President Cyril Ramaphosa sal vandag (Woensdag) die geloofsbriewe van sowat 20 nuwe sendinghoofde in Suid-Afrika ontvang, maar dit is veral die aankoms van die nuwe Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell III, wat die meeste aandag trek te midde van gespanne diplomatieke betrekkinge tussen Pretoria en Washington.
Hoewel afgevaardigdes van lande soos Kuba en verskeie Afrika-nasies volgens ’n verklaring van die presidensie teenwoordig sal wees, sal Bozell waarskynlik die kollig steel.
Die geleentheid vind plaas by die Sefako Makgatho presidensiële gastehuis in Pretoria. Vir baie waarnemers is dit nie sommer net ’n roetineprosedure nie, maar ’n kritieke oomblik in die wankelrige verhouding tussen Pretoria en Washington.
President @CyrilRamaphosa will on Wednesday, 8 April 2026, receive Letters of Credence from Heads of Mission-Designate at a Credentials Ceremony to be held at Sefako Makgatho Presidential Guesthouse in Pretoria.
🔗 https://t.co/VIH27gk3bQ pic.twitter.com/6Stb0VjHSG
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) April 6, 2026
Die diplomatieke klimaat tussen Suid-Afrika en die VSA is tans op sy laagste punt in dekades. Die wrywing spruit hoofsaaklik uit botsende standpunte oor globale konflikte, veral Suid-Afrika se besluit om Israel voor die Internasionale Geregshof (IGH) van volksmoord in Gaza te verkla. Die Trump-administrasie het hierdie skuif openlik gekritiseer en Suid-Afrika daarvan beskuldig dat hy die kant van “teëstanders” kies.
Verder heers daar kommer in Washington oor Suid-Afrika se noue bande met China en Rusland. In reaksie hierop het die VSA reeds gedreig om Suid-Afrika se deelname aan die handelsvoordele van die Agoa-ooreenkoms te hersien, wat miljarde rande se uitvoere in gedrang kan bring.
Die seremonie word ook oorskadu deur die onlangse uitsetting van Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, Ebrahim Rasool. Rasool is in Maart 2025 deur die Trump-administrasie tot persona non grata verklaar en uit die land geskop nadat hy die Amerikaanse regering as “supremacist” bestempel het.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het destyds gesê dat daar “niks is om te bespreek” met ’n diplomaat wat die gasheerland openlik aanval nie. Rasool se opvolger is nog nie amptelik aangestel nie, wat ’n gaping in die diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande laat.
Bozell, ’n bekende konserwatiewe mediabaas en aktivis, het nie juis op ’n stil noot in Suid-Afrika aangekom nie. Hy het homself vinnig in die moeilikheid laat beland as gevolg van sy uitlatings tydens ‘n BizNews-konferensie op Hermanus in Maart.
MEET THE NEW US AMBASSADOR TO SA
The United States has officially sworn in Brent Bozell III as its new lead representative for South Africa. This ends a year where the top job at the American embassy was empty.
Mr Bozell is a well-known conservative who has promised to be firm… pic.twitter.com/tqC3SliDoz
— Business Explainer (@businessXplain) January 9, 2026
Tydens sy toespraak het Bozell die Suid-Afrikaanse regering gekap oor kwessies soos:
- Regstellende aksie (B-BBEE): Hy het sakeleiers aangemoedig om hulself teen hierdie beleid uit te spreek.
- Grondonteiening sonder vergoeding: Hy het gewaarsku dat dit buitelandse beleggers sal afskrik.
- Hofuitsprake: Hy het die Suid-Afrikaanse regstelsel uitgedaag deur te sê hy gee nie om wat die howe sê nie – “Kill the Boer” bly in sy oë haatspraak.
Hierdie uitlatings het daartoe gelei dat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) hom amptelik ontbied het vir ’n teregwysing oor sy “ondiplomatieke” optrede.
Ten spyte van die onstuimigheid beklemtoon kenners soos Kingsley Makhubela, voormalige ambassadeur in Portugal en Kenia, dat hierdie seremonie noodsaaklik is.
“Dit gee Suid-Afrika ’n beter geleentheid om toegang tot hierdie lande te hê deur hul ambassadeurs. Dit is ’n baie belangrike gebeurtenis vir die land om hierdie groot teenwoordigheid van diplomate te hê,” het Makhubela gesê.
Hy het bygevoeg dat die diplomatieke korps ook ’n groot bydrae lewer tot die ekonomie van Tshwane en dat dit Suid-Afrika se vermoë versterk om sy belange op die wêreldverhoog te bevorder.
Vir Ramaphosa is vandag se ontmoeting met Bozell ’n kans om die diplomatieke deure weer oop te dwing. Of Bozell uiteindelik as brugbouer of ’n bron van verdere spanning sal optree, sal die tyd leer. Vir nou sal sy eerste amptelike ontmoeting met Ramaphosa fyn dopgehou word. ’n Enkele handdruk wat moontlik meer sê as duisend diplomatieke woorde.
President Cyril Ramaphosa will this week receive Heads of Mission-Designate from 20 countries including the United States. US Ambassador to South Africa Leo Brent Bozell III had a rocky start after being reprimanded by the Department of International Relations and Cooperation on…
— eNCA (@eNCA) April 7, 2026
Die VSA bly een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote, met samewerking wat strek oor handel, veiligheid en gesondheid. Dit maak die stabilisering van die verhouding ’n prioriteit vir albei lande.

