Die Wes-Kaap is Maandag in chaos gedompel nadat ’n verwoestende storm, gevolg deur ’n koue front, die provinsie getref het.
Bome is ontwortel, dakke is afgewaai, paaie is oorstroom en duisende inwoners is sonder elektrisiteit gelaat. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se oranje vlak 8-waarskuwing – die hoogste vlak vir ontwrigtende weer – bly van krag terwyl die provinsie sukkel om by te hou met die skade.
Die uiterste weerstoestande het reeds tot lewensverlies gelei, massiewe infrastruktuurskade aangerig en die provinsiale regering genoop om alle skole vandag (Dinsdag, 12 Mei) te sluit.
Maandag se weer is gekenmerk deur stormsterkte winde van tussen 90 en 120 km/h wat bome ontwortel en dakke van huise afgeruk het. In ’n tragiese voorval in Kenilworth, Kaapstad, is ’n vroulike passasier dood nadat ’n reuse boom op die motor waarin sy gereis het, neergeval het. Die bestuurder van die voertuig is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem. ’n Soortgelyke voorval is ook in Parow aangemeld, waar ’n motoris beseer is.
#CapeStorm Noordhoek side pic.twitter.com/bKZ47oafwK
— TrafficSA (@TrafficSA) May 11, 2026
In woonbuurte soos Mitchells Plain, Hanover Park en Westridge moes inwoners magteloos toekyk hoe sterk rukwinde die dakke van hul wonings wegwaai. Intussen het vloede informele nedersettings in Khayelitsha, Houtbaai en Lwandle getref, wat honderde mense haweloos gelaat het namate water hul skuilings binnegestroom het.
Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het inwoners op X bedank vir hulle samewerking terwyl opruimingspanne oral in die stad besig was met opruimingwerk
🚨⛈️ STORM UPDATE: Lots of fallen trees and downed power lines across the metro, as well as lots of localised flooding. Various City teams from Parks, Energy and Stormwater are responding methodically to all of them. Many issues have been cleared already.
Please keep on… pic.twitter.com/W2qrOqBA3v
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) May 11, 2026
In die belang van die veiligheid van leerders en opvoeders het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) Maandagmiddag aangekondig dat alle skole in die provinsie vandag (Dinsdag) gesluit sal bly.
Volgens die provinsiale regering is dié besluit geneem ná indringende oorlegpleging met die Provinsiale Rampbestuursentrum en die SAWD. Hoewel die departement se verstekposisie is om skole oop te hou, word die huidige toestande as buitengewoon en gevaarlik beskou. Teen 13:30 Maandagmiddag het 227 skole reeds onafhanklik vir sluiting aansoek gedoen weens bestaande skade of toeganklikheidsprobleme.
“Ons monitor die situasie deurlopend,” lui ’n amptelike verklaring. “Die verwagting is dat skole op Woensdag, 13 Mei, sal heropen, maar dit sal afhang van bygewerkte weerprojeksies.”
The WCED has taken a decision, in the interests of learner & educator safety, to close all schools in the province on Tuesday, 12 May 2026.
For more info, visit https://t.co/IELSc8bO5S. pic.twitter.com/As2XnGjTpo
— WCEDNews (@WCEDnews) May 11, 2026
Die SAWD het ’n uiters seldsame oranje vlak 8-waarskuwing vir ontwrigtende reën uitgereik, wat veral op bergagtige gebiede soos Stellenbosch, Drakenstein en die Breëvallei van toepassing is. Vir hierdie dele word voorspel dat meer as 200 mm reën binne 48 uur kan val, wat die risiko van modderstortings en oorstromings drasties verhoog. Vir Kaapstad en die Weskus geld ’n vlak 6-waarskuwing.
The South African Weather Service (SAWS) has issued an Orange Level 8 weather warning for disruptive rainfall in the Western Cape.
The adverse weather, according to the weather service, is expected to lead to the flooding of roads, bridges and formal and informal settlements,… pic.twitter.com/MYUwWeQ2wJ
— South African Government (@GovernmentZA) May 11, 2026
Weens die omvang van die stormweer wat sedert 4 Mei verskeie dele van die land teister, het die nasionale regering die situasie tot ’n nasionale ramp verklaar. Dit geld vir ses provinsies, waaronder die Wes-, Oos- en Noord-Kaap. Hierdie verklaring maak noodfondse en addisionele hulpbronne beskikbaar om geaffekteerde gemeenskappe by te staan.
Die impak op vervoer en dienste is enorm. Belangrike roetes soos Chapman’s Peak-rylaan is gesluit, terwyl dele van die N1 en R44 deur water en rommel versper word. Duisende inwoners sit tans sonder elektrisiteit nadat bome op kraglyne geval het.
Stads- en provinsiale spanne werk onverpoos om paaie skoon te maak, maar hul werk word bemoeilik deur die aanhoudende reën en gevaarlike werksomstandighede.
⚠️ WEATHER and SERVICE UPDATE ⚠️
The City is currently attending to multiple weather-related incidents across various areas, including flooding, fallen trees, electricity outages, water outages, damaged traffic lights, and roofs blown off due to severe weather conditions. pic.twitter.com/7STgUIDhxS
— City of Cape Town (@CityofCT) May 11, 2026
Owerhede het ’n dringende beroep op die publiek gedoen om binnenshuis te bly. Mense word gewaarsku om
- weg te bly van riviere en laagliggende gebiede
- nie onder groot bome of naby kuslyne te parkeer nie
- enige noodgevalle onmiddellik by die Stad Kaapstad se rampbestuursentrum aan te meld.
Terwyl die Wes-Kaap hom regmaak vir nog ’n dag van gure weer, bly die fokus op die beskerming van lewens en die verskaffing van noodhulp aan diegene wat alles in die storms verloor het.
Weerkenners waarsku dat die tweede koue front nog tot vandag of selfs Woensdag kan voortduur. Plaaslike reënval kan in bergagtige gebiede soos Drakenstein, Stellenbosch, Breedevallei, Witzenberg en Wes-Theewaterskloof tot 200 mm wees in ’n baie kort periode.
