
Thabo Mbeki deur Ricardo Stuckert/PR (CC BY-SA 4.0), Jacub Zuma deur Jean-Claude Juncker, © European Union, 2026 (CC BY 4.0)
Oh, East is East, and West is West, and never the twain shall meet,
Till Earth and Sky stand presently at God’s great Judgment Seat;
But there is neither East nor West, Border, nor Breed, nor Birth,
When two strong men stand face to face, though they come from the ends of the earth!
Oudpresident Thabo Mbeki is bekend daarvoor dat hy in sy toesprake aanhalings inspan van grootnaamdigters soos Ierland se WB Yeats. My Google-soektog was egter nie behulpsaam daarmee om vas te stel of hy ooit uit die Engelse digter Rudyard Kipling se werk aangehaal het nie.
Heel moontlik het hy; heel moontlik was dit omdat hy homself graag besig gehou het met die tema van die “imperialistiese Weste” en dié se indrukke van die mense van die Ooste en van Afrika. Die gedig “The Ballad of East and West”, waarvan die eerste strofe hier bo aangehaal is, sou in hierdie narratief pas – en spesifiek die openingsreël: “Oh, East is East, and West is West, and never the twain shall meet ...”
Mbeki se opvolger, oudpresident Jacob Zuma, is allesbehalwe die groot liefhebber van klassieke poësie. Wat sy hartsnare roer, is verhale van groot Afrika-vegters, strydkrete van oorlogvoering, en dreunsang oor die sentrale rol in hedendaagse politiek van die simboliek van die masjiengeweer, “Umshini wami!”.
Maar ook hy moes eens kennis neem van die krag van die digterlike stem toe die regter in sy verkragtingsaak uit een van die bekendste gedigte van die einste Kipling aangehaal het. Dit was om ’n sin vir verantwoordelik te kommunikeer aan ’n verdagte wat veronderstel was om ’n ouerlike rol te speel teenoor sy beweerde slagoffer (die dogter van ’n afgestorwe oudkameraad van hom). In stede daarvan het hy onbeskermde seks met haar gehad. Regter Willem van der Merwe se uitspraak sluit toe – in reaksie daarop – die volgende stelling in: “Had Rudyard Kipling known of this case at the time he wrote his poem ‘If’ he might have added the following: ‘And if you can control your body and your sexual urges, then you are a man my son.’”
Bostaande is dalk ’n ietwat omslagtige aanloop tot die punt van hierdie artikel, naamlik die wyse waarop Mbeki en Zuma se paaie tans kruis. Sedert Zuma as’t ware die staatsmag by Mbeki gegryp het – deur as nuwe ANC-president druk op Mbeki uit te oefen om te “bedank” – was hulle verhouding so verwyderd van mekaar soos die ooste van die weste.
Nou vind ons hulle op ’n vreemde wyse (terug?) aan dieselfde kant. Die twee voormalige staatshoofde is betrokke in ’n hofgeding waardeur hulle die onttrekking eis van regter Sisi Khampepe as voorsittende beampte van ’n Waarheid-en-versoeningskommissie-verwante ondersoekpaneel.
Die kommissie, wat in Mei verlede jaar deur pres Ramaphosa aangestel is, moet vasstel of daar politieke inmenging was in die trae vervolgings wat spruit uit die WVK se verhore. Mbeki en Zuma se argument is dat die afgetrede Khampepe se vorige betrokkenheid as ’n kommissaris by die WVK en ook by die Nasionale Vervolgingsgesag ’n bepaalde vooroordeel aandui.
Ramaphosa pleit onskuld, naamlik dat hy nie bewus was van dit wat deur sy voorgangers aangevoer word as ’n diskwalifiseringsfaktor vir Khampepe se aanstelling nie. Die effek van die hofgeding, is ’n verdere vertraging in die afhandeling van sake wat voortspruit uit die WVK se destydse verhore – nou reeds 30 jaar gelede.
Teen hierdie tyd glo slagoffers dat hulle goeie rede het om te verhoed dat die bewering waar is dat die stand van sake die uitvloeisel is van ’n geheime ooreenkoms wat die ANC met die voor-1994 generaals van die land aangegaan het: dat die klem nie op vergelding sal wees nie, maar op vergifnis gegrond op die ontbloting van die waarheid oor menseregtevergype van die verlede.
Die families van byvoorbeeld die Cradock 4 is duidelik nie geneë daarmee nie, en beskou die Mbeki-Zuma-hofsaak as net nóg ’n vertragingstaktiek, soos wat ’n familiewoordvoerder, Lukhanyo Calata, pas weer in ’n radio-onderhoud gesê het. Calata se pa, Fort, is in 1985 saam met Matthew Goniwe, Sparrow Mkhonto and Sicelo Mhlawuli deur die apartheidspolisie ontvoer en op ’n brutale wyse vermoor.
Wat oor die jare sout in die wonde van slagoffers gevryf het, is dat slegs 21 000 mense formeel as slagoffers deur die WVK erken is – en dat ’n skamele R30 000 as kontantvergoeding per slagoffer goedgekeur is. Bystand word egter ook verleen deur studiebeurse vir die kinders van slagoffers, en in sommige gevalle word behuisingsteun gebied, maar tot nou toe het nie alle slagoffers hul vergoeding ontvang nie.
Die byna onheilige samekoms van Mbeki en Zuma, geswore politieke vyande, ofskoon hulle uit dieselfde politieke agtergrond kom, is nie voordelig vir die saak van die slagoffers nie. Wat dit verder tot gevolg het, waarskynlik sonder dat hulle dit voorsien het, is dat dit verder olie op die vuur gooi van gissings dat Zuma moontlik ook ’n informant van die voor-1994 staat was en dat Mbeki in ballingskap verwyderd was van die lyding van die slagoffers.
Dié lyding – en die ontwykende “waarheid” en “versoening” – sal nog vir lank bly spook.
