President Cyril Ramaphosa lewer vanaand (12 Februarie) om 19:00 sy 2026-staatsrede (Sona) in die Kaapstadse stadsaal tydens ’n geleentheid wat nie net die amptelike opening van die parlementêre jaar inlui nie, maar ook die politieke toon vir ’n verkiesingsjaar, met die komende plaaslikeregeringsverkiesings, sal aangee.
President @CyrilRamaphosa will tomorrow, 12 February 2026, deliver the State of the Nation Address (SONA) to a Joint Sitting of the National Assembly and the National Council of Provinces (NCOP), at the Cape Town City Hall. https://t.co/DbdcWwdpgq#SONA2026… pic.twitter.com/8J4tb7AfW8
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) February 11, 2026
Met byna 500 parlementslede, verteenwoordigers van provinsiale en plaaslike regerings, leiers van die regbank, voormalige presidente en ander genooides wat na verwagting die gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies sal bywoon, is alle oë op Ramaphosa gerig. Volgens die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, is die parlement “ten volle gereed” vir een van die belangrikste geleenthede op die land se grondwetlike kalender.
#SONA2026 🇿🇦 pic.twitter.com/tUL94uRbP4
— ATHI GELEBA 🇿🇦 (@AthiGeleba) February 11, 2026
Didiza het Woensdag tydens ’n mediakonferensie beklemtoon dat Sona die “hoogste formele uitdrukking van uitvoerende aanspreeklikheid” aan die parlement en die publiek is. Dit is die oomblik wanneer die president terugvoer gee oor vordering sedert die vorige toespraak en die regering se prioriteite vir die komende jaar uiteensit. Hierdie prioriteite dien later as maatstaf vir parlementêre toesig, wetgewing en begrotingtoewysings.
Teen die agtergrond van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) het die DA reeds sy verwagtings duidelik uitgespel. In ’n verklaring deur Karabo Khakhau en Jan de Villiers sê die party dat die tyd vir “planne en voorstelle” verby is en dat konkrete hervormings nou nodig is.
Die DA dring onder meer aan op ’n hersiening en vervanging van swart ekonomiese bemagtiging, met die argument dat buitelandse beleggers afgeskrik word deur eienaarskapvereistes. Verder eis die party dat Transnet se monopolie beëindig word deur hawens en spoorlyne onmiddellik vir private operateurs oop te stel. Volgens die DA lei logistieke mislukkings tot miljoene rande se verliese, veral in die landbousektor, waar vrugte en varsprodukte by hawens vrot.
Ander kernvereistes sluit in die onmiddellike verbod op kaderontplooiing, die devolusie van polisiëringsbevoegdhede na bevoegde plaaslike regerings, groter persoonlike aanspreeklikheid vir munisipale rekenpligtige beamptes by die vermorsing van water- en elektrisiteitsinkomste, en die voortsetting van Eskom se ontbondelingsproses, asook groter privaat deelname aan die kragnetwerk.
Die DA waarsku ook teen die aankondiging van “werksvernietigende programme” soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die voorgestelde Transformasiefonds, wat volgens hulle ekonomiese groei kan knou.
Terselfdertyd hou die party vol dat die RNE reeds positiewe tekens toon met ’n sterker rand, Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys, laer inflasie, belowende beleggingsvooruitsigte en stabiliserende staatskuld. Tog meen hulle dat veel meer nodig is om werklike groei en werkskepping te ontsluit.
Die staatsrede is nie bloot ’n politieke toespraak nie, maar ’n staatsgeleentheid met simboliese gewig. Die verrigtinge begin reeds om 17:00 met die rooitapytseremonie, waar die President deur ’n erewag verwelkom word. Dit word gevolg deur ’n kanonsaluut van 21 skote en ’n verbyvlug deur die Suid-Afrikaanse Lugmag, terwyl lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag langs die roete aantree. ’n Militêre erewag en militêre orkes neem ook deel.
Hierdie jaar se Sona val saam met die 30ste herdenking van die Grondwet se aanvaarding in 1996, asook die 50ste herdenking van die Soweto-opstand op 16 Junie 1976. Didiza het gesê hierdie mylpale vra vir besinning oor Suid-Afrika se demokratiese reis en hernuwing van die waardes van waardigheid, gelykheid, vryheid en aanspreeklikheid.
Hoewel die presiese koste van vanjaar se Sona nog nie amptelik bekendgemaak is nie, beloop die uitgawe vir die geleentheid tradisioneel etlike miljoene rand, wat sekuriteit, logistiek voor en tydens die seremonie en uitsaairegte insluit. In ’n tyd van fiskale druk en besnoeiings in openbare besteding word die koste van die rooitapyt- en militêre vertoon dikwels aan openbare debat onderwerp.
Die politieke nuuswaardigheid van vanjaar se toespraak lê egter nie net in die seremonie nie, maar in die inhoud. Met plaaslike verkiesings op hande en die brose balans binne die RNE sal Ramaphosa se boodskap waarskynlik gefokus wees op ekonomiese herstel, werkskepping, energie- en watersekerheid, misdaadbekamping en die versterking van staatsinstellings.
Die toespraak sal ook dien as brug na die komende begroting, waar die Minister van Finansies die finansiële implikasies van die aangekondigde prioriteite moet uitspel. Die parlement sal daarna deur komitees en debatte toesien dat die uitvoerende gesag rekenskap gee van die beloftes wat tydens vanjaar se staatsrede gemaak word.
Vir baie Suid-Afrikaners is die vraag eenvoudig: Sal 2026 se Sona nuwe retoriek bring of tasbare hervormings? Vanaand se toespraak kan bepalend wees vir die politieke momentum van ’n jaar waarin kiesers weer hul oordeel by die stembus sal vel.

