Oor presidente (2):  Eerder as ’n Motsepe- presidensiële veldtog, wat van ’n Manuel-veldtog?

  • 0

Patrice Motsepe (Foto deur Monika Flueckiger (C) World Economic Forum, BY-SA 2.0) en Trevor Manuel (Foto: International Monetary, Public Domain)

*

Die begrafnisdiens die afgelope naweek van Mosiuoa Lekota, voormalige minister van verdediging van Suid-Afrika, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, asook leier van sy ANC-wegbreekparty Cope, het ’n interessante waarneming tot gevolg.

In die voorste ry van Baie Belangrike Persone was adjunkpresident Paul Mashatile, regs van hom oudpres Thabo Mbeki, en langs Mbeki oudpres Kgalema Motlanthe, wat die presidensiële leisels vir sewe maande vasgehou het nadat Mbeki in 2008 sonder seremonie gedwing is om uit die pos te bedank. Motlanthe moes as’t ware die stoel warm hou vir Jacob Zuma.

Dit is juis as gevolg van die verwydering van Mbeki dat Lekota sy eie rigting ingeslaan het, wég van die ANC wat nou onder beheer van die bedenklike Zuma gestaan het. Gebeure wat op dié magsoorname gevolg het, staan nou in die geskiedenisboeke opgeteken as “staatskaping”, wat ’n verwysing is na hoe Zuma “handel gedryf het” deur staatsbeheer aan die berugte Gupta-broers te “verkwansel”. Uitgebreide getuienis hieroor is voor die Zondo-kommissie na staatskaping gelewer – ironies genoeg is die kommissie deur Zuma ingestel, maar dit natuurlik in opdrag van die land se hoër howe.

Lekota was, soos deur verskeie sprekers by die begrafnis beklemtoon, ’n geswore vyand van korrupsie en bedrog. Dit was uit liefde vir die land, volgens Trevor Manuel, iemand wat hom in die loopgrawe van die interne stryd teen apartheid saam met Lekota bevind het. In later jare sou Manuel as minister van finansies – as deel van Mbeki se kabinet – en die destydse president van die Reserwebank, Tito Mboweni, die drie “TM’s” vorm wat vir ’n ongekende post-1994 ekonomiese oplewing in Suid-Afrika gesorg het. Ook Manuel het bedank ná Mbeki se verwydering.

Waarmee hy en Mbeki egter by Lekota se begrafnis gekonfronteer was, was die nabyheid van Mashatile, wat allerweë beskou word as ’n twyfelagtige politieke figuur in die tradisie van ’n Zuma. Pieter du Toit se 2025-boek oor hom, Dark prince, grawe diep in sy verlede as onder meer deel van wat genoem word die “Alex-mafia”, en in die onlangse verlede was daar vele onthullings in die media oor Mashatile se skynbare liefde vir ’n uitspattige weelderige leefstyl.

Die subtitel van Du Toit se boek deel die leser mee dat dit die verhaal is van Mashatile se “omstrede vordering deur die ANC-rangorde tot op die drempel van die presidensie”. Die kritieke vraag wat die boek stel, is: Behoort Mashatile die volgende president van die land te word?

Mashatile se ondersteuners glo dat die weg vir hom voorberei is om onverhinderd in 2029 sy intrek in die Uniegebou te neem. Selfs met die samestelling van sy ondersteuningspersoneel in sy huidige kantoor is daar tekens gesien dat hy voorberei vir “die kantoor langsaan”. Maar om die skuif te kan maak, is daar eers die hekkie van die ANC se leierskapsverkiesing in 2027 waaroor hy sal moet kan spring. Dit mag moeiliker wees as wat hy hom op hierdie oomblik kan voorstel.

Hoewel geen formele aanduiding tot nog toe bestaan van wie Mashatile se potensiële teenstanders vir die rol kan wees nie – omdat die ANC ’n reël het dat jy nie jou beskikbaarheid aankondig alvorens die benoemingsproses begin het nie – bestaan hardnekkige gerugte oor twee moontlike kandidature. Die byna voorspelbare een is dié van Fikile Mbalula, tans die invloedryke sekretaris-generaal van die party; die ander een is dié van Patrice Motsepe, sakemagnaat, Afrika se sokkerbaas – en, bygesê, swaer van Cyril Ramaphosa.

Motsepe het nog heeltyd ontken dat hy sulke ambisies het – en hy het pas selfs enige kennis ontken van die aanlyn veldtog in sy naam (bekend as #PM27, wat herinner aan Ramaphosa se 2017-veldtog, #CR17), of verbintenis daarmee. Wat van #CR17 onthou word, is dat dermiljoene rande (tot R500 miljoen blykbaar) deur anonieme donateurs vir die veldtog geskenk is. Ramaphosa het hom selfs tot die hof gewend en suksesvol gekeer dat die identiteit van die skenkers bekendgemaak word, want selfs hy – het hy beweer – het geen benul wie die geld bygedra het nie.

’n Mens kan hieruit ’n (kommerwekkende, onrusbarende) afleiding maak, naamlik dat Suid-Afrika gevaar loop om die praktyk aanvaarbaar te maak dat finansiële ondersteuning die uitkoms van partye en presidensiële leiersverkiesings bepaal. Dit is in lank gevestigde demokrasieë, soos Amerika, lánk reeds die gebruik, maar Amerika vier vanjaar reeds 250 jaar, terwyl die Suid-Afrikaanse demokrasie maar 30 jaar bestaan.

Ondersteuners van die gedagte aan ’n Motsepe-presidentskap – sommige uit onverwagse oorde, soos die DA se Helen Zille – hou sy veronderstelde sakevernuf voor én (o, wee) ook sy verwantskap aan Ramaphosa, die sogenaamde stabiliseringsfaktor ná die Zuma-vernietigingsjare.

Wat uit die oog verloor word, is Ramaphosa se eie “geraamtes in die kas”, soos die onafgehandelde kwessie van die miljoene Amerikaanse dollar wat uit sy huis op sy wildsplaas Phala Phala gesteel is, maar waarvoor hy nog nie tot verantwoording geroep is nie. ’n Onafhanklike parlementêre ondersoek hierna, wat bevind het dat hy ’n prima facie-saak het om te antwoord, is deur die ANC-meerderheid in die Nasionale Vergadering verwerp. ’n Ander albatros om sy nek, is sy betrokkenheid by die aanloop tot die Marikana-tragedie in 2012, waartydens 34 stakende mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is.

Oor die veldtog om Motsepe as “natuurlike” opvolger vir Ramaphosa te posisioneer was Manuel ’n stem van rede toe hy pas in ’n onderhoud met die African Renaissance-potgooi gemaan het oor die idee van Motsepe as ’n “messias”. Hy glo net nie in so iets nie. Waaraan ’n moontlike kandidaat gemeet behoort te word, sê hy, is ’n maatstaf wat Mbeki in die verlede voorgehou het: Het sodanige persoon al die vermoë gedemonstreer om deur ’n aantal opsies te werk om ’n spesifieke uitkoms te bereik?

Heelwat van die materiële rykdom wat Motsepe en Ramaphosa (en ook, onder andere, Saki Macozoma, ’n ander ANC-verwante sakeleier) bekom het, is weens geluk, meen Manuel, wat voorsitter is van die versekeringsreus Old Mutual. Maar in watter geval het Motsepe al bewys dat hy dié vermoë het, soos in Mbeki se verwysing uitgespel? vra Manuel. “Ek het dit nog nie gesien nie. Ek wil hom nie oordeel nie, maar ek het dit nog nie gesien nie.”

Wat begrafnisgangers en TV-kykers gesien en gehoor het terwyl hy verlede naweek sy huldeblyk aan Lekota gelewer het, was die soort persoon wat op enige ander dag as ’n kandidaat vir die hoogste pos in die land behoort te kwalifiseer: statig, welsprekend, intelligent ... en skandeloos.

Maar ongelukkig maak die (rasse)politiek in die ANC – uitgespel in sy beleidsuitspraak oor bevordering en bemagtiging, synde “blacks in general and Africans in particular” – die kanse op ’n #TM27-veldtog ’n jammerlik onwaarskynlikheid.

Lees ook:

Oor presidente (1): Mbeki en Zuma se rol in ontwykende soeke na “waarheid” en “versoening” in Suid-Afrika

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top