoedig het om alternatiewe energiebronne te gebruik om druk op die netwerk te verlig.

Munisipaliteite soos Johannesburg het reeds begin om verbruikers met sonkrag te dwing om van voorafbetaalde na posbetaalde meters oor te skakel, wat hoër vaste kostes meebring. Kritici meen dit is ’n doelbewuste poging om sonkraggebruikers te teiken. Energiekenner Chris Yelland het ook daarop gewys dat Eskom waarskynlik nie die reg het om verbruikers af te sny of te beboet bloot omdat hulle nie registreer nie. Hy beklemtoon dat veiligheid “agter die meter” die verantwoordelikheid van gekwalifiseerde elektrisiëns is, nie van Eskom nie.

Volgens wetgewing (insluitend die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid en die SANS 10142-1-standaard) moet alle elektriese installasies, ook sonkrag-PV-stelsels, aan streng veiligheidsvereistes voldoen. Outa voer aan dat dit die enigste geldige veiligheidsmeganisme vir installasies “agter die meter” is, en nie administratiewe registrasie by Eskom of munisipaliteite nie.

Intussen het Eskom self in onlangse mediaverklarings sy standpunt versag. In ’n onderhoud op The money show het Kevin Pillay, Eskom se hoofbestuurder vir verspreiding in die sentrale en oostelike streek, bevestig dat Eskom tans nie boetes oplê of klante afskakel wat hul sonkragstelsels nie registreer nie. Volgens hom word ongeregistreerde SSEG’s op hierdie stadium nie as onwettig beskou nie.

Outa vergelyk die huidige situasie met die e-tol-debakel en waarsku dat administratiewe afdwinging sonder openbare aanvaarding en duidelike regsgrondslae tot mislukking gedoem is. Die organisasie sê hy sal voortgaan om saam met regsadviseurs en ander belanghebbendes op te tree om huishoudings teen onredelike en moontlik onwettige optrede te beskerm.

Vir nou bly die boodskap aan sonkraggebruikers: As jou stelsel veilig is, voldoen aan wetlike standaarde en indien jy jou elektrisiteitsrekening betaal, moet jy nie deur dreigemente geïntimideer word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top