...
Dit sorg vir kopkrap, want as die bewerings teen Mchunu van so ’n ernstige aard was dat Ramaphosa geglo het hy moes uit sy pos verwyder word – op grond van die bewerings – dan laat hy jou wonder waarom dit nie ook ernstig genoeg was om hom af te dank nie.
...
President Cyril Ramaphosa is ’n leier wat hom nooit laat aanjaag nie. En dat hy sy tyd neem om oor kritieke kwessies te besluit deur wyd te beraadslaag – maande lank, en selfs langer – voordat hy optree, is ’n bron van uiterste frustrasie vir sy politieke opponente, kommentators, lede van die publiek en selfs partygenote.
Dit is so anders as sy voorganger, Jacob Zuma, sê hulle – dié het sommer middernagtelike aankondigings oor kabinetskommelings gemaak, en met die voordeel van terugskouiing weet ons dat dit uiteindelik deel was van wat deur politieke wetenskaplikes as “staatskaping” gedefinieer word. Seker die bekendste (én berugste) aanstelling deur Zuma was die bevordering van ’n onbekende Des van Rooyen as minister van finansies in Desember 2015 nadat Nhlanhla Nene uit die pos verwyder is. Selfs voordat Van Rooyen sy sit in die nuwe ministeriële stoel gekry het, het twee “adviseurs” glo al by die kantoor opgedaag en hulself bekendgestel. Die adviseurs sou ontbloot word as “handlangers” van die Gupta-broers met wie Zuma ’n noue band ontwikkel het.
Maar die markte wou hiervan niks weet nie en die rand moes die houe trotseer (dit het meer as 5% se waarde op een dag teen die dollar ingeboet), wat uiteindelik – tesame met politieke druk – vir Zuma gedwing het om sy besluit om te keer: Van Rooyen het toe plekke geruil met Pravin Gordhan, wat op daardie stadium vir die portefeulje samewerkende regering en tradisionele sake verantwoordelik was. Die media het Van Rooyen se kortstondige termyn as finansminister die “Weekend special”-aanstelling gedoop. Sedertdien het sowel hy as Zuma die ANC verlaat, en dien hy nou as ’n LP van Zuma se nuwe MK-party.
Waarop Zuma se werkswyse egter uiteindelik uitgeloop het, was ’n ongekende (ongesonde, ongelooflike) invloed deur sakelui met voorbedagte rade om in staatsbestuur in te meng en toegang tot departemente se begrotingsbesteding te verkry. With a little help from their friend ...
Dit is anders met Ramaphosa, maar klokslag wanneer een van sy ministers aan die verkeerde kant betrap word van wat in die algemeen as die “regte” kant beskou word, word Zuma se styl opgehaal. Ramaphosa laat hom darem nie hierdeur ontsenu nie. Geruime tyd nou al word hy byvoorbeeld voor stok gekry omdat hy maar net nie tot ’n finale besluit oor die kabinetstoekoms van Senzo Mchunu, minister van polisie, kan kom nie. Mchunu is tans op spesiale verlof ná verdoemende getuienis voor die Madlanga-kommissie na korrupsie in die polisiediens. Maar in stede daarvan om hom summier af te dank, het Ramaphosa eerder ’n waarnemende minister, Firoz Cachalia, aangestel.
In die onlangse verlede was ’n ander minister, dié van maatskaplike ontwikkeling, Ramaphosa se achilleshiel. Haar naam is Sisisi Tolashe. Die politieke klagstaat teen haar sluit in dat sy die parlement na bewering sou mislei het oor twee voertuie wat aan die ANC Vroueliga geskenk is en uiteindelik in haar familie se besit beland het; en die aanstelling van ’n huishulp in haar amptelike woning, wie se salaris op die ou einde gehalveer is en die helfte blykbaar in Tolashe se dogter se rekening gedeponeer is. Ook die kontrak van haar departement se direkteur-generaal het die wenkbroue laat lig: Terwyl die kabinet ’n aanstelling vir ’n jaar goedgekeur het, was die termyn op die kontrak as vyf jaar aangedui – sonder dat die Minister ’n behoorlike verduideliking daarvoor kon verskaf. “And so on and so forth,” soos ’n vorige president lief was om te sê.
Die VF Plus was gereed om die President oor die Tolashe-geval te peper in Donderdag se vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering, maar Ramaphosa het kort tevore die onverwagse gedoen deur die Minister in die pad te steek. En nie hoe nie: deur ’n aankondiging wat sy woordvoerder, Vincent Magwenya, aan die media voorgelees het.
Ramaphosa het geweier om redes vir sy stap te verskaf. Dit is mos binne die reg van ’n staatshoof om aanstellings in die kabinet te doen, en ook afdankings, sonder om dit aan enigiemand te verduidelik. “Ek verkies om te volhard met dié konvensie en gebruik,” het hy homself verdedig. Oombliklik was die Mchunu-kwessie ook weer op die tafel, waarop Ramaphosa herhaal het wat hy voorheen al gesê het, naamlik dat hy wag vir die werk van die Madlanga-kommissie om afgehandel te word alvorens hy ’n finale besluit oor Mchunu se ministeriële toekoms sal neem.
Dit sorg vir kopkrap, want as die bewerings teen Mchunu van so ’n ernstige aard was dat Ramaphosa geglo het hy moes uit sy pos verwyder word – op grond van die bewerings – dan laat hy jou wonder waarom dit nie ook ernstig genoeg was om hom af te dank nie. Politieke insig hou politieke lojaliteite – of gedeelde geheime – as ’n moontlike rede vir die President se optrede voor, kompleet asof Ramaphosa en Mchunu vir mekaar gesê het: “Hulle weet nie wat ons weet nie” – en wat hulle twee van mekaar weet, moet uiteraard geheim gehou word. In welke geval dit beter vir Ramaphosa sal wees as Mchunu se toekoms uiteindelik deur die bevindings en aanbevelings van regter Madlanga se verslag bepaal word.
Ten minste het die President nou op ’n manier met Tolashe se afdanking politieke aansien teruggewen – en dit in ’n week waarin hy een van die ergste storms van sy agt jaar lange termyn moet trotseer ná ’n Konstitusionele Hof-uitspraak oor die Phala Phala-skandaal wat hom polities onstabiel gelaat het.

