Leo Brent Bozell III, die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het die afgelope week sy geloofsbriewe oorhandig en daarmee sy aanstelling amptelik bevestig.
Sy eerste openbare optrede het ’n merkbare verskuiwing in toon getoon vergeleke met vorige uitsprake. Waar hy tydens sy bevestigingsverhoor in Washington verlede jaar skerp kritiek op Suid-Afrika uitgespreek het, het hy nou ’n boodskap van optimisme en samewerking gebring.
Bozell, ’n konserwatiewe kommentator en lid van ’n invloedryke Amerikaanse familie, het in Oktober 2025 gewaarsku teen korrupsie, misdaad en Pretoria se bande met lande soos Rusland en China. Hy het selfs Trump se uitnodiging aan Afrikaners wat “onregverdige rassediskriminasie” ervaar, herhaal. Nou, in Pretoria, praat hy van “gedeelde demokratiese ideale” en die potensiaal vir groei en stabiliteit deur samewerking.
Honored to present a copy of my Letters of Credence @DIRCO_ZA today. I’m eager to begin this chapter in strengthening the U.S.–South Africa partnership.
I look forward to advancing U.S. priorities that build a safer, stronger, and more prosperous America, grounded in American… pic.twitter.com/Mwk9cLNAU9
— U.S. Ambassador to the Republic of South Africa (@USAmbRSA) February 23, 2026
In ’n video wat die Amerikaanse ambassade in Pretoria versprei het, het Bozell beklemtoon dat hy ’n “vennootskap wil bou wat gedeelde waardes verhoog en die bande tussen ons volke versterk”. Hy het verwys na die meer as 500 Amerikaanse maatskappye wat reeds in Suid-Afrika belê en die duisende Amerikaners wat hier woon en werk.
Hy het verder gepraat van “samewerking waar ons belange ooreenstem” en die bevordering van “vryheid, billikheid en die oppergesag van die reg”.
Hierdie boodskap staan in skrille kontras met sy uitlatings tydens sy Senaatsverhoor in Oktober, toe hy sterk klem gelê het op Amerikaanse besware oor Suid-Afrika se buitelandse beleid, sy saak teen Israel by die Internasionale Geregshof en bewerings oor eiendomsreg en veiligheid. Hy het destyds ook verwys na president Donald Trump se kritiek op Suid-Afrika se beweerde afwyking van neutraliteit na nouer bande met Rusland, China en Iran.
Dat Bozell nou ’n meer diplomatiese, optimistiese toon aanslaan, word deur sommige ontleders geïnterpreteer as ’n poging om die verhouding te stabiliseer ná maande van retoriese spanning.
As the United States marks 250 years of independence, I’m reminded that liberty, justice, and human dignity are not just American ideals — they are universal aspirations.
I look forward to honoring that legacy alongside South Africa as we build a safer, stronger, and more… pic.twitter.com/CQTzLMjxnX
— U.S. Ambassador to the Republic of South Africa (@USAmbRSA) February 24, 2026
Ten spyte van die positiewe retoriek bly verhoudings tussen Washington en Pretoria gespanne. Die Amerikaanse regering het herhaaldelik sy kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se standpunt in internasionale konflikte, insluitend die hofsaak teen Israel in Den Haag. Daarby is die kwessie van eiendomsreg en die debat oor onteiening sonder vergoeding steeds ’n struikelblok. Bozell se uitdaging sal wees om ’n balans te vind tussen sy rol as Trump se verteenwoordiger en die noodsaak om praktiese bande met Suid-Afrika te versterk.
Sy aankoms en aanstelling het uiteenlopende reaksies uitgelok. Kritici, veral uit linkse kringe soos die EFF en sekere anti-apartheid-groepe, het vroeër gevra dat sy geloofsbriewe deur president Ramaphosa verwerp word weens sy konserwatiewe agtergrond, historiese teenstand teen sanksies teen apartheid, en vermeende ondersteuning vir “wit volksmoord”-narratiewe. Sommige het hom as “apartheidvriendelik” of regs-ekstremisties beskryf. Die regering het hom egter aanvaar, wat dui op pragmatisme eerder as konfrontasie.
EFF-parlementslid Carl Niehaus het op Facebook gesê die geloofsbriewe van “VSA MAGA-mal en rassistiese wit supremasis, L Brent Bozell III”, moes nooit aanvaar gewees het nie, en hy moes nooit in die land toegelaat gewees het nie.
Aan die ander kant sien ondersteuners en ontleders sy sagter toon as 'n moontlike brugboupoging. Die Daily Maverick noem dit “changing his tune”, en vra of hy die moed sal hê om Trump te vertel daar is geen bewyse van volksmoord teen wit boere nie. Dit kan 'n teken wees dat hy probeer om dialoog te herstel, selfs al bestaan daar steeds kernverskille, soos oor Brics-bande, Israel/Gaza, en handel.
Die kernvraag is of Bozell se meer gematigde toon ’n taktiese skuif is of ’n werklike aanduiding van ’n nuwe fase in die verhouding. As hy daarin slaag om ’n balans te vind tussen Trump se politieke verwagtinge en die diplomatieke realiteite in Pretoria, kan dit die weg vir groter pragmatisme baan.
Today, I was honored to make my first trip to KwaZulu-Natal.
During my visit, I met Consulate Durban’s dedicated staff, as well as representatives from Durban’s business community, to explore KZN’s extraordinary potential and dynamic economy.
Thank you to everyone for the warm… pic.twitter.com/nn88w7l9OY
— U.S. Ambassador to the Republic of South Africa (@USAmbRSA) February 24, 2026
Vir Suid-Afrika is die uitdaging om sy soewereine beleidsrigtings te handhaaf terwyl hy terselfdertyd ekonomiese bande met ’n belangrike handelsvennoot beskerm. Die VSA bly ’n sleutelmark vir uitvoere en ’n belangrike bron van belegging.
Uiteindelik sal Bozell se werklike invloed gemeet word aan dade eerder as woorde: of hy bereid is om die kompleksiteit van Suid-Afrika eerlik aan Washington oor te dra, en of beide lande bereid is om verskille te bestuur sonder om die breër strategiese verhouding in gedrang te bring.
