Suid-Afrika se viering van vryheid: ’n dag van twee soorte liedere

  • 0

Die jaarlikse viering van Vryheidsdag in Suid-Afrika op 27 April – die datum waarop die land se eerste nierassige, demokratiese verkiesing in 1994 herdenk word – bring gewoonlik ’n aantal narratiewe na die oppervlak.

Hierdie narratiewe kook meestal ondergronds en borrel na bo sodra daar ’n geleentheid hom voordoen. Vryheidsdag is een so ’n geleentheid. Openbare uitsprake op dié dag – uit die mond van die staatshoof, in mediaverklarings deur opposisiepartye en in menings wat deur lede van die publiek gelug word – gee dan ’n goeie oorsig van (of insae in) hoeveel vordering gemaak word met die vryheidsverwagtinge wat deur verskillende belangegroepe as voldoende of onvolmaak beskou word.

Niks wat reeds gedoen is of vermag is, is ooit genoeg nie. Dit verstaan die president, Cyril Ramaphosa, volkome. Misdaad, werkloosheid, duur brandstof, bedrog en korrupsie bly boaan die lys klagtes; samesyn wanneer nasionale sportsterre prestasies behaal, bring maar tydelike verligting.

Enkele dae later, wanneer Werkersdag op 1 Mei herdenk word, word ’n verdere geleentheid vir bestekopname gebied – bepaald wat werkskepping en die regte van werkende mense betref. Ook dán word skerp kritiek teen Ramaphosa en sy regering uitgespreek as gevolg van die werkloosheidsyfer wat op nagenoeg 32% in die laaste kwartaal van 2025 gestel is. Die uitgebreide definisie van werkloosheid laat die syfer sowat 10 persentasiepunte hoër, soos ’n kapoet vragmotor, luier.

“Toe vryheid gekom het, was dit nie bloot ’n politieke oorgang nie,” probeer Ramaphosa hoop gee by 2026 se Vryheidsdagvieringe in Bloemfontein. “Dit was ’n morele transformasie – en sentraal daartoe staan ons Grondwet.” Om die vryheidsverwagtinge van werk en ’n beter lewensgehalte te verwesenlik is dus nie ’n keuse nie, maar ’n verpligting. Die gebreke en pleinweg doelbewuste verdraaiing in hoe die verpligting uitgevoer word, veroorsaak egter dat die positiewe dikwels misgekyk word omdat die teenproduktiewe – korrupsie, bedrog, luiheid – prominensie geniet.

Wanneer Ramaphosa sy politieke kompas, Nelson Mandela, uit sy inhuldigingstoespraak in 1994 aanhaal, bevestig hy die staat se verbintenis tot die “morele transformasie”: “Die tyd vir die genesing van wonde het aangebreek. Die oomblik om die gapings wat ons verdeel te oorbrug, is hier,” het Madiba gesê. Skouer moet aan die wiel gesit word, het hy beklemtoon: “Die tyd is nou.”

Maar gewone burgers het lank reeds verby Madiba se eerste twee punte beweeg: Wat hulle betref, het ons die wonde goed laat genees en die verdeeldheid tot ’n gerusstellende mate oorbrug. Om saam te kan bou – die derde punt – moet egter verseker word dat almal toegang het tot byvoorbeeld goeie skole en effektiewe openbare gesondheidsorgfasiliteite. Dit is (nog) nie die geval nie.

Breë swart ekonomiese bemagtiging is veronderstel om een van die boustene te wees, maar ly gebrek weens die eng (en korrupte) toepassing daarvan, wat bots met die oorspronklike bedoeling, soos deur Ramaphosa uitgespel, naamlik dat groot getalle “swart Suid-Afrikaners, vroue en mense met gestremdhede” daardeur deelname aan die ekonomie gewaarborg word. Die groot begunstigdes is egter sogenaamde tenderpreneurs. “Ons werk met sosiale vennote saam om groei te verseker en werk te skep in bedrywe soos die landbou, mynwese, toerisme, vervaardiging, hernubare energie en digitale industrieë,” sê Ramaphosa.

Maar ook hierdie groot waarheid uit sy toespraak: “Waardigheid begin by die mees basiese goed: ’n dak oor jou kop, skoon lopende water, betroubare energie.” En bygesê: “Vryheid sluit die vermoë in om na ’n kliniek te kan gaan wanneer jy siek is, ’n skool vir jou kind en om na omgesien te word op jou oudag.” Dit word deur die Grondwet, wat in Mei 1996 aanvaar is, dus 30 jaar gelede, aan elke landsburger belowe.

Diegene wat die beloftes van vryheid ondermyn, sy dit deur die steel van staatsgeld, ontwrigting van ontwikkelingsprojekte of die vernietiging van staatsinstellings, sal vasgevat word. Groter aandag word ook geskenk aan, en meer hulpbronne word belê in, die uitroei van georganiseerde misdaad, bendebedrywighede, geslagsgebaseerde geweld en ander vorme van geweldsmisdaad, belowe die President. Die regstelsel, polisiediens en vervolgingsgesag word om dieselfde redes “skoongemaak” om vertroue terug te wen.

Dit laat alles by sy gehoor en ander wat oor die televisie, radio of aanlyn na hom luister met die indruk dat hy eerlik is oor die uitdagings wat die land in die gesig staar. Tot hoe ’n mate hy hulle oortuig het dat hy en sy kabinet daadwerklik ’n verskil wil, kan en gaan maak, sal eers met die volgende algemene verkiesing werklik vasgestel kan word (indien nie al met November se verwagte plaaslike verkiesing nie).

Ter aansluiting by positiewe opmerkings wat voor sy spreekbeurt gemaak is deur Gayton Mckenzie, minister van sport, kuns en kultuur, oor die waarde wat die RNE vir die Suid-Afrikaanse demokrasie inhou, ook hierdie onderneming van Ramaphosa: “Die RNE is vasbeslote om inklusiewe groei en werkskepping te bewerkstellig, armoede te verminder en die hoë lewenskoste te takel, asook om ’n kundige, etiese en ontwikkelingstaat te bou.”

Die President het egter self gemeld waarom dié onderneming vir so baie mense tans net na leë beloftes klink: “Gebrekkige waterinfrastruktuur, ineengestorte munisipaliteite en die agteruitgang van [munisipale] dienste, is nie slegs ’n ongerief nie,” sê hy. “Die kwaliteit van mense se daaglikse lewe word regstreeks daardeur geaffekteer.”

En solank as wat dit die geval is – lae lewenskwaliteit weens die hoë voorkoms van verswakte dienslewering – sal jy aanhou om die verskillende narratiewe op Vryheidsdag te hoor: prysliedere oor die vordering wat gemaak is en klaagliedere oor die agteruitgang wat beleef word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top