ANC in beroering oor EFF-aanstelling in Gauteng se provinsiale kabinet

  • 0

Die aanstelling van die Gautengse EFF-leier, Nkululeko Dunga, as LUR vir finansies in die provinsie het ’n politieke storm ontketen wat die ANC se interne verdeeldheid opnuut oop en bloot aan die kaak stel.

Premier Lesufi se besluit om aan die EFF ’n sleutelportefeulje toe te vertrou het nie net die provinsiale koalisiepolitiek op sy kop gedraai nie, maar ook ’n paleisrevolusie binne die ANC veroorsaak wat die party se gesag en strategiese koers bedreig.

Die SAUK berig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (SANCO) in Gauteng het die onmiddellike bedanking van Lesufi geëis oor sy onlangse kabinetskommeling.

Met Dunga nou aan die stuur van Gauteng se tesourie beheer die EFF ’n begroting van sowat R179 miljard. Dit is ’n enorme magsoorname wat die EFF se invloed in die provinsie dramaties vergroot. Lesufi het die stap verdedig as ’n noodsaaklike kompromie om die koalisie te stabiliseer en ’n begrotingskrisis te voorkom. Maar vir baie ANC-lede is dit ’n tree te ver. Die idee dat ’n opposisieparty die finansiële hart van die provinsie bestuur, word as ’n verraad teen die ANC se kernbelange beskou.

Die reaksie binne die ANC was vinnig en fel. Die ANC se Veteraneliga het die aanstelling veroordeel en gewaarsku dat Dunga se rekord in Ekurhuleni, waar hy beweerde finansiële wanbestuur en begrotingsprobleme agtergelaat het, hom ongeskik maak vir die pos. Die ANC Jeugliga het selfs verder gegaan en Lesufi daarvan beskuldig dat hy die ANC se gesag ondermyn en die EFF beloon ten koste van lojale kaders.

Teenoor hierdie kritiek het die ANC se Gautengse provinsiale taakspan die besluit verdedig en dit as ’n pragmatiese stap beskryf om stabiliteit te bring. Hierdie openlike konflik binne die ANC se strukture illustreer die dieper skeuring binne die party, naamlik tussen die veterane en jeugstrukture, wat die tradisionele belange verdedig, teenoor ’n provinsiale leierskap wat desperaat koalisies probeer bestuur.

Die EFF het die aanstelling as ’n oorwinning vir sy strategie beskou. Julius Malema mik reeds lankal daarna om sleutel- finansiële portefeuljes te bekom, en Dunga se posisie in Gauteng is ’n groot stap in daardie rigting. Opposisiepartye soos die DA het die stap as ’n gevaarlike kompromie beskryf wat die ANC se gesag verder erodeer. Politieke ontleders waarsku dat die ANC hiermee ’n gevaarlike presedent skep, omdat dit die EFF toegang tot finansiële mag gee wat uiteindelik tot nadeel van die ANC self sal wees.

Met die munisipale verkiesing aan die einde van die jaar in sig, is die ANC se verdeeldheid ’n groot risiko vir die party. Kiesers wat reeds teleurgesteld is oor dienslewering en korrupsie, kan die interne chaos sien as ’n teken van ’n party wat sy koers verloor het. Die EFF kan hierdie geleentheid gebruik om homself as ’n alternatiewe mag te posisioneer, veral in stedelike gebiede, waar koalisies die norm geword het.

Die vraag is of die ANC hierdie paleisrevolusie kan oorleef sonder om sy nasionale gesag verder te verloor. Lesufi se besluit mag dalk die koalisie in Gauteng tydelik stabiliseer, maar dit het ’n prys: ’n ANC wat intern verdeel is, en ’n EFF wat sterker staan as ooit. Die komende maande sal wys of die ANC sy interne tweedrag kan heel en ’n verenigde front kan bied in die verkiesing, en of hierdie krisis die begin van ’n groter verskuiwing in die Suid-Afrikaanse politieke landskap is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top