Meer as ses weke ná die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) op die bendegeteisterde Kaapse Vlakte bly die skote klap, die moorde opstapel en die begrafnisse aanhou.
Wat aanvanklik as ’n baken van hoop vir gemeenskappe soos Mitchells Plain, Manenberg, Delft, Philippi en Gugulethu beskou is, word nou deur kritici beskryf as ’n duur en grotendeels “kosmetiese” operasie sonder tasbare resultate.
Operasie Prosper, wat op 1 April van stapel gestuur is, moes die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersteun met sigbare patrollies, padblokkades en optrede teen bendegeweld, afpersing en dwelmhandel. Hoewel daar aanvanklik van sowat 800 soldate melding gemaak is, meen opposisiepartye dat minder as 250 soldate werklik op die grond ontplooi is.
Vir baie inwoners het die aankoms van militêre konvooie aanvanklik ’n gevoel van verligting gebring. Sommige ouers het vir die eerste keer in maande gevoel hul kinders kan weer buite speel. Maar dié gevoel van veiligheid was kortstondig.
Die afgelope weke is gekenmerk deur verskeie bloedige voorvalle. By die Hazeldene-taxistaanplek in Mitchells Plain is vier mense dood en drie jong kinders in ’n massaskietery gewond. In Delft is ’n ma en haar 12-jarige seun in hul huis doodgeskiet. Skietery vind steeds gereeld helder oordag plaas, dikwels in besige strate en by taxistaanplekke, terwyl bendes klaarblyklik min ontsag vir die soldate toon.
Tragic shooting in Wesbank, Cape Flats: 4 killed, 7yo child wounded in suspected gang violence. #CapeFlats #Wesbank
#GangViolence pic.twitter.com/v7FuNDNTvA— SA NATIONAL TRAFFIC UPDATES (@lnnocent191535) May 17, 2026
Volgens verslae het die aantal moorde in sommige weke selfs toegeneem sedert die weermag se ontplooiing. In een week in April is meer as 48 moorde en 35 pogings tot moord in meer as 60 voorvalle op die Kaapse Vlakte aangemeld.
Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement, Ian Cameron, het op X gesê dat bendegeweld op die Kaapse Vlakte tussen 6 en 12 April 2026 weer skerp opgevlam het, met 48 moorde en 35 pogings tot moord. Hy het die reuse menslike tol beklemtoon, insluitend sewe vroue en 15 kinders wat in kruisvuur beland het (waarvan vier dood is), wat diep trauma en begrafniskoste vir 48 families meebring.
Cameron het uitgevaar teen Operasie Prosper en gesê dit lewer weens swak ontwerp en lukrake optrede min resultate op. Hy het die polisie se intelligensie beskryf as 'n “ramp” wat lei tot klopjagte op die verkeerde huise terwyl bendeleiers vrygelaat word. Volgens hom misluk die gesentraliseerde polisiëringsmodel, en moet polisiëringsmagte dringend na die plaaslike en provinsiale regering afgewentel word om bende- en wapennetwerke doeltreffend te vernietig.
For the period 6 to 12 April 2026, gang violence across the Cape Flats escalated again. There were 48 murders and 35 attempted murders across more than 60 separate incidents. The previous week recorded 36 murders and 47 attempted murders.
So murders increased sharply, while… pic.twitter.com/QCGsjpcDVv
— Ian Cameron (@IanCameron23) April 13, 2026
Die DA eis nou dat polisiebestuur voor ’n provinsiale staande komitee verskyn om te verduidelik waarom gemeenskappe steeds sterf terwyl miljoene rand aan die operasie bestee word.
Die DA wys ook op ernstige hulpbrontekorte binne die SAPD. In Mitchells Plain alleen is talle patrollie- en speurvoertuie glo buite werking. Kritici meen dit beteken dat selfs wanneer die weermag ’n gebied tydelik stabiliseer, die polisie nie die kapasiteit het om misdade behoorlik te ondersoek of bendeleiers vas te trek nie.
Kenners en gemeenskapsorganisasies waarsku intussen dat “meer voete op die grond” nie die wortels van bendegeweld aanspreek nie.
Parliament’s Police Portfolio Committee Chair Ian Cameron is calling for urgent attention to be given to some police stations on the Cape Flats. https://t.co/ssWHJi8uK6
— Eyewitness News (@ewnupdates) May 15, 2026
Die Wes-Kaapse regering het in ’n onlangse persverklaring sy kommer uitgespreek oor die stygende moordsyfers op die Kaapse Vlakte, ten spyte van die weermag se teenwoordigheid onder Operasie Prosper. In die verklaring word gewys op die ernstige tekort aan betroubare misdaadintelligensie en die lae sukseskoers met die vervolging van bendeleiers. Die provinsiale owerheid beklemtoon dat die huidige gesentraliseerde polisiëringsmodel misluk en eis dat polisiëringsmagte na bekwame plaaslike en provinsiale regerings afgewentel word om bende- en vuurwapennetwerke effektief af te breek.
Gemeenskapsgroepe soos plaaslike Community Policing Forums en die Western Cape Anti-Gang Unit deel dié frustrasie. Hulle dring aan op intelligensiegedrewe polisiëring, beter speurwerk, die arrestasie van hoëprofielbendeleiers en groter investering in jeugprogramme en werkskepping.
Die nasionale regering en ANC verdedig egter die ontplooiing as ’n noodsaaklike stap om “abnormale” misdaadvlakke te stabiliseer. SANW-woordvoerder Siphiwe Mathebula het vroeër gesê dit is nog te vroeg om die sukses van die operasie te beoordeel en dat die ware impak eers oor maande in misdaadstatistieke sigbaar sal wees.
If SAPS is under such pressure that the SANDF is needed to help stabilise parts of the Cape Flats, then the conversation around policing powers at local level can no longer be ignored.
The time has come to give the City of Cape Town Metro investigative powers and forensic… pic.twitter.com/KsKSDUuye2
— Ian Cameron (@IanCameron23) April 2, 2026
Amptelike syfers toon wel dat sowat 23 vuurwapens, ammunisie en selfs ’n handgranaat reeds gekonfiskeer is, saam met honderde arrestasies vir dwelms en ander misdade. Tog erken selfs ondersteuners van die operasie dat die impak op moordsyfers tot dusver minimaal is.
Hoewel die weermag se mandaat tot April 2027 strek, groei die wanhoop op die Kaapse Vlakte. Vir duisende inwoners bly hoop ’n luukse en vrees ’n daaglikse werklikheid. Sodra die militêre konvooie verdwyn, begin die geweervuur dikwels weer van vooraf.
